Selfverwyt en vergifnis
Jy sit vasgevang in 'n diep duister poel;
van nagdonker wat jou siel gevange hou,
van eensaamheid wat jou elke asemteug verstik,
van selfverwyt wat oor jou gewete spoel.
Jy weet mos wát dit is wat jou daar laat beland het.
Jy ken elke verskuilde pad waarvan jy afgedwaal het,
elke klag wat jy aanhoudend teen jouself inbring
wat jou hande bewend in jou skoot laat wring.
Hoeveel mense sonder skuld en sonder rede
wil jy nog, skaamteloos en verwoed,
diep in dieselfde donker poel werp
om saam vir jou sondes te boet?
Gaan kyk in die spieël na jou gesig.
'n Mens wat deur sy Skepper hier geplaas is,
tog seker vir n rede, vir n ander doel
as om te drink uit ‘n selfbejammeringspoel.
Dit het nou tyd geword om jouself te vergewe,
om jouself in die oë te kyk en weer te lewe.
Kyk na die mooi lig op die horison,
dit is genade wat vir jou opkom.
Kyk links van jou is die hand wat ek uitreik,
daar regs is nog meer hande om te gryp.
Sien hierin die liefdevolle hand van God.
Gryp dit vas en trek jouself weer op.