Die Afrikaanse Forum

Digkuns => Digformules of -strukture => Topic started by: PM on May 01, 2011, 06:54:36 AM

Title: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on May 01, 2011, 06:54:36 AM
Dit is 'n maklike struktuur om te volg.  Die skrywer kan van rym gebruik maak of in vrye vers skryf.  Die skrywer moet 'n gedig skryf waarin hy/sy van al die sintuie gebruik maak. 

Voorbeeld
:

Tsunami.

Ek kon sien
hoe die wind waai
en die golwe priem
om verwoesting te saai.

Ek het gehoor
hoe die wind huil
en hoeveel mense
moes skuil.

Ek het gevoel
hoe die trane
teen my wange
biggel,

toe ek geruik het
hoe die dood
die lewe
gefnuik het.

Ek kon proe,
-soos bitter wyn-
hoe my lag plekmaak,
vir pyn.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Jeannedarc on May 01, 2011, 07:50:09 AM
vyf is die sintuig van passie



Sig
Ek tuur na die foto-gravure
Na die jy daarbinne verskuil
Ek sien die lag-kreukels neffens die oog
Ek sien ook die glinstervonkel van lewe
In die blink van jou oë

Gehoor
Ek spits my oor as ek die voordeur hoor
In afwagting luister ek vir jou diep manlik stem
As jy vir my sê ek is tuis my lief
En die klokkespel
As jy skalkies na my lag

Smaak
As jy my in jou sterk arms omvou
My lippe saggies oopdwing
Spoel die passie van jou kus
In kabbelende jeripigo-nektar stroompies
Oor smaaksensasies van my tong

Gevoel
En as ek my vingers so wulps-speels
Deur jou krullebos vroetel
Wyl ek jou lippe stywer op myn trek
Dan steek daardie vyf-uur stoppelbaard
In heerlik eina-seer teen my lippesag aan

Reuk
Die nagedagtenis van jou naskeer
Vermeng in subtiel sag warreling
Met jou man-man muskus feromoon
In die doolhofpoorte
Van my reuk-kasteel
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Naas on May 02, 2011, 08:33:45 AM
Sielsdief. (Altzheimers)

Die deur se klap
dawer deur sy kop
om in die leë gange
in stille eggo’s te verdwyn.

Haar beeld groei voor sy oë
tot onbekende spook
want haar gister fotos
het verdwyn in wolke mis en rook.

Die soutsmaak van sy treur
as tong sy oor bewend lippe gaan
op soek na vergete soene
se proe in elke traan.

Vreemde walms parfuum slaan vas
in doolhowe van reuk
wyl lang geleë se onthou
sukkel om vergeet te breek.

Haar sagte hand van liefde
paai rillings deur sy lyf,
bring verstroosting en aanvaarding
wat alleenwees tydelik verdryf.


Sintuiglike gedigstruktuur.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on May 03, 2011, 02:56:22 PM
O dit is pragtig Naas.  Die rillings raak trillings!  Baie dankie vir die mooi voorbeeld.   :read:

Natalie,  ek is seker ek het daar in jou eie hoekie komtaar gelewer oor hierdie mooi gedig van jou.  Julle is dorings en vreeslik dankie vir die deel hiervan.  Lief julle stinkend. 
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Gawelina on May 03, 2011, 05:16:36 PM
Ek is absoluut gek na hierdie gedigstruktuur. Dit pas my soos 'n handskoen.  Ek kan nie die spesifieke gedig kry waarna ek nou soek nie en my verlede sintuie het soos mis voor die son verdwyn.  Daarom plaas ek ene wat ek nog nooit voorheen geplaas het nie.  Dis nie die beste nie, maar voldoen aan sintuie.


As jy dalk na my verlang...

As jy dalk na my verlang,
soek my in die wind,
want dis waar ek saggies
jou naam fluister elke aand.

As jy dalk na my verlang,
soek my in die dou
wat op die blomme blink,
want dis my trane wat
op my wange drup vannaand.

As jy dalk na my verlang,
soek my in die aandblom
se soet towergeur,
want dis ons wierook
samesyn elke aand.

As jy dalk na my verlang,
soek my in ‘n beker
warmsoet koffie,
want dit was ons laaste
saamwees daardie aand.

As jy dalk na my verlang,
soek my in ‘n warm druk,
want dit is ons enigste
onthou gevoel vannaand.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Naas on May 03, 2011, 07:26:12 PM
Watwou nie goed nie?
Dit val soet op die tong  :coffee2:
en sag in die oor.    :sleepy2:
Ek sien die liefde     :love10:
en voel die verlang.    :wave:
.............     :dontknow:
Vrek of my neus wil saamspeel. Ek het seker maar verkoue.




 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on May 04, 2011, 08:10:24 AM
Baie mooi!  Werklik,  my hart klop warm vir julle!   :bootyshake:   :hello2: 

Gawie,  ek sal help soek na jou ander gedig.  Ek weet dit was ook pragtig. 
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Trapsoetjie on May 11, 2011, 02:07:19 PM

My liefdes Sintuie
 
Met my neus in jou nek,
laat jy my kriewel.
Musk wat deur my trek,
is ek jou juweel.

Sintuie is skerp opgewerk,
wanneer jy my aanraak,
kan ek voel jy is sterk.
Met vingers wat vermaak.

Wil ek ook jou blik deel
as ek hoor hoe jy my sien.
Met liefde speel.
Gaan my hart jou dien.


 :angel12:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on May 11, 2011, 03:16:46 PM
Heitou!  Hou my vas of ek byt jou!  Mooi trappies.  Ek wag vir nog.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Edelsteentjie on June 12, 2011, 09:32:51 AM
By die lees hiervan kon ek nie help om te glimlag nie. Het in die klas ook aan my leerders verduidelik dat met die skryf van opstelle moet hul sover moontlik die leser se sintuie betrek sodat die leser deel van die ervaring moet wees. Pragtige werk gekry, maar o wee, die paar wat geen taalaanvoeling het nie het gesorg vir aangename lagsessies by die merk daarvan. Onthou, dis boonop in Engels, 'n pre-historiese taal vir die deel van die wereld.

Die geheim hier (dink ek maar) is om die sintuie te betrek sonder dat dit geforseerd voorkom. Hier le ware juwele.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on June 12, 2011, 09:47:00 AM
Dit sal 'n voorreg wees as jy kan help waar jy sien ons trap klei.  Ek probeer my bes om 'n getroue weergawe van 'n struktuur te gee,  maar dit is nie maklik nie.  Boonop is daar soveel kontreversie dat ek ook nie aldag weet of ek Jannie of Sannie is nie.   :icon_biggrin:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Fransi on June 12, 2011, 10:18:09 AM
 :hello:

Dit is voorwaar 'n heerlike digstruktuur! Edelsteentjie is reg, hier is soveel juwele hier.

Ek het 'n soortgelyke een geskryf toe ek standerd nege of matriek was- so bietjie dwangrym dalk.

Tamar:

Sien jy my trane
wat kronkelgroewe loop?
Hoor jy my weeklag-
my snood gansroep?

Sien jy die skeure in my moue?
Ek is van my lang rok gestroop.
Proe jy die soutgrint van as
op my knakhoof gehoop?
Voel jy die spinnewebvlies
van my geskonde eer?
Ruik jy die brandskroeisel
van my besorgde onskuld?

Ja, hoor jy my weeklag-
my snood gansroep?
Ek huil
          rukkend
hurkend
          klowend
die nanag stukkend.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Edelsteentjie on June 12, 2011, 10:56:05 AM
Wow, Fransi! St 9? Dis baie goed, hoor!
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on June 12, 2011, 11:23:36 AM
Wragtag pragtag!  Dit is uitstekend.  Dink julle ook die boek sal arm wees sonder hierdie gedig?

Edelsteentjie,  waar is joune?
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Fransi on June 13, 2011, 09:38:45 AM
 :hello:

Dankie Edelsteentjie en PM. Ek het darem so deur die jare bietjie aan dit geskaaf. :-)

Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on June 13, 2011, 10:19:17 AM
Plesier Fransi. 

Dit gebeur met my ook.  Dit is net asof ek nooit tevrede is met my werk nie.  Wil altyd nog iets verander.   :icon_biggrin:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Fransi on June 13, 2011, 12:58:54 PM
 :hello:

en partykeer vee ek amper 'n hele gedig uit- hou net 'n sinsede of twee vir latere se gebruik.  :icon_biggrin:
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on June 13, 2011, 02:57:29 PM
Dit is seker waar die sintuie-idee vandaan kom.   :icon_biggrin:  Voel dit, sien dit, proe dit en ervaar, anders werk dit nie. 
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Meraai vannie Baai on November 04, 2021, 06:20:47 AM
Een vers geskep met al die sintuie: hoor/proe/voel/sien/ruik

Gesproke woorde
bitter gekrui' 
sny deur vlees; 
illusie of realiteit
van verrotting?

© Meraai vannie baai.


Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: PM on November 04, 2021, 11:43:43 AM
Dit is uitstekend Raaitjie.  Ek wil ook vandag voel, ruik, sien, (is glo 'n sintuig?) ens.
Title: Re: Sintuiglike gedigstruktuur.
Post by: Meraai vannie Baai on November 04, 2021, 11:48:10 AM
Sonder glo is ons verlore mater.