Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Angelica se plek => Topic started by: Angelica on July 20, 2013, 02:06:16 PM

Title: Jeanie...
Post by: Angelica on July 20, 2013, 02:06:16 PM
Jeanie was ‘n dogtertjie wat by Oupa en Ouma gebly het.   Hulle drie het in die tweede huis op die plaas gebly, ‘n hele ent van die hoofhuis.  Jeanie was my niggie.  Ek is ongeveer vier jaar jonger as sy.  Twee klein dogtertjies wat net wou speel.
Antjie moes my meermale eers soggens daarheen neem as ek ‘n tantrum gegooi of weggeloop het om by Jeanie te gaan speel.  Ons het met poppe onder die reuse bloekombome gespeel.  Heeldag.  Ek sal nooit ooit die bloekom reuk vergeet.  Hoe die duiwe gekoer het in die toppe.  Jeanie is later weer terug na haar huis in Port Elizabeth waar haar ouers gebly het.  Haar Pappa is later weg en Tannie Lettie het alleen na die gesin van vier omgesien.   Jeanie het later ‘n Pappa gekry wat hulle kon versorg.  Tannie Lettie het met Oom Penny getrou en nog twee kinders is uit die huwelik gebore.
Ons het wonderlike tye op ons plaas gehad.  Groot saamtrekke oor Desember as al wat leef en beef kom kuier vir die skoolvakansie.  Ek sal ook nooit Jeanie se lag vergeet.  Die lag het tot in haar oë gestrek.  Sy was die heel oudste van al die neefs en niggies. 
Jeanie was hardwerkend.  Sy het klein al geleer dat niks na jou kom wat die moeite werd was sonder om hard daarvoor te werk.  Sy het bedags gewerk en ook saans na haar huisgesin en huis omgesien. 
Vir ‘n ruk het Jeanie nie lekker gevoel, maar haar verantwoordelikheidsin was so groot en haar gesin eerste gestel.  Sy sou altyd ander dag Dokter toe gaan. 
Uiteindelik is kanker by haar gediagnoseer en het sy net ‘n kort rukkie oorgehad om te leef.  Haar werkgewer moes haar vra om liewer by die huis te bly.  Teen volle salaris. 
Jeanie is verlede week Woensdag in haar eie huis in haar eie bed oorlede. 
Ons is stukkend oor Jeanie.  Haar verassingsdiens was verlede Saterdag 13 Julie 2013.
Title: Re: Jeanie...
Post by: PM on July 22, 2013, 01:35:29 PM
Dankie dat jy jou hartseer ook met ons deel Els.  Dit is 'n groot voorreg.  Ons dink aan julle.   :love7: