Die Afrikaanse Forum

Die Klaskamer => Taalhulp => Topic started by: PM on January 11, 2013, 02:14:18 PM

Title: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 11, 2013, 02:14:18 PM
Ek plaas die skakel hier van waar hierdie inligting verkry is.  http://af.wikipedia.org/wiki/Intensiewe
Vir die ouens wat beperkte toegang tot die internet het, plaas ek 'n kopie daarvan hier. 

Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe, vroeër bekend as versterkte vorme, is byvoeglike naamwoorde in die versterkende graad. Intensiewe vorme word gebruik om 'n sin trefkrag te gee en die taal op te kikker. 'n Voorbeeld hiervan is brandarm, wat baie arm beteken. In Afrikaans word intensiewe vorme altyd vas (as een woord) geskryf, behalwe by wawyd oop, nugter wakker en alom bekend.
Voorbeelde

'n Paar voorbeelde van intensiewe:

    af - morsaf
    alleen - stokalleen, stoksielalleen, moedersielalleen, vingeralleen, doodalleen, sielalleen, stoksielsaligalleen, mensalleen, vroualleen, manalleen
    arm - brandarm, doodarm
    bang - dood(s)bang, vrekbang, skytbang (obseen)
    bedaard - doodbedaard
    bekend - alom bekend, doodbekend, wêreldbekend, wydbekend
    bekommerd - doodbekommerd
    benoud - doodbenoud
    beroemd - wêreldberoemd
    bitter - galbitter, alsembitter, aalwynbitter, alweebitter
    blank - lelieblank, spieëlblank, sneeublank, silwerblank, pêrelblank
    bleek - doodsbleek, wasbleek, fletsbleek [1]
    blind - stokblind, stekelblind
    blink - bottelblink, skitterblink, sweetblink (spiere)
    blond - bottelblond[2], vlasblond [3]
    blou - potblou, erdblou[4], baftablou, hemelsblou[5], blouselblou
    bly - doodbly[6]
    breed - hemelsbreed
    bruin - grondbruin, bergbruin (water;stroom), modderbruin [7], vetbruin [8]
    deur - dwarsdeur
    diep - enkeldiep, kniediep (kniediep in die moeilikheid; kniediep voordag (douvoordag)), pensdiep, skouerdiep
    dig - potdig
    dik - trommeldik, knuppeldik
    dom - aartsdom, eseldom
    donker - pikdonker, stikdonker, nagdonker, oliedonker[9], skemerdonker[10]
    dood - morsdood
    doof - stokdoof, potdoof
    dronk - smoordronk, stomdronk, stormdronk, papdronk, dikdronk, poepdronk (plat), horingdronk[11], duiseldronk, bibberdronk[12]
    droog - kurkdroog, horingdroog, botdroog, tonteldroog
    dun - plankdun, papierdun, flenterdun, ragdun
    duur - peperduur, bitterduur
    eerlik - doodeerlik
    eenvoudig - doodeenvoudig
    ellendig - doodellendig
    ernstig - doodernstig
    flou - stokflou, doodflou
    fris - perdfris
    fyn - haarfyn, ragfyn, piekfyn, flenterfyn
    geduldig - doodgeduldig [13]
    geel - goudgeel, kerriegeel, borriegeel, giggelgeel (skertsend)
    gek - stapelgek
    gelukkig - doodgelukkig, dolgelukkig, sielsgelukkig
    gesond - blakend gesond, kerngesond[14]
    gemaklik - doodgemaklik
    gerus - houtgerus, perdgerus, doodgerus, houtpopgerus
    gewoon - doodgewoon
    gevaarlik - doodsgevaarlik
    gevoelig - fyngevoelig[15]
    glad - spieëlglad, seepglad, botterglad (tong), aalglad, ivoorglad, masjienglad, satynglad, roomglad[16]
    goed - bittergoed, doodgoed
    goedkoop - spotgoedkoop, doodgoedkoop
    graag - dolgraag, bittergraag
    groen - grasgroen, lowergroen, nylgroen [17]
    groot - reusegroot, lewensgroot
    grou - loodgrou
    grys - loodgrys
    hard - kliphard, ysterhard, keihard, keisteenhard, klipsteenhard, staalhard, steenhard, spykerhard, kwashard [18]
    heet - brandheet, snikheet, stikheet, smoorheet, bloedheet
    helder - glashelder, klokhelder, kristalhelder, jenewerhelder, knalhelder, silwerhelder, stroophelder [19], skreeuhelder (kleure)
    honger - hondshonger, doodhonger, skreeuhonger, wolfshonger
    hoog - hemelhoog, toringhoog, helhoog (in spreektaal gebruik)
    jammer - doodjammer
    jonk - bloedjonk, piepjonk
    kaal - poedelnakendkaal [20] (kyk ook na naak)
    klaar - klinkklaar
    klein - piepklein, muisklein, voëltjieklein [21]
    koel - komkommerkoel, doodkoel[22]
    koud - yskoud
    krom - hoepelkrom
    kwaad - smoorkwaad, doodkwaad, booskwaad
    lam - boeglam
    lang - ellelange
    lank - doodlank, lewenslank
    leeg - dolleeg
