Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Gawelina se plek => Topic started by: Gawelina on December 18, 2015, 07:42:14 AM

Title: Brief aan 'n vriendin
Post by: Gawelina on December 18, 2015, 07:42:14 AM
ek skryf vir jou 'n brief
nie elegante gansveer en koningsblou ink
nie vergulde parkertrepe oor monogramme op duur papier
net haak en stekies van krom penne en wol
wat eindelose hoekoms en waaroms besweer
as almal slaap en geen antwoorde gee

ek is kwaad
vir mense
vir myself
vir die lewe

ek wil vir jou die maan gaan haal
sy veel besproke magiese kragte uitruk
en hom beveel om jou seer weg te vat
of soos zena 'n swaard uitpluk
en K uit ons alfabet verban

dan hoor ek jou lag en praat
sag soos altyd
sonder woorde want joune is afgemeet
daarom haak en steek ek liefde met 'n doodgewone draad
omgeeliefde, vriendinliefde
liefde met net 25 letters

'n brief net vir jou

©Gawelina2015
Title: Re: Brief aan 'n vriendin
Post by: Meraai vannie Baai on December 18, 2015, 08:50:02 AM
Woordloos sit ek hier...  :crybaby2:
Title: Re: Brief aan 'n vriendin
Post by: PM on December 18, 2015, 02:37:58 PM
Pragtig geskryf Gawie.  Dit is lekker om weer van jou mooie skryfwerk te lees.
Ek lag as ek jou stukkie lees en al die "k's" uitlaat. 
Title: Re: Brief aan 'n vriendin
Post by: Ans Botha on January 20, 2016, 09:26:31 AM
Dit is die mooiste brief aan 'n vriendin. Dit laat 'n mens sprakeloos. Een of ander tyd kry ons almal daardie gevoel ek kan my vereenselwig met die gedig.