Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Angelica se plek => Topic started by: Angelica on November 14, 2011, 06:23:41 AM
-
Griet
Na die skildery van Johannes Vermeer : Girl with a Pearl Earring - 1666
Griet meisiekind,
jy is dan skaars sewentien
jou lyf, jou vel nog jonk en broos...
sou jy kon raai
dat pyn kon kepe kerf
daardie dag toe die lem se punt
na jou toe draai?
Jy kyk mesmeries na my
sien ek 'n traan?
jou oë diè van 'n gewillige uitgelewerde
Maar hoe sou jy kon raai?
Jou rooi geswelde hande van was en wring,
water uit die kanaal kombuis toe bring
het jy weggesteek van lig en oë
net nie vir hom, daarmee het jy verf gemeng
in sy skilders-ateljee
en daardie dag toe hy vir jou die doeke hou
ook die kobalt een, en sê;
'Draai dit om jou hare'
het hy geweet ook jy
dááronder skuil 'n ander Griet
die een wat jy vir hom wou gee.
In die solder agter slot
het jul in stomstil liefde gebaai
die vrede het deur die venster
oor die Oude Langendijk gewaai
Maar onder teen die houttrap
het 'n adder gewaak
Die pêrel, Griet, was 'n mes se lem
wat vlymskerp sou sny tot op die been
- jul't dit geweet -
Sou jy kon raai dat in jou stille gang
jy soveel pyn onwetend saai?
In sy palm lê die pêrels
rondglad en koud
jy het sy blik gevang, geen woord
net stom gebewe van verraad
en die gaatjie in jou oor gedruk
vir hóm
lippe sag en klam gelek vir sy skilder's oog
en 'n traan van pyn en hooplose liefde,
het jy sy blik beantwoord
met 'n duim oor jou fyn gelaat
het hy jou traan gepink, jou lippe aangeraak
jy't jou sout geproe
Met die pêrels in jou oor
(sag lê die gryswit teen jou blanke nek)
het die lem gesny, Griet, vroukind
en jy èn hy
het toe geweet
die stilte was verbreek.
In geelbruin en kobaltblou
teen pikswart gekwas - verewig -
het hy jou met hààr pêrels gekroon
brokaat, pels en pêrels
was nog altyd jou kleinmeisie droom
In hààr palm lê die pêrels
gryswit druppels soos haar traan
'n wêreld daarin vasgevang
haar siel was rou
terwyl die mes se lem een laaste maal
sou sny vir hààr haar siel sou kerf
sý Laaste Wens was vir jou besit
Mesmeries staar ek na jou
Griet, weemoedig kindvrou,
sou jy ooit kon raai
hoe soet én suur
die verbode vrug sou smaak?
++++
-
Griet is my hart se punt.
Nadat ek die skildery gesien het, het ek toevallig eendag die boek op 'n uitverkoping raakgeloop. Ek moes dit net lees.
Dit is die mooiste liefdesverhaal wat ek al gelees het. Ek sal weer en weer.
Om hierdie mooiste verhaal op 'n bladsy in te pas, was senutergend. Wat vertel jy? Wat laat jy uit?
Dit neem my elf maande om 'Griet' geskryf te kry.
Dit mag dalk nie die mooiste gedig ooit wees nie, maar ek het soveel maande so intiem met haar lewe en liefde te doen gehad, ek kon nie anders as om dit vir Die Boek in te skryf.
Dankie PM dat jy my die spasie en geleentheid gee om dit met almal te deel.
-
Ek het die laaste paar maande baie teleurstellings gehad, maar ek kan jou verseker, die groot plesier wat ek daaruit geput het om deur julle verse en woorde te wandel, het alles die moeite werd gemaak.
Griet is vir my 'n besonderse uiteensetting van die verhaal. Jou woordspeling is uit die boonste rakke en ek lief Griet, jou gedig. Die voorreg om dit te kan deel is myne. Dit is met trots in die boek. Baie dankie Angelica, dat dit daar mag pronk.
Ek wou nog sê, jy weet net nie hoeveel keer ek jou wou vra of ons nie maar vir Griet twee bladsye kon gee nie.
-
hier het jy die essens van hierdie verhaal pragtig vasgevang met al sy passie en tragedie
-
Dankie Louis, dat jy 'n spoortjie gelos het. Dit is heerlik om jou raak te lees.
-
Dankie PM en Louis vir julle mooi woorde oor Griet.
Dit beteken oneindig as iemand jou pogings waardeer.
-
Ellé, ek het vandag jou bladsy met Griet op oopgemaak vir 'n vriend wat kom kuier het. Hy dink ook dit is uit die boonste rakke. Ek is mal daaroor.
-
Dit wat jy nou hier gese het, het baie meer betekenis vir my as wat jy ooit sal droom.
Dankie.
-
Ek waardeer dit, dankie Ellé. Dit maak my werklik weemoedig om so min van ons medeskrywers by ander se werfies raak te loop.
-
Hier wil ek weer vir Griet oproep. Gister toe ek deur Rooiwyn Kaggelvuur & Vers blaai, sien ek weer vir Griet en ek wonder hoeveel nuwe lede het ons wat nog nie met Griet te doen gekry het nie. Nou toe, hier is Griet, welkom op haar erfie. :bootyshake:
-
Liefste Griet...
Deesdae voel ek bietjie soos Griet: pak buisies en botteltjies verf reg, soek kwassies, is die kleur reg? moet ek nie nog blou en geel byvoeg?
-
Wonder ek nou of dit die winter is wat mens soms so mistroostig laat voel. Vanoggend het ek die verwarmer aan, want ek is vrieskoud!
Ons gaan ook nie bietjie koud kry daar by Balfour nie. Dit is ysig koud in die winter daar. Sal my kort soks en my lang soks moet saamneem.
Ons trek darem nou al Augustus se kant toe, darm nie meer te lank nie dan kan julle daardie reënweer vir ons stuur, dit is droog hier.