    lelik - skreeulelik, skreelelik, skulelik, hondlelik, foeilelik, blêrlelik, vreklelik[23]
    lekker - smullekker, watertandlekker, vreklekker, vingerleklekker
    lewendig - springlewendig
    lig - veerlig
    luiters - doodluiters [24]
    maer - brandmaer, biltongmaer (informeel), doodmaer, seningmaer, vrekmaer
    mak - hondmak, skaapmak[25], doodmak[26]
    maklik - doodmaklik, spotmaklik
    min - bloedmin
    mislik - kotsmislik (plat)
    moeg - doodmoeg, stokmoeg
    mooi - beeldskoon, popmooi, prentjiemooi, wondermooi, beeldmooi, blinkmooi, feetjiemooi, poskaartmooi, sprokiesmooi, vrekmooi
    naak (nakend) - poedelnaak (-nakend), spiernaak, splinternakend, moedernaak
    nat - papnat, sopnat, waternat, papsopnat, watersopnat, druipnat
    netjies - kraaknetjies
    nodig - broodnodig, hoognodig
    nugter - doodnugter
    nuut - splinternuut, spiksplinternuut, winkelnuut, kraaknuut [27], blinknuut, gloednuut, vonkelnuut, pronknuwe
    ongelukkig - sielsongelukkig, doodongelukkig
    onnosel - kliponnosel, stomonnosel, domonnosel
    onskuldig - doodonskuldig
    oop - wawyd oop
    oud - stokoud, horingoud, beenoud
    orent - penorent
    pienk - skelpienk [28] knalpienk, skokpienk, skreepienk, skreeupienk, uitkloppienk, felpienk
    raak - doodraak - ('n hou doodraak slaan)
    regop - penregop, kersregop, kiertsregop
    reguit - pylreguit, penreguit, reëlreguit
    rein - hemelrein, engelrein
    rond - koeëlrond
    rooi - bloedrooi, skarlakenrooi, tamatierooi [29], bitterrooi [30], oorlogrooi [31]
    ryk - skatryk, bossiesryk, stinkryk, vrotryk
    ryp - papryp, doodryp (vrugte)
    saai - doodsaai (vervelend)
    saf - papsaf
    sag - papsag, doeksag/doeksaf, satynsag, troetelsag, murgsag, fluweelsagte (stem), katsag [32], engelsag [33]
    seker - doodseker
    sekuur - fynsekuur
    siek - hondsiek, doodsiek[34]
    sindelik - kraaksindelik
    skaam - doodskaam
    skeef - windskeef
    skelm - jakkalsskelm
    skerp - vlymskerp, elsskerp, haarskerp (van foto's gesê), rasperskerp
    skoon - silwerskoon, wonderskoon, beeldskoon, kraakskoon, blinkskoon[35], kristalskoon [36]
    skraal - rietskraal
    slap - papslap
    sleg - daggasleg, vreksleg, vrotsleg, kaksleg (obseen)
    snaaks - skreeusnaaks, skreesnaaks
    snel - blitssnel, bliksemsnel, pylsnel, rasendsnel
    soet - suikersoet, stroopsoet
    sout - pekelsout
    stadig - doodstadig [37]
    sterk - ystersterk, wondersterk, reusesterk, stormsterk (wind), oersterk
    stil - doodstil, tjoepstil, botstil, stokstil, muisstil
    styf - stokstyf, boomstyf (argaïes saam met liggaamsdele/ledemate gebruik), snaarstyf (draad, senuwees, spanning, situasie), kraanstyf [38]
    suinig - vreksuinig, stiksuinig
    suur - asynsuur
    swaar - loodswaar
    swak - kuikenswak, doodswak, hoenderswak
    swart - pikswart, gitswart, pikgitswart, roetswart, koolswart
    toe - bottoe, pottoe
    taai - seningtaai, biltongtaai, hondstaai, karootaai (plant), rateltaai, rubbertaai
    tevrede - doodtevrede
    vaal - asvaal, muisvaal, roetvaal[39]
    vars - neutvars, oondvars, kraakvars, kersvers (of kersvars), douvars, kekkelvars (informeel), tuinvars, seevars, stoomvars (gebak), lentevars (blomme, huis, voorkoms)
    vas - rotsvas, doodvas, bankvas[40]
    veilig - doodveilig
    vererg - doodvererg
    verlief - smoorverlief, doodverlief, dolverlief, malverlief [41]
    vet - blinkvet, spekvet, moddervet
    vinnig - blitsvinnig, helvinnig, kwikvinnig [42]
    vol - stampvol, propvol, barstensvol, tjokvol, tjok-en-blok vol (informeel), boordensvol[43] (ongewoon), skepvol [44], windvol[45]
    vreemd - wildvreemd, wondervreemd
    vriendelik - katvriendelik
    vrot - papvrot
    vry - voëlvry, skotvry
    wakker - nugter wakker, haaswakker
    warm - vuurwarm, gloeiwarm, rooiwarm, skroeiwarm, smoorwarm, snikwarm, stikwarm, witwarm, wreedwarm, helwarm
    weinig - bloedweinig, broodweinig
    wit - spierwit, raapwit, melkwit, krytwit, sneeuwit, wolkwit [46], haelwit [47], meelwit [48]
    wyd - wawyd, wêreldwyd
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 11, 2013, 02:15:48 PM
Laat hierdie intensiewes nou so 'n lekker glimlaggie om die mond:

