Die Afrikaanse Forum
		Woordskuur => Gesegdes van toeka tot nou => Topic started by: PM on January 08, 2013, 01:24:24 PM
		
			
			- 
				    Stuur die luiaard na die miere, en as hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui wees om weer terug te kom.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Kla oor die kooi as dit 'n ander is wat dit vir jou opgemaak het.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Daar is geen luiaard wat glad nie wil werk nie. Hy verlang maar net na 'n ander soort werk as die wat hy nou moet doen.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Dis net so moeilik om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die luiaard is die enigste man wat van sy slaap sal moet rekenskap gee.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Waardeer die werk van jou vrou. Jy kan nie op die aarde 'n ander kneg kry vir dieselfde diens en dieselfde prys nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Met gehoorsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir jou te min wees.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Besorg jou eie boodskap en reken die moeite teen die wat die misverstand jou sou gekos het.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 As sport ons daaglikse plig was, sou ons die werk wat ons nou moet doen byderhand neem vir ons plesier.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die man wat vandag hierdie vak bevlieg en môre daardie wys self dat hy nie weet wat sy roeping is nie. Sy inkomste wys dit ook.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Salomo het by 'n luiaard se akker verbygeloop. Had hy bietjie vertoef dan kon hy gebie het op die vendusie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Hoe swaarder 'n man aan sy goed gekom het, hoe swaarder bring hy daaraan deur.
 Swaar-kry: lekkerkry; lekker-kry: swaarkry
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Daar is een goeie ding wat 'n slaaf soms koop wat vir sy baas te duur is. Die goeie ding is rus en die prys is arbeid.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Daar is mense wat kan doen wat hulle wil, maar dit is die wat wil doen wat hulle kan.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ek was so besig om kanse te soek dat ek my geleenthede een vir een laat verbyglip het.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die ryk man het mos nie nodig om so suinig te wees nie. Maar hy is nie 'n ryk man wat suinig geword het nie: hy is 'n suinige man wat ryk geword het.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Help jou swakke mededinger op die bene bly. As hy tot niet gaan, kom daar straks 'n sterke in sy plek.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ontydige vlyt is die merk van die luiaard. Dis sy verskoning vir ontydige rus.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ons reken ons geluk vir ons loon en ons straf vir ons ongeluk.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Welvaart is die dogter van matigheid en die moeder van weelde.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 My swaarste pad trap ek self vir my plat, en swaarste is die wat my voete nooit vat.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die man wat ek na soek, is nie die wat die minste foute maak nie, maar die wat die meeste foute regmaak.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 En vêrder die boer wat nie saai nie sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen goeie ook kry nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Het die daeraad lief en die dag sal jou liefhê.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Slaap laat solank as jy jou eie baas is en daar sal 'n tyd kom wanneer 'n baas jou sal laat vroeg opstaan.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 'n Man wat oor homself baas is, is nooit die kneg van 'n ander nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Dis die flukse perd wat flou word.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon, het die luiaard verniet.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Op die ou end werk die vlytige man vir homself, die luiaard vir 'n ander.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Die wat hy nie wegja nie loop weg.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Om van 'n ou ding ontslae te raak, verf hom nuut.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Vir sy eie voordeel beklee 'n man 'n beroep; vir die voordeel van sy ewemens volg hy 'n roeping.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 'n Goeie ambagsman kry nooit sy werk na sy eie sin nie; 'n slegte kry dit nooit na die sin van sy klandisie nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Elke artikel wat hy maak is 'n nuwe skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne en 'n ander kon dit nie so gemaak het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die slegte ambagsman beveel sy werk aan; goeie werk beveel sy ambagsman aan.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 So 'n ambagsman is die gelukkigste mens op die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus. Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie. Nie om die prys of die loon nie, maar om die heerlikheid van sy werk, werk hy.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ploeg self op die klip land en gee vir jou kneg die sagte grond. Dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Moenie by die huis rondlê en jou knegte werk toe stuur nie. As jy vir jou eie belange traag is, hoe kan jy verwag dat hulle vir 'n ander s'n ywerig moet wees?
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Doen jou eie werk. Dis verveliger om te wag solank as 'n ander jou ketel kook as wanneer jy hom self kook.
 Tog gaan dit gouer, wat hy is nie so spaarsaam met die hout nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Om die luiaard gisteraand nie moeg was nie, het hy vannag nie gerus nie en daarom is hy vanmôre nog lui.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die goedkoopste manier om aan jou lewensmiddel te kom is om daarvoor te werk. Die duurste is om dit te steel.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 As jy geen stuk kennis het van die ambag waar jy 'n man voor huur nie, bekyk sy gereedskap. Hy sal nie in jou belang oppassender wees as in sy eie nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Staan by die man wat by die dag werk om te sien dat hy nie te stadig is nie, en by die man wat by die stuk werk om te sien dat hy nie te haastig is nie - of huur twee, een by die dag en een by die stuk, en laat die een die ander skaam maak.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 As jy jou werk sleg doen omdat jy jou loon te min beskou, sal jy nooit goeie werk doen nie: want jy sal nooit genoeg loon kry na jou eie sin nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ons betaal ons onwillige knegte altyd te veel, ons gewilliges altyd te min.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Betaal 'n donkie se prys en moenie 'n perd se diens te wagte wees nie - maar jy betaal maklik 'n perd se prys en jy kry 'n donkie se diens.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Daarom het Adam en Eva die Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle niks gekos het nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 'n Man wat nog nooit self iets bymekaar gemaak het nie, het altyd slim planne hoedat 'n ander sy geld behoort te gebruik wat daarvoor gewerk het.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Die geluk van die skyf is by die roer, en die geluk van die oes by die boer. Die belangstelling van die kneg moet jy toekry: jy kan dit nie huur nie.
 ~ C.J. Langenhoven
 
 As ek die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: "Ek het hom by sy werk gekry."
 ~ C.J. Langenhoven
 
 - Ons weg deur die wêreld, 1913
- 
				Sal nooit in der ewigheid moeg raak vir woorde soos hierdie  :love7:
			
- 
				Dit is darem altyd lekker om dit weer en weer te lees.  Ek sal nog 'n bietjie gaan soek.
			
- 
				As ek die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat die engel wat my kom haal huis toe, my daar bring met die verslag: "Ek het hom by sy werk gekry."
 ~ C.J. Langenhoven
 
 Ekke hoop dit sal geld vir my ook  :love7: :notworthy: :book1: :icon_salut:
- 
				Met my geluk sal ek aan die slaap gevang word.  Hoop dit werk so vir my.   :icon_biggrin: