Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on July 22, 2018, 09:01:49 PM

Title: 22 Julie 2018
Post by: adele on July 22, 2018, 09:01:49 PM
Dis Sondagoggend, nog ysigkoud in die Vrystaat.  Ek sit met die Bybel in my hande wat op my skoot rus.  Wat ‘n Boek, vertel die Here my.  Ja, Here, antwoord ek.  Hoe sal jy dit opsom, vra Hy my.  Ek dink aan hierdie Boek, aan die inhoud wat ek al deurgelees het.  En ek wonder, probeer dink aan ‘n paar kort sinne om dit aan ‘n vreemdeling te kan vertel.

Ja, ek ken die verloop daarvan.  Maar om dit aan iemand te vertel?  Die skepping, die geskiedenis van Israel en die lewe van Christus op aarde en daarna die uitdra van sy Evangelie deur die Apostels?  Dan wil ek nog iets invoeg, en nog iets en my gedagtes hardloop heen en weer na alles wat ek uit my kop uit onthou.  Al wat dit my vertel, is dat dit onmoontlik is om in ‘n paar woorde aan iemand te sê waaroor die Bybel gaan.  Behalwe … ja, behalwe oor God se liefde vir ons nietige mense, sy kinders.

Ek blaai verder, lees hier en daar ‘n vers en dink aan die fout wat soveel mense maak. Enkele verse word totaal uit verband geruk ... vir oordeel oor ‘n ander; vir regverdiging om sus of só te leef.  Ja, om God se wet te omseil, sy gebooie skeef te trek en regverdiging te vind vir baie dinge wat, deur ‘n hoofstuk in sy volheid te lees, nooit so kan wees nie.  In kort, bestudeer God se Woord en aanvaar die volheid daarvan.

Ervaar dan die onmeetbare grootheid van die skepping.  Die kleine nietigheid van ons menswees raak my weer.  Ek kan nie uit myself leef nie.  Dis onmoontlik om eers uit myself asem te haal.  Elke deel van my liggaam wat leef, word deur God gelei.  Daarom kan ek my hart en gedagtes met oorgawe aan Hom toevertrou.  Daarom vra ek Hom om my aanmekaar geleenthede te gee om goed te doen, om reg te doen.  En om skeefgetrekte versoekings van my te weerhou.

Gaan dan vandag in met die wete dat jy net ‘n woord hoef te dink, die gedagte om aan ‘n ander goed te doen aan God te moet gee en Hom te vra om jou te lei.  Moenie die kans laat verbygaan nie, maar belangriker, moet dit nie skeef trek nie.  Moenie ‘n ‘goeddoen’ gebruik om aan ‘n ander, of saam met ‘n ander, verkeerd te lewe nie.

Geniet ‘n dag vol waarheid uit die Bybel.  Leef sy Evangelie sodat almal God se groot liefde deur jou kan ervaar.  Volg in Jesus se voetspore, maar laat Hom ook in jou hart leef.  Dink wat Hy sou gedoen het, as Hy namens jou iemand moet help.

Vrede en vreugde vir julle
Title: Re: 22 Julie 2018
Post by: Meraai vannie Baai on July 22, 2018, 11:04:55 PM
Dankie dierbare jy vir die kosbare plasing. Weet jy mater, as ons bybelse riglyne volg selfs vir ons gesondheid sal ons leef en inneem soos wat Hy ons geskape het. Ek is besig om deur 'n boek te werk wat 'n mediese doktertjie geskryf het. Sy vergelyk haar mediese kennis en opleiding met dit wat die Woord vir ons voorhou en ek is telkens verstom oor die wonderwerke wat elke sekond in ons liggaam plaasvind wat Hy reeds duisende jare terug verwoord het vir ons. Wat ons vandag eet, drink en doen het soveel verander dat dit geen wonder is dat soveel ongeneesbare skete en kwale ons paaie kruis.
Title: Re: 22 Julie 2018
Post by: adele on July 23, 2018, 07:48:50 PM
 :love7: drukkie vir jou,Raaitjie