Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => PM se plek => Topic started by: PM on August 23, 2012, 02:41:37 PM

Title: My Ouma Naas
Post by: PM on August 23, 2012, 02:41:37 PM
proe ek karringmelkbeskuit
maalvleisbolletjies
die geur van gemmerkoekies
of
dadelbroodjies
dan
slaat die verlange my onderstebo
na
my
eie
Ouma Naas
dan mis ek ook vir Hertzog
ek sê vir jou
sy bak vir hom stokflou
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Angelica on August 23, 2012, 04:48:06 PM
Ai, voer jy my nou terug tot doer in Blouberg tot op die 12e verdieping.
Ek kon darem nou die dag saam met Ouma Naas 'n teetjie drink en 'n pannekoek eet.
Ek sal nie vergeet hoe lekker ons gekuier het op daardie balkon nie, Ouma Naas.
Mis die dae.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on August 24, 2012, 08:43:54 AM
Dit was regtig 'n paar vreugdevolle dae. 
Magret het ook geskakel en gevra of sy nie weer kan terugkom nie. 
Ek sal haar seker Maandag sien.  Ons het nou iemand in die kamer, sy kan seker so twee dae 'n week inkom. 
Ek het haar regtig gemis. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Naas on August 24, 2012, 08:54:38 AM
Ouma Naas is baie siek. Het haar by die dokter gehad. Blykbaar is haar longe, die wat nog oor is onder geweldige stress. Sy kan nie meer haar arms oplig nie dan is sy dood moeg. Volgens dokter kan sy nog net inasem maar die uitasem kos baie inspanning.
Die fisio het haar gister gesien maar sy se dat ma nie meer genoeg suurstof inkry om te oefen nie. Sy het vir haar eenvoudige oefeninge gegee om te doen. Julle sal nie glo hoe eenvoudig nie. Sy moet byvoorbeeld haar skouers twee keer heen en weer draai maar sy mag geen oefening doen as iemand nie by haar is nie omdat sy dalk kan flou word van die inspanning.
Dit is nie lekker om my op-en-wakker ma so te sien nie.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on August 24, 2012, 09:50:04 AM
Dit is baie slegte nuus.   :crybaby2:
Naas, gee vir haar 'n liefie en 'n drukkie van my en Hannes af en baie sterkte vir julle. 
Ek weet julle sal haar baie mooi oppas en ek weet ook hoe moeilik dit is.
Hier is vir jou ook 'n stywe drukkie my matertjie. 
Wat van 'n suurstofbottel?  Hoe kan ons help?
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Naas on August 24, 2012, 10:06:06 AM
Suurstof en... en... en... Ons doen wat ons kan. Ek sien my broer Sondag, dan sal ons moet besluit hoe verder. Ma se medies dra nie meer alles nie.
Dankie PM. Ek weet jy en Hannes gee regtig diep om.
Dis maar 'n paadjie wat ons swaar gaan stap. My ma was nog altyd, van kleintyd af, al wat ek en my broer gehad het. Om haar so te sien is nie lekker nie.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on August 24, 2012, 11:07:37 AM
Somtyds staan 'n mens blind voor so 'n situasie.  Jy doen wat jy kan, maar die magteloosheid om iets aan die saak te verander is sekerlik die moeilikste om te hanteer en jy is reg, dit is 'n baie swaar pad.
My mammie het haar laaste jaar in die hospitaal deurgebring, op suurstof.  Sy is in '86 oorlede.  Ek glo vas dat daar vandag klein draagbare botteltjies beskikbaar is en dat sy nie aan 'n bed vasgekluister sal wees nie.
Naas, ons dink aan julle.  Laat weet asseblief wat die oplossing is, ons sal help waar ons kan. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on August 25, 2012, 04:40:27 AM
Ons dink aan julle mater. Drukkie vir ouma Naas. Haar nog net op fotos gesien en sy het sommer diep in my hart gekruip net daar  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on August 25, 2012, 06:20:49 AM
Baie skerp, Ouma Naas.  Sy onthou elke gedig en sêding van haar kinderjare nog.  Dit is net pret om saam met haar te kuier. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Angelica on August 26, 2012, 11:13:48 AM
Ek is sooo bly ek kon 'n paar weke gelede nog met haar kuier oor tee.
Sy was toe baie moeg.
Naas, sterkte vir julle.
Drukkie van my af vir Ouma Naas.

Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Naas on August 26, 2012, 12:14:06 PM
Dankie almal. Ek dra so oor aan haar. drukkies en seenwense...




 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: adele on August 26, 2012, 09:41:05 PM
    'n drukkie sag
  en 'n streelveertjie om haar skouers warm te hou,
mag julle net genade in oorvloed ontvang om haar by te staan.

 :grommit: 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on August 27, 2012, 06:01:07 AM
Ek glo Ouma Naas het nog 'n oorstootdrie in beseringstyd in die mou.  :notworthy:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 02, 2012, 11:56:07 AM
Ek kan nie onthou nie...

My opskrif lieg sommer net.  Ek kan onthou van talle kere dat 'n vuishou die wind uit my menswees geslaan het.  So was dit dan ook vanaand toe Naas met Hannes gepraat het en hom meegedeel het dat Ouma Naas longkanker het en dat sy nie veel langer met ons sal wees nie.  So wreed!   Sommer net so!
Sonder om te dink aan wat dit aan my sal doen en hoe ek daaroor sal voel.  Die naakte waarheid, afgelewer deur 'n posbode!
Soos 'n telegram!
Verskoon tog, dit is nie gemik op iemand nie, dit is net die naakte waarheid wat sy pad na my hart gevind het.  Ek weet ook dat ek al die afgelope tyd vir myself gelieg het.  Ek wou net nie die waarheid in die oë staar nie.  Ek het geweet, maar ek wou dit nie glo nie.  Ek het allerhande verskonings uitgedink om dit "onwerklik" te maak, maar dit is werklik! Daardie dierbare wonderlike mens wat my hart gesteel het, die eerste dag toe ek haar ontmoet het, gaan my nou verlaat! Ek is sprakeloos, maar tog loop my hart oor en my gedagtes werk oortyd. 
Hoekom het sy in my lewe gekom?  Sommer net so om sommer net so weer daaruit geruk te word?
Sou dit nie maar beter gewees het as ek haar nooit ontmoet het nie?  Ja natuurlik sou dit my al hierdie hartseer gespaar het, maar my lewe sou nooit so ryk gewees het nie. 
Ouma Naas, jy het my lewe verryk!  Jy het my soveel ure van plesier en "gate uit geniet" gegee!  Dit was 'n wonderlike voorreg om deel van jou lewe te wees. My liewe oumatjie wat altyd uit haar pad gegaan het om ander te plesier! Soveel gedoen en soveel beteken vir ander! 
Ouma, ek is verpletter, net nog 'n vuishou in my wind, maar weet dat ek en Hannes dankbaar is vir die geleentheid om deel te kon wees van jou lewe.  Al was dit net vir 'n bitter kort rukkiel  EN Ouma, dit is 'n groot voorreg om dit vir jou te kan sê voordat jy huis toe gaan. 
My hart is aan skerwe maar in elke diamandjie wat deur my trane blink, lê 'n wonderlike herinnering aan die saamwees met jou. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on November 05, 2012, 01:39:45 AM
Ek is bly ek het gesit toe ek begin lees  :crybaby2: Naas sal jy asb vir ouma Naas 'n sagte drukkie gee. Ek wens dat ek dit self kon doen. PM drukkie ook vir jou matertjie en almal wat hierdie dierbare mensie lief het  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Ah Willa on November 05, 2012, 09:03:47 AM
Hiers my drukkie ook (((((Drukkie)))))
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 05, 2012, 09:34:29 AM
Ouma Naas het vir Hannes laat belowe hy sal niks vir my sê nie, want sy weet hoe dit my sal ontstel as ek weet.  Dit is my Ouma Naas daardie, dink altyd aan ander. 
Naas het egter lankal vir ons gesê en nou weet ek nie wat moet ek doen nie.  Ek kan haar tog nie onder die indruk laat dat ek van geen sout of water weet nie.  Tog glo ek sy weet ek weet, want ek kan nog nie met haar praat nie.  Daar is hierdie lastige appel in my keel wat my versmoor en ek kan nie tjank en praat gelyk nie.  Kan net nie! Het net mooi niks selfbeheersing nie!

Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Ah Willa on November 06, 2012, 08:44:32 AM
Moenie die trane terug hou nie - dis soms net so geneesend vir die een wat siek is, as die een wat huil oor haar/sy pyn ... God het trane met 'n rede geskep!

Ons dink altyd ons moet sterk staan by iemand wat terminaal siek is - dis nie waar nie!  Hulle het ook nodig om te weet hoe ons voel.  Hulle sal dan die vrymoediheid he om ons te wys hoe hulle werklik voel ...

my lewenspad (ook my beroep) het my tale kere met hierdie hartseer van die lewe laat kruis en ek het geleer om niks terug te hou nie ...  huil en huil eerlik - lag en lag eerlik ... dis belangrik ...

my pa het leukemia gehad - op 55 gesterf ... ek onthou hoe ek en hy nog saam gehuil het oor die diagnose wat so groot skok was , hy was in sy lewe nooit siek nie en toe hy eenkeer siek word, toe is dit 'n doodsdyding.   Maar ons het ook lekker gelag .... soos toe hy gese het hy gaan 'n sportmotor rolstoel kry om my so gou moontlik die preekstoel te kry - trou en klaar - dat hy nie meer oor my oef te worry nie ... ha ha ha - ek had a strink kerels in 'n ry wat wou trou - maar ek wou nie ... en my pa kon so lekker spot .... selfs al was hy in baie pyn .....


yip ... huil ... openlik en eerlik
yip ... lag .... openlik en eerlik

die mens wat siek geword het, is nog net so mens soos ons wat gesond is
die mens het ook nodig om tuis te voel by ons en kan nie as ons skielik nie ons self kan wees nie

 :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 06, 2012, 09:16:41 AM
Dit is so waar wat jy sê Willa.  Ongelukkig is ek nie een wat kan keer nie.  Dit wat in my gedagtes opkom loop by my mond uit en as my hart oorvol is loop dit by my oë uit. 
Soms kruip ek weg omdat ek nie kan voorgee nie en woorde eens gespreek kan nie terug getrek word nie. 

Duisend goedjies dwaal deur my gedagtes.  My mammie het ook longemfiseem gehad en ek was nog te onervare om die pad saam met haar te stap. Eers na haar dood het ek besef dat ek nie daar was vir haar nie.  Sy het soveel vrese en vrae oor die onbekende gehad en ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie.

Nou is Ouma Naas so ver van my af.  Hannes het 'n druk program en ons besef ook dat daar nie 'n manier is om haar hier te kry nie. 'n Mens kan van jou goed gee, maar ek sou verkies om vir haar 'n stukkie van myself te gee.  'n Bietjie van my tyd.  Sy was so mal daaroor as ek haar 'n bietjie met handeroom ingevryf het.  Ek sal nog weer 'n kans kry.  Ek glo ek sal. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on November 08, 2012, 02:16:44 AM
Hier sit ek met oopkraantjank. Ek huil oor almal se seer. Almal se vrese vir die onbekende. Willa jou woorde: God het trane met 'n rede geskep, het my vandag met nuwe moed oor my skandelike emosionele toestand deesdae, weer 'n paar woorde laat griffel. My hart gaan uit na elkeen, spesifiek ons ouma Naas  :love7: :crybaby2:

http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=2256.msg14445;topicseen#msg14445
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 08, 2012, 07:54:13 AM
Dammit!   :icon_biggrin:

Hoekom is ons so skaam oor ons trane? Omdat ons ma's nie sissies grootgemaak het nie!

Het ek ook vloermoere gegooi toe ek 'n kinders was?  Nee, jy sou dit nie waag nie!

Kan ek nou 'n vloermoer gooi?  Nee, want almal sal vir jou lag!

"So what?"
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Ah Willa on November 11, 2012, 05:35:40 PM
Laat die ink 'n sout graffiti teen jou wange uitrol PM - dis wat!  Let them free!!
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on January 25, 2013, 04:27:55 AM
Die laaste twee weke het ons naels gekou oor Ouma Naas.  Die bobbejaan agter die berg het op my voorstoep gespeel en ek was baie benoud.  Gister kon ek darem weer self met haar praat en dit gaan baie beter met haar.
Sy vra ek moet vir julle almal wat aan haar gedink het baie dankie sê, sy waardeer almal se liefde. 
Naas, ons is ook dankbaar dat die ergste spanning vir jou en jou familie nou agter die rug is.  Sterk staan matertjie.  Ons is lief vir julle. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on January 25, 2013, 09:37:30 AM
So so dankbaar saam met julle matertjie. Naas, ons vou julle gesin toe met liefde en omgee. Spesiale drukkie vir Ouma Naas  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on February 26, 2013, 12:54:34 PM
Ouens, more stoot ons die bakkie se neus in die rigting van die Weskaap.  Naas het laat weet dat Ouma Naas longontsteking het en ons het besluit om daarlangs te ry terug Pretoria toe. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: adele on February 26, 2013, 06:22:35 PM
gee seblief 'n bossie vergeet-my-nietjies-woorde en drukkie aan hulle elkeen
ons gebede met julle om veilig te ry  :love7:

