Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Angelica se plek => Topic started by: Angelica on November 26, 2011, 08:12:10 AM
-
Deli
Filodeeg woordbondeltjies
netjies uitgestal op my tongplaat,
bring ek vir jou my lief,
mondjiesvol woorde… sodat jy
nie nodig het om stil te sit en wurg
aan ellelange niksseggend e-posse,
maar tydsaam sal inneem elke happie -
soms effe suur, soms uitdagend
maar nooit bitter
Die soet-soetste woordjies rol ek op
in 'n saggies krakerige meringue roulade -
dromerig romerig met 'n karamel hart
vir verleiding
soetsag… druppend van genot
wat jou oë instinktief sal laat sluit
Begrypend my doel
sal jy vertrek na oorde van terugkyk
en onthou -
soos die flikker-flakker van 'n kers -
tussenplekkies in jou dag
se verbygaan
'n 'platter' deli-woordjies vir jou, my lief ?
-
Ek is nie so seker van die 'flikker-flakker', of dit as een woord geskryf of met die koppelteken.
Kan iemand my asb inlig.
Dankie.
-
Ellé, dit lees vir my reg met 'n koppelteken.
'n Pragtige gediggie, jy vat raak met die woorde. "deli-woordjies" beslis.