Ek kan nie onthou nie...
My opskrif lieg sommer net. Ek kan onthou van talle kere dat 'n vuishou die wind uit my menswees geslaan het. So was dit dan ook vanaand toe Naas met Hannes gepraat het en hom meegedeel het dat Ouma Naas longkanker het en dat sy nie veel langer met ons sal wees nie. So wreed! Sommer net so!
Sonder om te dink aan wat dit aan my sal doen en hoe ek daaroor sal voel. Die naakte waarheid, afgelewer deur 'n posbode!
Soos 'n telegram!
Verskoon tog, dit is nie gemik op iemand nie, dit is net die naakte waarheid wat sy pad na my hart gevind het. Ek weet ook dat ek al die afgelope tyd vir myself gelieg het. Ek wou net nie die waarheid in die oë staar nie. Ek het geweet, maar ek wou dit nie glo nie. Ek het allerhande verskonings uitgedink om dit "onwerklik" te maak, maar dit is werklik! Daardie dierbare wonderlike mens wat my hart gesteel het, die eerste dag toe ek haar ontmoet het, gaan my nou verlaat! Ek is sprakeloos, maar tog loop my hart oor en my gedagtes werk oortyd.
Hoekom het sy in my lewe gekom? Sommer net so om sommer net so weer daaruit geruk te word?
Sou dit nie maar beter gewees het as ek haar nooit ontmoet het nie? Ja natuurlik sou dit my al hierdie hartseer gespaar het, maar my lewe sou nooit so ryk gewees het nie.
Ouma Naas, jy het my lewe verryk! Jy het my soveel ure van plesier en "gate uit geniet" gegee! Dit was 'n wonderlike voorreg om deel van jou lewe te wees. My liewe oumatjie wat altyd uit haar pad gegaan het om ander te plesier! Soveel gedoen en soveel beteken vir ander!
Ouma, ek is verpletter, net nog 'n vuishou in my wind, maar weet dat ek en Hannes dankbaar is vir die geleentheid om deel te kon wees van jou lewe. Al was dit net vir 'n bitter kort rukkiel EN Ouma, dit is 'n groot voorreg om dit vir jou te kan sê voordat jy huis toe gaan.
My hart is aan skerwe maar in elke diamandjie wat deur my trane blink, lê 'n wonderlike herinnering aan die saamwees met jou.