Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Marinda se plek => Topic started by: Marinda Kemp on August 16, 2016, 07:33:36 PM

Title: Tweedeklas burgers: Ella - Deel 1
Post by: Marinda Kemp on August 16, 2016, 07:33:36 PM
Drie uur. Die verwarmer is af, seker weer beurtkrag. ‘n Miswolkie ontsnap met ‘n sug uit Ella mond.

 

Ai, hoekom kan sy nie net een nag deurslaap soos toe sy jonger was nie? Soos toe Edwin nog gelewe het nie. Liewe, dierbare Edwin. Haar ma het altyd vertel dat Edwin van ‘n wolkie gestamp is. Net engele kan soveel goedheid in hulle hê.

 

Dit is ongelooflik koud vanmôre. Gisteraand se weervoorspelling het gesê dit gaan sneeu deur die nag, het seker al. Ella gooi die komberse van haar af en kruip op haar bed tot voor die venster. Sy trek die gordyn weg. Die tuin gooi skaduwees in die maanlig. Geen sneeu. Sulke liegbekke!

 

Ella probeer die koue afweer met haar ou verbleikte kamerjas toe sy toilet toe gaan. Die kamerjas is van handdoekmateriaal gemaak. Veertig jaar gelede het Edwin en die kinders dit vir haar gegee vir moedersdag. Die wolletjies is al afgewerk, op party plekke is die materiaal besig om deur te skif.

 

Sy is so bly Edwin het vir hulle ‘n en suite aangebou toe Rhyna-hulle hier ingetrek het. Ingedagte druk sy die badkamer se skakelaar aan, onthou dan dat die krag af is. Sy handel haar toilet vinnig af om weer in haar warm bed te kom. Iets is nie pluis nie. Dit stem haar onrustig.

 

Die slaap het egter sy wyk geneem. Dit sal beter wees as sy ‘n kers aansteek en haar hekelwerk opneem. Na sy ‘n stukkie gehekel het besef sy wat haar pla. Ella kyk weer deur die venster. Ja werklik, die straatligte brand! Nou hoekom sou hul huis se krag dan af wees?

 

Verergd klim sy weer in die bed en begin weer hekel. Haar suiplap van ’n skoonseun het seker vergeet om die kragrekening te betaal.

 

Haar gedagtes vlieg terug na die jaar voor Edwin oorlede is. Sy hart was gebroke toe hul laatlammetjie Rhyna skool los en met die takhaar voor hulle deur kom staan het. Dave is twintig jaar Rhyna se senior. Hy oorheers haar kind geheel en al. Niks wat sy of Edwin kon sê of doen het hul sestien jarige dogter tot ander insigte bring nie.

 

Edwin was gebroke toe Rhyna en Dave trots kom vertel dat hulle swanger is. Sy het nog altyd gedink net vroue kan swanger raak, maar in die nuwerwetsheid van deesdae raak mans ook verwagtend sodra hulle vroue swanger raak. Kry ook soos vroue kraamverlof … gmf.

 

Nie lank na Rhyna swanger geword het nie, het die twee weer aan hulle deur geklop. Dave het sy werk by die sekuriteitsmaatskappy verloor. Hulle het nie ander heenkome nie. Kan hulle maar in Rhyna se ou kamer bly tot hulle weer op die voete is?

 

Hulle was dan op hulle voete. Dave het nie eens voertuig gehad nie. Haar dogter moes die agt kilometer van die plotte af in donker soggens werk toe stap om betyds te wees. Na werk saans was dit dieselfde storie. Dit het die vent min geskeel dat sy jong vroutjie na sesuur die aand verby twee besige shebeens moes loop om kos op die tafel te hou. Hulle het seker nie gedink sy en Edwin sou uitvind dat Dave in die eerste twee maande na hy hulle dogter hier weggelok het om in sonde met hom saam te lewe, sy werk verloor het nie.

 

Dáár het Edwin se gesondheid nog ‘n knou gekry. Haar engel van ‘n man het voor haar oë weg gekwyn.

 

Dave het gesorg dat daar minimum kontak tussen hulle en hul dogter is. Die predikant en ouderling kon nie hond haaraf maak met die situasie nie. Dave het hulle die miet in die meel gemaak. Dominee Gouws het gesê hulle kan maar net hul dogter aan die hoë Hand opdra en wag dat sy tot ander insigte sal kom.

 

Dave het nooit weer probeer om ‘n werk te kry nie. Na drie jaar bly hulle nog in Rhyna se kamer. Die gastekamer is omskep in ‘n babakamer cum speelkamer vir klein Berion. Arme kind moet nou ook aan die kruis van sy naam dra oor sy oupa se woorde op sy pa se dronkore geval het.

 

Ella demp haar giggel met haar hande en loer na die deur se kant. Net nou word die kinders wakker van haar giggel.

 

Edwin het op Dave se vraag of hulle die kind maar na Edwin kan vernoem, geantwoord: “Carry on.” en met sy hand Dave se suur asem verergd uit sy gesig gewaai. En Dave het gehoor wat Dave dink hy hoor. Niemand stry met ‘n dronkman nie, niemand nie.

 

Berion was die appel van sy oupa se oog. Edwin het selfs vrede gemaak met Dave se werkloosheid en díe se kuiertjies tot die vroeë oggendure by die shebeens. Alles ter wille van sy liefde vir Berion.

 

 

Al wat hy gevra het, was dat die lieplapper van sy dogter ‘n eerbare vrou maak, voor die magistraat natuurlik. Hoe sal hulle God in die oë kan kyk as hulle dogter ewige trou aan ‘n skiewie beloof en dit teen hulle wil. Edwin kon nie so ‘n verbintenis seën nie. En ‘n meer gelowige mens as hy kry mens nie.

 

 

Half sewe toe sy nog nie voetstappe op die houtvloer van die gang hoor nie, besluit Ella om haar dogter te gaan wakker maak. Die buitelander vir wie Rhyna werk het nie genade vir sy werkers nie. Rhyna het al twee waarskuwings weg oor sy laat was vir werk. Al was daar geldige redes en sy hom per SMS laat weet het dat sy laat gaan wees want Berion was siek in beide gevalle.

 

Sy draai die deur se knop maar dit wil nie oop maak nie. Weer probeer sy, haar oog vang die die sleutelgat, geen sleutel nie.

 

Nou waar sou die sleutel dan wees? Ella kyk rond op die vloer of dit nie dalk uit die slot geval het nie. Daar is egter geen spoor van die sleutel op die vloer of op haar bedtafeltjie of spieëlkas nie.

 

“Rhyna!” sy slaan liggies met haar vuis teen die deur.

 

Met haar oor teen die deur probeer sy hoor of iemand die gang af kom. Doodse stilte.

 

Sou die kinders dan so vas slaap?

 

“Rhyna!” die keer hamer sy teen die kamerdeur. “Rhyna! Dave!” niemand antwoord haar nie.

 

Vrees wurg haar as sy bed toe stap om haar selfoon te gebruik. Nou eers sien sy dit is ook weg. Haar trou- en verloofring, asook haar juwelekissie is weg. ‘n Rou snik glip skor uit haar keel toe sy besef hulle is beroof deur die nag.

 

“Liewe Heer laat my kinders net ongeskonde wees. Ek smeek U.” bid sy hardop deur die trane.

 

Hier sal sy moet uit. Sy kan nie hier stilsit en niks doen nie. Niemand sal weet wat met hulle gebeur het nie. Wat sou met die kinders gebeur het? Hoekom antwoord hulle nie? (Vervolg)

©Orange Blue

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie