Tussen die blokkies van my lewenskaros
loop daar ‘n vriendskapsgaring.
Geweef deur omgee en patos
in die hande van my harstmense.
Knus word ek omvou
en in prag en praal gedos,
omvou en warm gehou
tussen die blokkies van my lewenskaros
Deur die fasette van my wese
trek daar ‘n goue draad.
Vasgevang in jare van vreug en vrese
loop daar ‘n vriendskapsgaring.
Geometriese vorms in aardse kleure
gelaslappie tot knus verborgenheid
dra ek my lewenskaros
geweef deur omgee en patos
Liefde as die naalde
trek met deernis omgeegaring
deur die laslappies van my wese
met die hande van my vriendekring.
In die hande van my vriendekring,
geweef deur omgee en patos
loop daar ‘n vriendskapsgaring
tussen die blokkies van my lewenskaros.
Truverse ©
Naas Breytenbach