Author Topic: Tannie Judy...  (Read 1809 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Tannie Judy...
« on: July 20, 2013, 02:09:38 PM »
Tannie Judy is 95, die matriarg in die Ferreira-familie.  Sy is die enigste oorlewende sib van my Pa. 
Vir my ‘n skakel met my familie aan vaderskant.   
Sy was groot in die gemeenskap.  Sy was groot in die skool waar Oom Jan, haar wederhelf, die Wiskunde onderwyser was.  Sy was groot in die kerk, by die Sendingkerk en –skool.  Niemand het nie geweet wie Tannie Judy was.  En kom basaartyd en atletiek, was sy aan die hoof van die pannekoekbakkers.  Ek is so trots op haar.  Ek is so trots daarop om een van haar broerskinders te kan wees.  Ek is so lief vir haar.
Sondagnamiddag het ons soms by hulle gekuier.  Dit was dan net die tyd vir Oom Jan om die paar koeie gemelk te kry.  En as Tannie Judy eers tee maak en koekies uitdeel en nie gou genoeg met die emmer en die melkdoek reg is nie, het Oom Jan haar kamma uitgetrap en dan sou sy sê Jan, jy is net soos ‘n grammaphone wat hak en hak en hak. Dan het ons maar agter ons hande gelag.
Langs die huis het ‘n waterslootjie geloop.  Bo-oor was net ‘n plank waaroor jy loop.  Sy het ons altyd gewaarsku om versigtig daaroor te loop.  Die groot ou Akkers het blare en tolletjies afgegooi en dit het bruin in daardie stroompie gelê en verrot.  So ‘n rustige stroompie was dit.  Ons sou in elk geval net tot in die vlak slootjie kon val, niks ernstig nie.  Maar ons was toe al opgedress vir koshuis toe gaan.  Pappa sou ons na die kuier daar gaan aflaai. Maar nie voor daar vrugte uit die boord gepluk is nie. 
Tannie Judy het sommer pad-af geloop winkel toe.  ‘n Baie  vinnige stappie met kort beentjies soos al die Ferreira-vrouens gekry het met oordrag van die gene.  In die laaste klompie jare het Tannie Judy in ‘n deel van een van die huise gewoon langs haar jongste seun.  Nog later het sy by haar dogter op ‘n volstruisplaas in die Oudshoorn-omgewing gaan woon. 
Sy kon nie meer almal onthou nie.  Het ook graag ‘n bedraggie in jou hand gestop as sy jou eien as ‘n familie-lid.  Sy het graag my Ma geskakel en gevra om te kom kuier op Oudshoorn, dan moes Mamma in die spesiale bussie klim hier in die Kaap en gaan kuier by Judy.  Die twee het dan maar stoep gesit en tee gedrink wat herhaaldelik aangedra is.  Van praat was daar later nie meer sprake nie.  Die ‘onthou jy’s het opgedroog.  Dieselfde vraag ‘nou wie is jy?’ is herhaaldelik gevra. 
Tannie Judy het ‘n paar dae gelede ‘n beroerte wat haar verlam gelaat het, gehad.  Liewe, liewe Tannie Judy, ek is so jammer dat jy dit moes oorkom.  Sou jy weet wat gebeur het?  Sou jy bewus wees van wat om jou aangaan?  Sou jy verder wil leef in daardie omstandighede? 
Ek hoop jy voel my dink aan jou, my liefde vir jou.  En weet dat ek vir jou bid. 
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tannie Judy...
« Reply #1 on: July 22, 2013, 11:52:47 AM »
Ag ou Els, ek dink aan jou.  Dankie vir die deel van 'n pragtige storie.  Ons oupatjie van 96 het verlede week gegroet.  Het so gehoop hy sou sy verjaarsdag maak, maar dit was toe nou nie so nie. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Tannie Judy...
« Reply #2 on: August 09, 2013, 06:43:18 PM »
Vandag is my Tant Judy begrawe.
En ek is in my gees daar waar sy in die harde aarde in haar finale rusplek neergelaat is.  Ek glo die hele gemeenskap was daar.  Van oud tot jonk. Van lig- tot donkervel.  Almal. 
Sondagaand het sy gesterf terwyl 'n doktersvriend by haar gesit en haar hand vasgehou het.  Sy het net haar oe toegemaak en gesterf.  Soos om 'n lig af te skakel.  Tussen leef en dood is net 'n fraksie van 'n sekond. 
Vroeer het haar dogter nog saam met haar uit Die Bybel gelees, gebid en 'n lied gesing.  'n Uur later was sy aan die anderkant van lewe by die Ewige Lewe.
Dit is nou nog net ons ses kinders en ons kinders wat die Ferreira naam verder dra. 
Daar is 'n tyd om te wees en daar is 'n tyd om te gaan.
Rus sag, Tannie Judy.  Ek sal jou nooit vergeet nie.
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Tannie Judy...
« Reply #3 on: August 10, 2013, 10:47:19 AM »
Sterkte my matertjie, ek gooi 'n omgeebersie oor jou skouers. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Tannie Judy...
« Reply #4 on: August 10, 2013, 06:01:25 PM »
Ek trek dit styf om my skouers, PM, dankie.
elle