Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Elizabeth se plek => Topic started by: Elizabeth on September 07, 2012, 07:33:09 AM

Title: Die wete.
Post by: Elizabeth on September 07, 2012, 07:33:09 AM
Om in die stilte van ‘n donker nag wakker te word en te lê en luister na die sagte reën wat val, om te weet waar dit vandaan kom en om te glo dat alles, alles wat in jou lewe gebeur, vooraf so bepaal is…..dis ‘n heerlike wete.

Dis gerusstellend, vertroostend, bemoedigend, verkwikkend.  Dit vul jou hart met blydskap, moed en lus. Dit motiveer jou om met vreugde jou dag se sleurwerkies klaar te kry. Dit maak dat jy omgee. Omgee vir alleen-mense, ou mense, siek mense, kindertjies.  

Dit maak jou oë oop. Dit laat jou klein dingetjies raaksien en waardeer – ‘n glasogie wat ‘n stukkie lemoen kom proe, die akkedis by die agterdeur wat ‘n maat gekry het, die klein, groen blaartjies wat lente spel aan die perske- en appelkoosboom in die agtertuin.
En in dié wete skuil daar ook ‘n opgewondenheid, ‘n heerlike gevoel van afwagting.

Ná  die milde  reën ontwaak die wêreld:  die tuin begin blom, die vinkneste swaai vrolik aan die dunste takkies, ‘n oumens glimlag en knipoog vir haar kleinkind. Die wêreld is weer skoon gewas en splinternuut.  Dis sommer net ‘n baie lekker plek om in te bly!

Daar is rede om te hoop en om dankie te sê. Ons kyk vorentoe met ‘n lied in ons harte.  Selfs al sou ek deur donker dieptes gaan, sal ek nie bang wees nie, want die Here is by my. So het Dawid in Psalm 23 gesê….en so laat die waterplasse langs die rose en op die plaveisel my ook  sê.  Daarom stap ek en jy  moedig deur die donker skaduwees tot by die lig. Ons is nooit alleen nie.  God is in beheer.  Hy is by ons.
Title: Re: Die wete.
Post by: PM on September 07, 2012, 07:43:13 AM
Dit is pragtige beelde wat jy skets en ek geniet dit om so van waterplassie tot waterplassie saam met jou deur die tuin van die lewe te stap.  Dankie vir die deel Sussa. 
Title: Re: Die wete.
Post by: Fransi on September 07, 2012, 06:09:55 PM
So kosbaar en waar geskryf.
Title: Re: Die wete.
Post by: Meraai vannie Baai on September 08, 2012, 12:01:16 AM
Ons is nooit al(l)een nie ... hoe vertroostend was die woorde weer.  :love7: :hello2: :notworthy:
Title: Re: Die wete.
Post by: Joe Daai Ou on May 09, 2013, 11:24:31 AM
So Pragtig en so waar! Ek het ook daardie wete, ek ry alleen met my trok, maar sien die duik in die passasier sitplek waar my onsigbare passasier sit! Ek weet Hy is altyd met my, saam met my, altyd by my! Wat 'n wete! Sjiiieee!
Title: Re: Die wete.
Post by: PM on May 10, 2013, 09:15:55 AM
So kom lees iemand agt maande later en ons lees almal weer saam en die boodskap bring vertroosting.  Onthou, die mooiste woord in Afrikaans?  Troos. 
Title: Re: Die wete.
Post by: Ah Willa on May 10, 2013, 11:34:37 PM
Ek stem saam met jou : Daar is rede om te hoop en om dankie te sê.

Wat is ons tog sonder hoop??  en my Hoop is Lewenend en gee om!

'n baie mooi na-dink-stukkie wat jy hier met ons deel, dankie!!