 dronk - smoordronk, stomdronk, stormdronk, papdronk, dikdronk, poepdronk (plat), horingdronk[11], duiseldronk, bibberdronk[12]
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Aspoestertjie on January 11, 2013, 02:48:54 PM
oortreffende trap
dronk - vloekdronk - heiligdronk  -  gesuip.
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 11, 2013, 02:55:03 PM
Ek ken ook 'n oortreffende trap:

Naar Pienaar Kotze    :icon_biggrin:

 :bootyshake:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Aspoestertjie on January 11, 2013, 03:42:07 PM
Naar ; Pienaar ; Kotze ; Van Brakel



 :mumum:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 11, 2013, 04:00:04 PM
Jy is te slim vir jou "size" juffroutjie.  Moet jy altyd een beter wees?   :icon_biggrin:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Aspoestertjie on January 11, 2013, 05:31:39 PM
Skuus Tannie PM maar dis oupa se skuld.



 :mumum:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 11, 2013, 09:19:40 PM
Ek dink ek moet vir Antie Stienie kry om op Oupa se saak te konsentreer.  Dalk het dit tyd geword dat daar 'n ware boervrou in sy lewe kom om hom 'n bietjie in die bek te ruk. 
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on January 12, 2013, 06:38:32 AM
So waar as waarder - was dit nou wragtag - die beste plan PM.  :notworthy: Lief die plasing. Daar is klomp wat ek nie van geweet het!!
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 12, 2013, 11:15:35 AM
Toe kom Christinna met "onder die prop".  Ek wonder of dit ook iewers kan inpas?
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Aspoestertjie on January 12, 2013, 09:05:07 PM
Oupa seg altoos as Ta so deur die groen verkyker gekyk het wil die grond voor hom nie stilstaan nie dan trap hy elke tweede tree sy eie voet mis.



