Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Angelica se plek => Topic started by: Angelica on July 02, 2016, 11:47:24 AM
-
Tuin van Eden
lowergroen klowe en berghange
word één
waar wassagte orgidieë
van ruwe rotswande hang,
water silwerstreep tot waterpoele en
feetjies speel wegkruipertjie onder paddastoele
grootvoete verskeur bas en boom
'n blouvlekkies-hemel flits
deur ‘n boomsambreel
en spatsels rooi op loerievlerke
swiep van tak tot tak
hoog bo in 'n blaredak
van mosbedekte reuse
wat statig en stil met wortelvoete
diep in die aarde ge-anker staan
kalanders, vlier en geelhout tier
hoog op soek na die son se krag
geelgoue strale dartel en dans
en val sagkens deur boomarms
op 'n mat waaruit nuwe lewe beur
na bo
'n bloubokkie los fyn spoortjies
langs 'n beek
afvalblare maak skaars ‘n rimpeling
en seiljag saam met bosbruin water
onder varing deur
muf hang swaar
en die breek van 'n tak weergalm
in die stilte wat mantelrig vou
oor sy bos
slierte mis hang dae lank vaal
en groen verander in 'n benoude grys
wat alle rigting doof
reuse varingblaarvingers dans
op die maat van druppels wat gly
om net weer te plof op 'n bosmat
grootvoete hou rammelend wag
oor byna-vergete bosverhale van
houtkappers en houtreuse
en op die sewende dag het Hy dáár gerus
Sy rug teen 'n skurwebas
en geweet dit was baie goed
©Elsabé
-
Jy voer my mee na werelde anderkant die maan en sterre Elle :notworthy: :icon_salut: :hello2:
-
Dankie, Meraai. Deesdae is daar mos weer 'n ou grootvoet of twee. En dit maak my hart bly. Hulle hoort daar. Nie ons nie.
-
se sommer groot groete vir jou 'muse'. ek hoop hy het sy laaaaank wegbly geniet
skitterend!!. jy som die fluweel sagtheid van die woud soooo mooi op