Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on January 04, 2016, 07:25:20 AM

Title: 2015/2016 Droogte
Post by: adele on January 04, 2016, 07:25:20 AM
In hierdie droogte se knelgrepe
verstil ek my in my wese
en skud ek my hare in die wind,
waai stofdeeltjies soos sterrereën
oor veld se dors en poeiersand heen;
verlepte plantgeraamtes buig neer
met arms en vingers smekend voor ons Heer.
Damme se bodems, onder leë waterstand,
krul in gebakte modderkraaksels op
en vee wat massas moet voed,
beur bulkend teen mekaar
en vertrap kallers wat swak protesteer.
Heilige ibisse vier fees
in die pense van dooie vis
wat langs die vroeëre waterkant vrot
terwyl vinke se kwetter stil raak
en hulle wilgertakneste in wind verwaai.
Dan kniel ek neer, waar lentegroen gras
lammers en ander moes voed,
maar met my knieë nou in die stof…
my gebed is stom, my woorde oorgegee
aan sy Heilige Gees wat dit vorm
en voor God se Troon klank moet gee.

©adéle theron

Title: Re: 2015/2016 Droogte
Post by: PM on January 04, 2016, 05:06:46 PM
Dit is werklik mooi geskryf.  Ek beleef die beelde soos wat jy dit beskryf. 
Dankie vir die deel Adéle.  Mag jou nuwe lewensjaar vol ink en pen wees.
Title: Re: 2015/2016 Droogte
Post by: adele on January 05, 2016, 03:37:30 PM
dankie lief Petra, waardeer jou ondersteuning altyd! stuur tonne groete en 'n drukkie vir Hannes xx
Title: Re: 2015/2016 Droogte
Post by: PM on January 06, 2016, 08:47:20 AM
Die ou was weer in die hospitaal, maar Gerhard bring hom terug vandag, dan gee ek vir hom 'n drukkie en baie liefies van jou af. 
Title: Re: 2015/2016 Droogte
Post by: Fransi on January 08, 2016, 08:13:08 AM
Regtig treffend geskryf. Jou woorde/beelde ruk 'n mens.

PM, ek hoop regtig Hannes voel nou eksie-perfeksie.
Title: Re: 2015/2016 Droogte
Post by: PM on January 22, 2016, 06:54:07 AM
Ander se kommentaar gee my altyd die geleentheid om weer te lees, weer te waardeer. 

Dankie Fransi, die man is weer perdfris, net die ouderdom is besig om sy gang te gaan.