 :mumum:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on January 12, 2013, 09:42:34 PM
Ja wat, vaaljapie is 'n gevaarlike ding. 

Ek sien Oupa hou maar sy distansie ietwat op 'n afstand. 
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Aspoestertjie on January 13, 2013, 05:40:44 PM
Oups is maar stil, hy se nie baie nie.




 :mumum:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on January 13, 2013, 10:43:34 PM
Dalk sien oupa die gevaar in van die spul rekkergetrektes  :icon_biggrin:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 10, 2015, 05:41:25 PM
Amper 22 000 keer gelees!  Dit wil gedoen word nê!  :icon_study:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 11, 2015, 08:38:40 AM
Om by te voeg:

Lelik - Rondomleleik. Asprislelik, Skoonmalelik.
My skoonsuster is so lelik, as sy innie spieel kyk klap die spieel haar. (Ek dink dis omdat sy reg rondom die spieel staan.)


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 12, 2015, 03:41:36 AM
 :toothy4: :notworthy:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 14, 2015, 10:34:03 AM
Het dit iets te doen met gemiste episodes?
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 17, 2015, 03:26:39 AM
Net hier val ek helemal uit die bus  :toothy4: ??
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 17, 2015, 11:35:20 AM
Ta Raaitjie, Dit is die groot skoonsuster van my wat soggens aan albei kante van die bed opstaan. Wanneer sy voor die TV verby loop mis ek drie episodes van 7de Laan. Ek wou 'n foto van haar plaas maar my kamara het nie genoeg pixels om haar te verewig nie. Sy het mates van 32 - 24 - 33 en dit is net haar linker been. Die poskantoor het vir haar haar eie poskode gegee. Die ander dag het ons by blouberg gaan swem. die volgende oggend tref 'n tsunamie Japan. Ons het ook vreeslik gesukkel om haar uit die water te kry want daar was 'n verliefde walvismannetjie wat haar nie wou laat gaan nie.
Sy koop haar klere by Rent a Tent.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 17, 2015, 01:26:39 PM
 :toothy4:  Is jy nou by Raaitjie? 
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 17, 2015, 11:16:23 PM
Hahahahahaha  :headbang: ek is nou by dankie PM, Naas  :toothy4:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 18, 2015, 09:49:19 AM
Intensiewe vorm sal dus wees:
1 Episode
2 Episodes
3 Episodes

 :love7:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 18, 2015, 10:51:07 AM
Dis altyd snaak hoe teenoorgesteldes mekaar aantrek. My skoonsuster se man is so maer hy moet rondspring onder die stort om nat te word. Gebruik 'n kwart duim tuinslang vir 'n slaapsak. As hy voor 'n wit muur verby stap lyk hy soos 'n bewegende kraak. Soggens drink hy swart koffie sodat hy deur die dag 'n skadu kan gooi. Hy klop nooit aan die deur nie, gly sommer deur die sleutelgat. Ons gebruik sommer sy ou klere as skoenveters.
Maer - maerder - streep?


 :icon_bigsmurf:


Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 20, 2015, 02:29:41 PM
Hou so aan, jy is hard besig om my depressie te verlig.   :icon_cheers:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 21, 2015, 02:34:53 AM
My ouma het gese ek was net skin en bone en iets wat rym met 'alone' Dit was enigste drie Ingelse woorde wat sy geken het in alle gevalle.
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 21, 2015, 08:40:40 AM
Ek wil julle nou 'n storie vertel maar kan nie die engelse woord vir "tire" onthou nie.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 21, 2015, 02:04:59 PM
tire soos moeg en in der dagen sat of tyre soos in buiteband?
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 21, 2015, 05:24:07 PM
Sien ek kan nie eers spel nie. Tyre soos in wielband.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 21, 2015, 09:49:04 PM
Sluit aan by die klub!  Ek kry ook sulke dowwe oomblikke, onthou jy?  :icon_biggrin:
Nou kan jy die storie vertel? 
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 21, 2015, 11:24:08 PM
Plek geboek  :notworthy:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on August 22, 2015, 08:42:47 AM
Dek weet nog nie wat die Engels vir Tyre is nie.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 22, 2015, 09:10:22 AM
As dit iets te doen het met "mall of kintyre" dan is dit skots.   :bootyshake:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on September 29, 2015, 06:12:43 AM
Ek wil nou nie naar wees nie maar ek het vermoede daai tsunami wat jou skoonsus veroorsaak het, die Japanners leer skop en vang het  :icon_biggrin:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on September 29, 2015, 07:45:34 AM
En pypkan. Jong, 'n mens moet nooit iemand vertrou wat met stokkies eet nie.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on September 29, 2015, 07:48:54 AM
Stem saam Naas.  :notworthy:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Jeannedarc on September 29, 2015, 09:38:53 AM
the Scots would be quite agitated in learning their "mull" was converted into a "mall"
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Naas on September 29, 2015, 10:15:16 AM
Baie nuwe woorde ontstaan as 'n verbuiging van bestaande woorde hetsy in dieselfde taal of uit 'n ander Taal.
Interrasant vir my is dat die Afrikaanssprekendes wat nie in SA woon nie (en dit sluit Ta Raaitjie in) lief is vir die taal en dit suiwer hoe. Ek kry 'n e-pos uit Windhoek om toestemming te gee dat my Woeste Willie stories oor Kanaal 7 uitgesaai word. Interresant vir my was dat die skrywer nie praat van 'n App soos ons na die spesialisprogramme op ons handfone verwys nie. Die regte Afrikaanse woord vir application is toepassing. In Engels verkort ons dit na App maar sy verkort eerder die Afr en praat van "toep" vir toepassing. Ek was so beindruk deur die liefde wat sy vir my taal het dat ek regtig sonder om twee keer te dink 'n honger pofadder sal borsvoed.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on September 29, 2015, 11:07:19 AM
Dit is mos WONDERLIKE nuus Naas! Baie geluk en dankie vir pluimpie. Ek knibbel ook maar lekker oor die grensdraad hoor  :icon_bigsmurf:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on August 08, 2016, 06:45:00 PM
Raaitjie, ek het hierdie maniere van oor die besoekers se skouers te loer by jou geleer!  Ha-ha.  LOL
Jy moet die hele draad weer van vooraf lees om te kan verstaan hoe dwalend ons is.  Van Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe tot by poepdronk! 
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Meraai vannie Baai on July 19, 2018, 06:33:28 AM
En as ek nou nie vanmiddag weer gesondig het oor 'n gas se skouer nie, het ek jou plasing hier toetentaal en al gemis. Ons ken van kuier, laat daar nou nie twyfel bestaan nie al is dit soms maande/jare later  :bootyshake:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on July 21, 2018, 05:34:32 PM
En hierdie onderwerp raak nou aan 83 duisend maal gelees.  Wie het gesê die forum is stil?
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on September 21, 2021, 12:35:12 AM
Darem dink ek nie 'n honger pofadder wat behoefte aan melk het sommer sal byt nie.   :dontknow:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: Assie on September 23, 2021, 05:42:45 PM
Oupa se altoos dat 'n slang pik voor hy vreet.

 :mumum:
Title: Re: Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe
Post by: PM on October 03, 2021, 11:11:48 PM
My "toep" is nou stil.  Het ek die dierbaarste vriend gehad wat altyd gevra het:  is jou kadoemsie tjoeps?  Bedoelende, is jou magie vol? Hoe moet ek nou antwoord? 
Ek dink nog steeds nie dit is raadsaam om 'n pofadder te voed nie, honger of nie honger nie!