Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Marinda se plek => Topic started by: Marinda Kemp on November 15, 2015, 05:07:52 AM

Title: Voete op die koffietafel
Post by: Marinda Kemp on November 15, 2015, 05:07:52 AM
Na lank wik en weeg, die hele dag en ook amper die nag, oor wat om te skryf,besluit ek maar om oor gister se gesprek met een van my vriendinne te skryf.

Sy vertel van haar huwelik. Dit gaan op en af, soms meer af as op. Nou klop die ouderdom ook nog aan die deur en dit sorg vir meer affe as oppe.

Haar storie (met haar toestemming, miskien help dit iemand sê sy. Skuilname word gebruik):

Elize het Herman aanbid toe hulle uitgegaan het. Hulle was onafskeidbaar, het al van die derde maand wat hulle uitgaan al gepraat van trou. Sy het geweet die verhouding tussen hom en sy ouers was nie van die beste nie. Dit het nie gepla nie, want mens trou tog met die man wat jy liefhet, nie met sy familie nie.

(Verkeerd, wou ek haar sê: Suster jy trou met sy hele voor-, na- en huidige geslag. Maar my lippe klou aanmekaar asof hulle superglue gesmeer is.)

Soms as Herman haar ‘n dwars antwoord gee, het dit haar tot in haar siel geskok. Haar pa het nooit so bruusk met haar ma gepraat nie. Sy kortaf antwoorde en lyftaal het seergemaak. Sy het dit toe geskryf aan: “Ag dis oor sy ouers druk op hom toe pas om ons verhouding te beïndig.” En dan flikflooi sy maar tot hy weer goed word teenoor haar.

(Ek was toe nie die enigste een wat nie geliefd was by haar skoonfamilie nie. Hoeveel van ons is werklik aanvaarbaar gevind deur ons aanstaande skoonma’s? So raad kon ek nie juis uitdeel nie.)

Nadat hulle getroud is het sy ander verskonings vir haar man se kortgebakenheid met haar gesoek. Dit is die spanning by sy werk.” besluit sy. “Hy werk in ‘n afdeling wat teen sy christelike beginsels indruis. En Sondae moet hy uit die diakensbank sy broers en suster in Christus in die oë kyk en saam met hulle die Here dien in alle eerlikheid en opregtheid, maar deur die week moet hy van hulle geld eis om hulle skuld aan die instansie vir wie hy werk te betaal.

Wetend dat van hulle noustrop trek en op die rand staan om alles te verloor. As hulle nie die betaling kan bybring nie, word hy volgens wet, werk en kontrak verplig om hulle te dagvaar, deur die balju te laat opskryf, insolvente veilings te hou.” Ja, besluit sy dis wat hom so ongeduldig teenoor haar maak en hy sy antwoorde op doodonskuldige vrae vir haar blaf. Sy moet net meer verantwoordelikheid op haar skouers neem hom meer liefdevol en vriendelik by die huis ontvang. Sy pad vir hom gelykmaak. Die wêreld se skerpkante vir hom glad vyl. Al wat hy hoef te doen is om net te ontspan as hy by die huis kom.

(Ja nê? Hy behandel jou soos 'n vloerlap en jy wil hom pamperlang? Tipies geskopte hondjie-sindroom wat jy het Vriendin, maar my lippe bly gezip.)

Nadat die kinders uit die huis is, behalwe hulle jongste seun en toe Herman al afgetree het, het sy bombastiese houding net erger geword. Elke vriendelike groet is met botheid beantwoord, soms geen groet nie. Dit was net erger noudat sy ouer is, want sy kry die gil en skree en blote onbeskoftheid nou in dubbele porsies, wat haar menig maal haar lip laat vasbyt en die trane in haar oë aan allergie of hooikoors laat toeskryf. Want hul jongste appel val nie ver van die vadersboom nie. Hy is soos sy pa gewoond om by die huis sy voete op die koffietafel te sit.

(En jy my vriendin is die gewillige koffietafel wil ek skree, maar die woorde steek vas in my keel.)