 :grommit:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on February 27, 2013, 01:09:48 AM
Sal aan julle dink matertjie. Dra asb ook ons liefde en beterskapwense oor aan ouma Naas en almal daar  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Ans Botha on February 27, 2013, 05:36:40 PM
Groet vir Ouma van die Noordwes.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Fransi on February 28, 2013, 07:59:01 AM
 :hello:

Sterkte en ek hoop sy herstel volkome.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on February 28, 2013, 10:15:10 AM
Baie dankie vir al jul blommetjies, drukkies en omgee vir my Ouma Naas.  Sy sal elk een teen haar hart koester.  Naas sê dit gaan 'n bietjie beter en ons hoop van harte as ons weer skakel vandag sal sy sommer stukke beter wees.  Ek sal julle op hoogte hou.   :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on March 01, 2013, 08:29:30 AM
So dankbaar om te lees dit gaan beter. Ry veilig seblief matertjie!!
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 03, 2013, 04:09:46 PM
Ouma Naas is by die huis en sy sê baie baie dankie vir al julle liefdegroete, blommetjies en drukkies.  Sy waardeer dit baie.  In ruil stuur sy vir julle al die liefde wat sy in haar hart het.  Sy sê dankie dat ons vir haar hande vat, dit maak haar  STERK!
More pak ek en Hannes vir haar 'n groot mandjie lekkernye namens die forum en gaan lewer dit by haar af.  Dan kuier ons nog 'n hond-uit-'n-bos-uit-kuier by haar. 
Naas, vir jou en Elmarie sê ons baie baie dankie dat julle haar so goed versorg.  Baie dankie vir al die opofferings wat julle maak.  Ons weet dit is met liefde, maar ons weet ook dit is nie maklik nie. 

Vir ons is dit regtig 'n groot voorreg om saam te mag kuier.  Ons is tevrede. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on March 03, 2013, 10:39:24 PM
Ekke het 'n strik gevou - in ouma Naas se geliefkoosde kleur, vir die mandjie PM. Gee Naas en Elmarie ook 'n spesiale drukkie van ons almal diekant van die aardbol asb en ook vir jou en Hannes. Ons is bevoorreg om engele in ons lewe te he  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 04, 2013, 06:06:50 PM
Baie dankie Raaitjie.  Daardie strik is die toppunt.  Ons lief jou.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Marius on March 04, 2013, 08:29:52 PM
Treffende gedig!
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 05, 2013, 08:40:33 AM
Dankie Marius.  Dit het begin met sommer 'n lawwigheid wat ontaard het in 'n lang ernstige gesprek. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Naas on March 05, 2013, 10:09:40 AM
Dankie vir almal se liefde en omgee vir Ouma Naas
Pm en Hannes... Julle is Super spesiaal vir die Breytenbach's. Lief julle stukkend.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 05, 2013, 10:25:18 AM
Naas, julle is Super spesiaal vir die Smitte.  Lief julle stinkend!   :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Naas on March 28, 2013, 03:05:01 PM
Net gou 'n deel van wat aangaan.
Ouma Naas is nog in die hospitaal. Al die vriende en familie het haar Sondag kom groet. Die dokter was seker dat sy nie Sondagaand sou maak nie.
Sy is egter nog met ons. Baie swak. kan nie meer haar hand by haar mond kry nie. Daardie hande wat so baie koekies gebak en uitgedeel het is besig om stil te raak.
Ouma is in en uit soverre dit haar bewussyn betref. Sy kan nie meer haar selfoon gebruik nie. Sukkel geweldig om asem te kry. Lewe van morfien en suurstof en is baie swak.
Het ek al gese dat sy baie swak is.
Ek en Elmarie maak beurte om by haar te wees en my niggie kuier ook gereeld 'n tydjie hier. Ouma wil nie alleen wees nie en soek onmiddelik as sy by is waar ons is.
Ek vra dat julle vir haar bid waar sy een van die mooi dae hierdie blyplek vir die permanente een moet verruil.
Laasnag drieuur vra sy ek moet vir haar 'n Psalm lees. Voor ek die Bybel kan oopkry is sy halfpad deur Psalm 23 gesukkel. Toe sy klaar is smeek sy al hortende dat ons Vader haar asseblief nou moet kom haal want sy kan die pyn nie meer verduur nie.
Vanoggend kan niemand aan haar raak nie want sy kry te seer.
Die Here is haar herder deur die dal van doodskadu... Sy vrees geen onheil meer nie...
 :crybaby2:


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: adele on March 28, 2013, 03:27:55 PM
ons kan iemand net vergesel tot by die vlei duskant daardie doodskadu-dal van Ps 23, dan moet ons terugkom as ons Vader so wil he'
sterkte daarmee, Naas en Elmarie en julle ander, julle sal Krag kry, skep soveel jul nodig het, Hy gee dit volop en verniet weg. Ons se' dankie aan Hom vir die vol lewe wat ouma gehad het en vir Sy Genade ...  en as dit nog nie haar dag is nie, dat Hy die pyn gemaklik wegneem en haar vrede en rus gee om eers aan te gaan.

 :grommit:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Gawelina on March 28, 2013, 04:35:55 PM
Baie sterkte. Baie dankie vir die voorreg om haar te kon ontmoet en my lewe so te verryk. Ons dink aan julle.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 28, 2013, 05:13:08 PM
Ons is baie dankbaar dat ons die geleentheid gegun is om haar te groet Naas.  Ons hou julle elke dag styf teen ons harte.  Sterkte vir julle. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on March 30, 2013, 10:01:10 AM
Ek het ouma Naas nog net op fotos gesien en sy het dadelik in my hart gekruip. Sterkte en omgee vir julle almal mater. My hart gaan uit. Ons bid saam!!
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 30, 2013, 12:19:27 PM
Ek is jammer om vir julle te sê dat Ouma Naas nie meer met ons is nie.  Sy is nou by haar Vader.  Verlos van pyn en smart. 
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Gawelina on March 30, 2013, 12:53:08 PM
Ek is so hartseer. Sy was 'n dierbare mensie. Mag ons Vader vir Naas en die familie vertroos en mag die mooi herinneringe hulle dra in die hartseer tyd.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on March 30, 2013, 01:03:30 PM
Dit was 'n wonderlike voorreg om haar te ken.  Ons het die mooiste herinneringe en sal dit koester. Alhoewel dit hartverskeurend is, is ons baie dankbaar dat Ouma Naas van haar pyn en lyding bevry is. Ons sal altyd met liefde en baie laggies aan haar dink.  Sy het vir ons ongelooflik baie nagelaat om aan vas te kleef. 
Dankie aan Naas en Elmarie wat haar tot op die einde onderskraag het. 
Naas ons hou julle styf in ons harte en hoop julle sal krag kry om hierdeur te kom matertjie.  Sterkte.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on March 31, 2013, 08:05:27 AM
Ons innigste simpatie aan Naas, Elmarie en almal wat geraak is deur hierdie liefste ou mensie se afsterwe. Toevoukombersie vir ieder en elk  :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 01, 2018, 05:33:29 PM
Hier sit ek en Hannes nou elkeen met 'n glasie rooiwyn in die hand en kyk hoe sak die son.  Toe praat ons oor mense en hulle dinge en ons praat . . .
Ons praat van rykes, geleerdes, gesienes en ons kom weer tot die slotsom dat eenvoud, opregheid en eerlikheid ver weg die wenner is.  Ons noem 'n voorbeeld:  My ouma Naas.  Ouma Poppie was een van daai. 
Ouma Poppie kon hertzoggies gebak het wat eerste prys wen. 
Sy het vir my (en ek is 'n dik bus) 'n langmourok gebrei wat tot op my voete hang. 
Ek en Hannes bring vandag weer hulde aan 'n pragtige wonderlike mensie - ons ouma Poppie.   :love7:
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: Meraai vannie Baai on November 02, 2018, 03:16:14 AM
Ek het haar (en almal hier) nog nooit persoonlik ontmoet nie maar julle het so diep in my hart gekruip asof ons bloedfamilie is. Ek sal nooit die eerste foto wat ek van ouma Naas gesien het, vergeet nie! Haar persoonlikheid het deur die kiekie gestraal. Lig my glasie saam met jou en Hannes mater.
Title: Re: My Ouma Naas
Post by: PM on November 02, 2018, 07:05:11 PM
Dankie sustertjie, sy was 'n merkwaardige mensie.  Haar vermoe om 'n gedig op te se, so uit haar kop uit, het my stom geslaan.  Sy het net altyd goed gepraat van almal en was so dankbaar vir alles wat almal vir haar gedoen het.   :notworthy: