Liewe Swart Nag, weet jy hoe haastig is ek dat jy moet aanbreek
ek wil so graag my kop diep onder jou blad insteek
Jy met jou lekker lang wegkruip ure
en digte vashou mure
Oneindig ver jou sterre wat wink
ek vra jou….is daar nie dalk net enetjie wat vir my ook blink?
Want ek het geen antwoorde op al die waaroms
die stille hoekoms of die ontwykende daaroms
Jy is soms by my maar so onbereikbaar hoog
jy brand my trane met al jou geheime kurkdroog
Saggies sluip jy weg en begin die dag se bekende ritueel
my vriend....ek is nog stukkend…alleen...en glad nie heel
Sal jy perdalks vanaand vir my ‘n geskenkie bring
emmers vol liefde, geloof en hoop toegevou in ‘n wolke-kring
Ag en as jy wil….so ‘n klein skeutjie oorwinning oor almal wat spot en lag
want nou na alles is selfs my binneste uitgeslag
Dit fladder sommer daar in die straat soos ‘n opgefrommelde liefdesbrief
en lucifer dans smeulend op die maat van sy oorwinningslied….