Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Gawelina se plek => Topic started by: Gawelina on March 04, 2013, 04:50:13 PM
-
Al wat ek van toe onthou
was niks...
en my pa se oë was hard
en ons was maar nog klein
Die veld waar lammers droë keel blêr
was net sand en driedoring
die werf met moedelose hoendertjies,
net sand en verder niks
Al wat ek van toe onthou
was niks...
en my ma se oë was rooi
en ons was maar nog klein
Die nuwe huis was koud en leeg,
die reën tot op ons bed,
die mure was 'n troostelose skans,
'n woordlose gebed
Al wat ek van toe onthou was
ek en boet en ma
en my pa se oë was moeg
en ons was maar nog klein
Die nuwe asbeshuis was klein
maar ons kon droog en warm slaap
daar was kos en kinderpret
en eindelose skattejag
op die koppie langs ons huis.
Al wat ek van toe onthou
was kinderpret in voormanshuis,
in my pa se oë 'n hunkering
en ons was maar nog klein
-
Die gedig praat met my emosies en ek dink dit is baie mooi. Ek sou wou sien dat jy hier en daar 'n woordjie wat herhaal word, verander, maar dit is gering. :notworthy:
-
PM, dit is juis hierdie herhaling van Gawie wat my laat vra het of sy 'n gedigstruktuur gevolg het waarop haar antwoord was: hoe ken jy my Raaitjie? :toothy4: Sal ek dit nie weet nie: juffrou Gawie en strukture is aardsvyande LOL. My tone krul om van opgewondenheid. Ek sal graag die spontane herhaalde struktuur wat uit ons geliefde juffroutjie se hart en vingers geborrel het, met die woordskalpel wil ontleed, sodat ons dit kan bewaar as iemand sy of haar hand wil waag aan hierdie treffende manier van uitdruk wat so spontaan ontstaan het. Elke woord was sekuur geplaas en die klem met herhaling, wanneer hierdie verse hardop voorgelees word, kom tot hulle reg!
Ek het gou die riglyne wat jy lankal met ons gedeel het oor "*Polisindeton" gaan opsoek. Hierdie vers van Gawie is die perfekte voorbeeld daarvan:
Al wat ek van toe onthou was
ek en boet en ma
en my pa se oë was moeg
en ons was maar nog klein
* – po-li-sin’de-ton – is die herhaling van voegwoorde wat gewoonlik weggelaat word.
Moenie vloek nie, of kwaad word nie, of skel nie.
Sê groete vir jou ma en jou pa en jou boetie en jou sussie.
Ek lieffff dit :love7: :icon_salut:
-
Dit, my liewe Gawie-vriendin, is nou digkuns op sy mooiste. :icon_salut:
-
Soos gewoonlik het ek weer reg gedink en verkeerd gepraat. Ek het verwys na "sand" wat twee keer in een strofe herhaal is. Ek lief die herhaling in die gedig en ek stem met jou saam, dit is die kern en werk pragtig.
As ek ook weer en weer lees en die "sand-woord" beklemtoon, dan werk dit ook.
Ek sou nog bitter graag 'n funksie wou hê waar die skrywer sy werk kan voorlees en ons daarna kan luister. Dit sal soveel beter werk.
Maak dit sin:
Die veld waar lammers droë keel blêr
was net sand en driedoring
die werf met moedelose hoendertjies,
net sand en verder niks
-
Ekke wil AMEN gil op Naas se kommentaar. PM, sou dit nie wonderlik wees as die digter sy werk vir ons kon voorlees nie. Ek het dit lankal vir Willem voorgestel maar nou ja ... wanneer 'n gedig my sintuie prikkel, lees ek dit altyd hardop vir myself voor. Hier was nou weer die bewys hoe wonderlik hierdie voorreg sou kon wees om dit in Gawie se eie stem, met poses tussen in soos sy dit bedoel het, te kon hoor!
PM, liefste skrywersmatertjie, soos altyd is jy die meester van die witspasie tegniek en ek sal graag wil sien hoe jy dit toepas in hierdie spontane struktuur van Gawie met jou eie gemoedstoestand vasgevang tussen die lyne.
-
Ek mag dalk die witspasieverslaafde wees, maar jy weet hoe om 'n stukkie werk "reg te lees" en daar val ek uit die bus uit.
Dikwels wonder ek, terwyl ek my "komtaar" skryf, wat ander daarvan gaan dink. Wat egter vir my saak maak, is dat ek julle komtaar wil hoor en dan die werk "fyn te maal" totdat ek dit lees en verstaan soos wat die skrywer dit wil oordra en jy weet, dit neem 'n rukkie. :icon_biggrin:
Ek het ook nie die vrymoedigheid om vir elke skrywer te sê wat ek dink nie, maar daar waar die liefde vrylik vloei, is waar vrynoedigheid mildelik bloei. :angel4:
Dit is steeds altyd vir my verbasend hoe jy na 'n stukkie werk kan kyk en dit in 'n struktuur kan plaas, of die po-li-sin’de-ton kan erken en dit uit te lig. :notworthy:
-
Hie hie hie, en daar "boks" julle my wragtag in 'n struktuur in! Ek het nie eens geweet daar bestaan so iets nie en die woorde het sommer spontaan gevloei n.a.v. 'n gesprek. Baie dankie vir julle raad en mooi kommentaar. Ekke waardeer.
-
Sommer omdat ons lief is vir jou. :love7:
-
Besonders geskryf.
-
Ek skouerlees.
En skielik is ek weer klein
Skielik is die knop in my keel benoud
Skielik breek die walle in my oë
Ja skielik is ek weer klein.
:icon_bigsmurf:
-
Ek het so pas met Gawie gesels en die matertjie van my, kruip net dieper en dieper in my hart in met die jare se stomklets tussen lyne. Hierdie was by verre vir my een van haar mooiste (en daar is baie baie) gedigte. Naas, jou woordspore hierby is traanmooi. Hoe geseend is ons nie - omring met soveel talent!
:book1: :notworthy: :icon_salut:
-
Eendag as ek groot is wil ek ook Juffrou Gawie se talent erf. Toe ek laas vir Gawelina gesien haar was haar oudste in metriek.
Langpad verlang is een bliksem.
Die lewensslaggate keer rondloop...
:angel8:
-
Skouerlees lei my vanoggend op 'n wandelende woordontbyt weer tot by hierdie erf van ons gaafste juffrou. So pas gestaar na die ronde merk (dooie kol) op ons grasperk en het dadelik besef dat dit onnatuurlik is. Toe onthou dat Outop die klein braaiertjie geskuif het sodat die asemdief nie ekstra hulp ontvang in die rooftog nie. So dra ons elkeen die 'merke' van kleintyd, ingebrand teen die mure van kreukelkamers wat dan ook in ons emosionele gemoedere en selfs handelinge, weerspieël word baie jare later.
Hoofletter amen op hierdie ene van jou Naas:
Langpad verlang is een bliksem.
Die lewensslaggate keer rondloop...
Die forum spog met talentvolle mense wat ek liefhet asof ons deur bloedbande gebind is.
:love7: :book1: :hello2: :notworthy:
-
Ekke kom klein-klein saamlees, sulke emosies met woorde bly wonderlik, so bly ek kon al die hande daaragter ontmoet.
-
Raaitjie, jou skouerlees het al gesorg vir baie vreugde tussen die lyne. Dankie vir nog 'n juweeltjie.