Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Elizabeth se plek => Topic started by: Elizabeth on July 20, 2012, 03:43:39 PM

Title: Bestemming
Post by: Elizabeth on July 20, 2012, 03:43:39 PM
Kom klim in en ry saam my
tot waar die pad sy stertpunt kry
waar die werfhaan smôrens vroeg
‘n nuwe dag oopkraai
waar stokrose teen die wind
‘n staanplek langs die wit muur vind
en op die groot ou stoep
‘n litroos in die drom
helderpienk en hoopvol blom
 
waar mens die reuk van grond kan proe
en in die warm kombuis
‘n vetkoek eet met stroop
wat taaisoet toue tap
as Ma teen twaalfuur
haar voorskoot eenkant gooi
haar liewe hande om die kos
haar man, bruingebrand en sterk
honger van die dag se werk
die kinders: welgeluksalig-bly
wag vir Pa se seëngebed
 
kom klim in
dan wys ek jou
hoe lyk liefhê en vertrou
in eenvoud uitgespel
 
op die plaas doer duskant ver
slap links verby die môrester
 
Elizabeth Kendall ©
Title: Re: Bestemming
Post by: Ah Willa on July 20, 2012, 04:35:41 PM
hoe lekker ontspan ek nie hier slap links van die môre ster nie - te mooi, lief die dig en skildery.

Jy maak my so lus om ook te skilder - die talent wemel in my familie aan ma en pa se kant,
en ek het altyd met 'n potloot lyne getrek ... eendag gaan ek ingee vir die lus - kan net nie belowe
dat die prentjies leesbaar mooi sal wees nie  :love7:
Title: Re: Bestemming
Post by: Elizabeth on July 22, 2012, 03:18:18 PM
Nou maar toe Willa, gryp die griffel, as ek kan, kan jy ook! Dankie vir die gawe kompliment!
Title: Re: Bestemming
Post by: Naas on July 22, 2012, 05:26:34 PM
Jou kyk na die dinge rondom jou is pragtig... kleurvol... eenvoudig... pragtig. Dis 'n voorreg om jou in jou werke te leer ken.





 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Bestemming
Post by: Meraai vannie Baai on July 23, 2012, 03:24:06 AM
Ek wil AMEN skryf op Naas se kommentaar. Watter wonderlike voorreg om jou werke ook hier te kan geniet en waardeer Sussa  :notworthy: :icon_salut:
Title: Re: Bestemming
Post by: Elizabeth on July 23, 2012, 11:58:21 AM
Duisende dankies vir jul opregte en warmhartwoorde Naas en Meraai! Ek is net nie altyd 100% seker of ek my "goete" in die regte blokkies vaspleister nie... glimlag!
Title: Re: Bestemming
Post by: Meraai vannie Baai on July 23, 2012, 11:14:30 PM
Jou 'goete' pronk elkeen waar dit hoort! Perfek  :notworthy: :icon_salut:
Title: Re: Bestemming
Post by: PM on July 24, 2012, 11:30:23 AM
Baie dankie vir die voorreg om te mag deel. 
Toe verskiet die morester sommer deur my oë.  Pragtig geskryf Sussa.   :icon_salut:
Title: Re: Bestemming
Post by: Elizabeth on July 27, 2012, 05:29:47 AM
Toe verskiet die môrester sommer deur my oë....hoe mooi sê jy dit! Groot waardering PM!