Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => PM se plek => Topic started by: PM on March 05, 2013, 11:36:26 AM
-
Ons sit in Milnerton langs die see in 'n gastehuis. Die hemel is wolkloos. Dit is laatnag en Ou Tafelberg is verlig. Dit lyk indrukwekkend. Kaapstad se liggies vonkel aan die oorkant, dit skitter. 'n Mens sien die melkweg geel deur die nek kronkel soos 'n string motors daardeur vleg. Orals slaan rooi, groen en blou ligkolle onder die berg se voet uit.
Ons hoor dit. Die mishorings. Die mooiste geluid vir my. Tussen die lag en gesels merk iemand op dat die hele Mouille Point se ligte uit is. So, onder ons oë, gaan Kaapstad se ligte uit, die een kol na die ander. In die agtergrond huil die mishorings. Dit was eers toe die geel string motorligte deur die nek ook verdwyn het, dat ek tot die besef kom dat dit mis is wat besig is om Kaapstad in te sluk en in duisternis toe te vou.
'n Rukkie later bereik die mis ook ons plekkie en dit omtower die verligte huise en die straatligte in sprokiesland. Ons maak al die groot skuifvensters oop en laat die mis in. Jy kan dit ruik en voel en ervaar. Vars, koel, heerlik. Almal is stil van bewondering, ons kyk en kyk en beleef 'n ervaring wat slegs een keer in jou lewe by jou sal verbykom en die mistroostige gekerm van die mishoring dra ver oor die see.
-
Dit moes 'n ongelooflike ervaring gewees het.
-
Dit is so pragtig beskryf, ek het dit saam beleef met al my sintuie. En kyk net hoe prrrragtig druk jy die die PM stempel weer af: Almal is stil van bewondering, ons kyk en kyk en beleef 'n ervaring wat slegs een keer in jou lewe by jou sal verbykom en die mistroostige gekerm van die mishoring dra ver oor die see.
-
Dankie Fransi en Raaitjie.
Dit was 'n wonderlike ervaring en ek wens ek het die gawe gehad om dit prentjie vir prentjie te kon weergee saam met die atmosfeer, soveel so dat julle dit saam met my kon ervaar.