365 Dae gelede…
..voel soos baie lank gelede. Voel ook soos gister. Mei 2, 2012 beheer nie meer my emosies. Die datum kondig maar net aan dat my een pad beeindig is, en ek ‘n nuwe pad loop. Fluit-fluit.
Dit was die dag waarop my lewe verander het soos handomkeer. Sonder enige waarskuwings. Of nee, die waarskuwings, die tekens was daar, maar ons het dit nie ‘gelees’ nie. Hoe sou ons dan weet dit is waarskuwings?
Dit was ‘n groot skok. Aanvanklik. Hoe beskryf jy dit as jou lewe, jou planne vir die toekoms, jou drome skielik afgebreek word tot op die grond? Jy dink, dankie tog ek het nie dit gedoen nie. Dankie tog ek het nie dat gedoen nie. Wat as ek dit wel gedoen het?
Om skielik, terwyl jy voel jy beweeg op ‘n golf,te hoor jy is een van die wat afgelê word, is soos yswater in die gesig wat afloop oor jou hart, oor jou lyf tot in jou skoene.
Tog moes ek voorgaan elke dag vir die volgende drie weke asof niks verander het. Niemand, nie eens die kliente moes weet. Dit terwyl jy min slaap, hard werk, en nog moet sin maak met wat besig is om te gebeur.
Die lewe loop sy eie pad. Jy moet dit net volg. Dapper. Met hoop. En geloof. Want as jy dit nie oor jouself gebring het, SAL God voorsien. Wees net rustig.
Ek het soms vroeg soggens hardop gesit en huil as ek deur die werksoek-blaaie op die internet gaan soek na ‘n nuwe toekoms. Want die vraag na ‘n blanke senior dame is min. Maar God het die perfekte werk op die perfekte tyd beskikbaar gestel. Vir my. Eksklusief.
En wanneer ek terugkyk op die 365 dae wat verby is, is ek eintlik dankbaar oor wat gebeur het. Want, selfs al is my salaris die helfte as voor die afgelope 365 dae, my werksbevrediging is dubbeld as voorheen.
++++