Die gebruik van leestekens in gedigte
'n Artikel deur Susan Grobler
Die gebruik of weglaat van leestekens in digkuns laat baie digters dikwels kopkrap.
PUNT . Ons leer lees. Gebruik die punt by afkortings: bv. ens.
KOMMA , Hy gaan nie saam nie, want hy wil leer.
KOMMAPUNT ; Ek gaan nie saam nie; ek wil eerder leer.
DUBBELPUNT : Die volgende leerlinge gaan leer: Elizma, Hendrik en Sarel.
AANHALINGSTEKENS “ “Julle moet nou leer!” het juffrou geraas.
VRAAGTEKEN ? Hoe laat?
UITROEPTEKEN ! Ai tog!
HAKIES ( ) Die leerwerk is opgesom (bl. 12).
AANDAGSTREEP - Dit was chaoties – so het ons gedink.
AKSENTTEKENS ` (i) gravisteken ` bv. appèl; (ii) akkuutteken ´ bv. ék
DEELTEKEN ¨ geleë
KOPPELTEKEN - oud-skolier
AFKAPPINGSTEKEN ´ foto’s
KAPPIE ^ skêr
Ons vroeëre digters het die gebruik van leestekens noukeurig gebruik. Elke komma, kommapunt, punt, aandagstreep, uitroepteken en vraagteken is sorgvuldig oorweeg en gebruik. Die taal was nog in wording en dit was dus nodig om ‘n goeie voorbeeld aan lesers te stel.
Aan die einde van die vorige eeu het dit mode geword om van leestekens ontslae te raak. ‘n Mens sou dink dat dit die skryf van ‘n gedig vergemaklik het, maar dit het juis probleme veroorsaak deurdat lesers hulle eie leestekens (veral ruspunte) op verkeerde plekke ingelees het en die oorspronklike bedoeling van die digter dikwels daardeur verydel is. Digters wat hulle werk korrek vertolk wil hê, is nou verplig om op subtiele wyse leiding aan lesers te verskaf en is die gebruik tans (2011) om op minimalistiese wyse met leestekens te werk te gaan.
Wanneer ‘n gedig voltooi is en dit deur die digter nagesien word, lyk leestekens baie keer skielik oorbodig en begin twyfel ontstaan of dit gebruik moet word of nie. Die rede hiervoor is dat ons aan bovermelde twee uiterste pole blootgestel is: die noukeurige gebruik daarvan en die algehele weglaat daarvan. Wat nou gemaak? Ons sit behoorlik in die middel daarvan en weet nie wat om te gebruik en wat om te los nie.
Punte:
‘n Punt dui die einde van ‘n volsin aan. ‘n Goeie gedig het ‘n bepaalde ritme en die leser sal self by elke natuurlike ruspunt stop, sou die gedig ‘n goeie, sterk ritme het. Ruspunte kom normaalweg voor aan die einde van ‘n reël (of elke tweede reël) of strofe – hang af van die styl. Sou die ruspunt nie op ‘n logiese plek voorkom nie, moet die digter ‘n punt gebruik om verwarring te voorkom. Indien elke strofe met ‘n punt eindig, moet dit verder eenvormig gebruik word. Moenie een strofe afsluit met ‘n punt en die res van die strofes se punte weglaat nie.
Kommas:
‘n Komma skei verskillende gedagtes in ‘n sin en verteenwoordig ‘n korter pouse as ‘n punt. ‘n Komma op die verkeerde plek in ‘n sin kan ‘n heeltemal ander betekenis aan die bedoeling van die digter heg. Dit is dus noodsaaklik om seker te maak dat die ritme en metrum van ‘n gedig so ‘n aard is dat die leser die weggelate kommas self korrek sal inlees. Bestaan die gevaar egter dat hulle dit nie gaan doen nie en gevolglik op die verkeerde plekke gaan inlees, moet die komma liefs deur die digter gebruik word.
Hoe bepaal ‘n mens of die leser dit self sal kan doen? Lees die gedig hardop. As die sin verder oorloop as wat normaalweg verwag word (bv. in die geval van ‘n enjambement) moet die komma beslis gebruik word.
Uitroeptekens:
Pasop vir die oormatige gebruik van die uitroepteken. Meer as drie uitroeptekens per gedig vra dringende hersiening van die woordgebruik, want sodra teks uitroeptekens benodig, beteken dit dat ander woorde ingespan moet word om ‘n sterker effek te bewerkstellig. Waar ‘n uitroepteken wel gebruik word, word net een teken gebruik. Die slegte gewoonte van sommige skrywers en digters om drie of meer uitroeptekens langs mekaar te gebruik, versterk nie ‘n uitroep nie, maar dui eerder op die digter se onkunde.
Hoofletters:
Hoofletters kom meesal voor aan die begin van sinne en wanneer eiename (Sarie, Kaapstad, Coca-Cola) gebruik word. Pasop vir rekenaars wat die begin van elke sin outomatiese ‘n hoofletter gee - dit is irriterend vir lesers om in die middel van 'n sikliese golf skielik met 'n oorbodige hoofletter gekonfronteer te word.
God se naam word altyd met 'n hoofletter gespel. Eiename (behalwe as die digter die persoon of plek doelbewus wil degradeer) word ook met hoofletters gespel, al is dit ‘n gedig wat in kleinlettertjies geskryf word.
Indien die digter ‘n gedagte wil beklemtoon of ‘n persoon opgradeer/ophemel, kan ‘n hoofletter gebruik word. Indien ‘n persoon in ‘n negatiewe konteks voorgestel word, kan die naam doelbewus met ‘n klein lettertjie geskryf word. Vermy dit om groot gedeeltes van die teks in hoofletters weer te gee, of nog erger, die hele gedig in hoofletters te skryf.
Ander leestekens:
Gebruik leestekens net wanneer hulle ‘n besliste doel het. Moenie byvoorbeeld elke sin of strofe met ‘n aandagstreep of nagedagtenis (…) eindig nie. Sê vir die leser wat jy wil sê, dit is jou gedig.
Opsomming:
Leestekens gee orde aan 'n gedig. Om jouself te vergewis of jy leestekens moet gebruik of nie, is dit raadsaam om die gedig hardop te lees en te let op die ritme. Sou jou gedig se sinne 'n egalige ritme het en natuurlike ruspunte aan die einde van elke sin voorkom, kan 'n mens die kommas en punte gerus weglaat. Sou 'n sin egter oorspoel na die volgende reël en die leser pertinent na daardie nuwe asemhalingspunt gelei moet word om 'n moontlike verkeerde interpretasie van die teks te vermy, moet 'n leesteken soos ‘n komma of punt liefs gebruik word. Gebruik uitroeptekens spaarsamig en vermy aandagstrepe sover moontlik. Hoofletters kan orals weggelaat word, maar nie in geval van God se naam en eiename nie.
Vandag sal ‘n digter eerder die weglaat van ‘n leesteken as die verkeerde gebruik daarvan vergewe word. Wees dus waaksaam en maak seker jy weet wat elke leesteken beteken.
Voorbeeld van gedig met minimale gebruik van leestekens:
Holly
(Girl of the Playboy Mansions)
in die duurte van beierende klokke
het jy jou korset stuk vir stuk uitgeryg
die rondings van jou versugtinge
in en oor Playboy vasgestrik
die perkamentreuk van hoë mure
met duur parfuum probeer versoen
met ingetrekte naels oor die intiemheid
van vergeelde mufheid gestryk
jou blik vol oënskynlikhede
in 'n duisend prismas versplinterd
maar in die naklank het jy gemerk
hoe twee spierwit poue
hul verslete vere afskud...
en jy het, nakend, die galery uitgestap
'n Voorbeeld van degradering met behulp van kleinletters, kom in my gedig "Parthenon" (verkrygbaar op woes) voor.
Susan Grobler