Een aand na so ‘n skree-sessie (want onderonsies tussen man en vrou in die privaatheid van hul kamer, word die vrou se tekortkominge luidkeëls verkondig sodat die kinders aan die anderkant van die toe deur en venster tog net moet hoor hoe vol foute hulle ma is en hoe sleg sy is.), breek die dam se wal.

“Waaroor huil jy alweer?” klap Herman die sweep.

“Oor jy my heeltyd met woordbomme peper. Maak nie saak hoe vriendelik, liefdevol en ondersteunend ek teenoor jou is nie.” prewel sy.

“Ek bom jou nie! Ek antwoord wat jy my vrae en dit is dit! Jy verbeel jou dit, soos altyd! Weet jy ... jy verdraai alles wat mens sê om jou verbeelding te pas.” sy woorde peil soos skerpgemaakte veerpyltjies op pad na 'n bulls eye ophaar af.

“Luister net vir een keer na my, seblief ek vra mooi.” smeek sy.

“Kan jy onthou hoe jou pa altyd as jou ma hom so gebom het, inmekaar getrek het van die seer? Onthou jy hoe hy altyd met sy hande beduie het, asof hy die woordkoeëls wou afweer? Kan jy onthou hoe hy vooroor gebuk, sy elmboë op sy knieë gesit het, sy hande inmekaar gewring, kop onderste bo, terwyl sy oor hom getier het voor ons almal in die geselskap? Hoe hy: ‘Ek is jammer ek het gevra, of gesê, geprewel het? Later net doodstil gebly het? Onder die radar probeer bly het?”

Herman het woordeloos na haar gestaar.

“Ek kan hom nog voor die venster sien sit op sy stoel. Ek praat soms met hom, die Here, die een wat wil luister, die een wat sal antwoord sonder om my aan te val met woorde: 'Pa hoe oud was Pa en hoe lank was Pa getroud voor Pa moed opgegee het en stom geword het oor die seer en die onregverdige aanvalle?' Dis wat ek hom vra.
 
Here, hoe lank nog moet ek verduur? Hoe lank moet ek nog stilbly en smag daarna om ook net waardig en met respek mee gepraat en behandel te word? Here, want ek kan nie meer nie.”

Toe Herman omdraai om uit die kamer te stap het sy hom die laaste vraag gevra.

“Onthou jy nog jou pa? Dink jy soms nog aan hom? Sien jy hom ook nog voor die venster sit, gekwes deur jou ma se woorde? Soos sy, so is jy gewoond daaraan om by jou huis jou voete op die koffietafel te sit, so ook ons jongste.” Sy het gesien aan die frons op sy gesig dat hy nie verstaan wat sy bedoel het met haar aanhaling nie.

(En saggies bid ek dat jakkals hierdie keer tot inkeer sal kom en nie net van haar nie maar ook van kleur sal verander.)



©Orange Blue



©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie skrywe mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: Naas on November 15, 2015, 06:32:01 AM
Daar groei gras om die voete van 'n kruis geplant op die vier bene van 'n koffietafel.
Dit slaan so naby en maak so seer om weer te besef dat ons soms vasgevang word onder die voete sonder dat ons gevra het om 'n koffietafel te wees.
Koffietafels staan altyd alleen in die middel van die vertrek... (en stink na ou sokkies)



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: Meraai vannie Baai on November 15, 2015, 01:20:40 PM
Pragtig verwoord mater en Naas se kommentaar so gepas hierby  :notworthy: :icon_salut:
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: Marinda Kemp on November 17, 2015, 04:43:15 AM
Dankie vir julle kommentaar en dat julle bietjie hier stilgestaan het, Naas en Meraai. Het nooit so na 'n koffietafel gekyk maar Naas maak mens dink.
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: PM on December 11, 2015, 09:39:58 AM
'n Pragtige vertelling Marinda.  Daar sal altyd voete wees . . . en altyd koffietafels. 
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: adele on December 19, 2015, 06:17:10 AM
    :love7: 
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: Ans Botha on January 20, 2016, 09:40:03 AM
Kan maar net saamstem met my voorgangers.
Title: Re: Voete op die koffietafel
Post by: Marinda Kemp on January 26, 2016, 11:15:34 PM
Dankie Adele, Ans, PM  :love7: