Eerstens stoot daar ‘n gevoel van bitterheid in my op teenoor sommige ouers. Mense moet nou nie hier kom sê dat ek alle ouers onder dieselfde kam skeer nie, ek besef tog te goed dat daar baie ouers is wat hulle deel doen, en ek besef ook dat daar ouers is wat werklik moet werk om net in basiese behoeftes te voorsien. Daar is nie ‘n bediende in daardie huishouding nie en die kinders leer dus om hulle deel te doen. Hulle leer roetine en dissipline, verantwoordelikheidsbesef en dus eiewaarde. Dit kweek respek, nie net vir homself nie maar ook vir ander. Waardering vir dit wat hy het en dit wat hy kry. Jy kan maar ook gaan kyk en sien dat dit hierdie ouers is wat genoeg tyd en aandag aan sy kind gee.
Ek is verbitterd teenoor ouers wat kinders verwek en nie ‘n flenter omgee oor hulle opvoeding nie. Julle kan my maar stenig, maar daar is duisende ouers wat werk net om van die las van huiswerk en kinders- grootmaak te ontvlug. Daar is altyd uitsonderings op die lys, maar dit is hierdie kinders wat geen dryfkrag het nie. Hulle het geen eiewaarde nie, geen selfrespek nie. Hulle voel: “Laat God’s water maar oor God’s akker vloei.
Niemand gee om nie, hoekom moet ek. Ek het nog nooit vir iets gewerk nie, hoekom moet ek nou?”
Daar is wel kinders wat uit sulke en ander haglike omstandighede kom, wat besef dat hulle anders wil wees.
Dit is gewoonlik vir daardie kinders waar die onderwyser sy goud werd is in dubbel sy gewig. Hy of sy is die steunpilaar vir daardie kind wat wil. Die onnie is die opvoeder. Vir daardie onnie is skoolhou ‘n roeping, nie ‘n werk nie. Vir ons samelewing is hierdie onnie onvervangbaar.
Regte? As kind het ek geen regte gehad nie. Slegs voorregte. My kinders het ook geweet dat kinders voorregte het. Dit was ONS as OUERS se VERANTWOORDELIKHEID om toe te sien dat ons kinders ‘n dak oor hulle kop, klere aan hulle lyf, ‘n goeie opvoeding ens. gekry het. Dit was nie hulle REG nie. Ek het my kind ‘n goeie opvoeding gegee want EK was, is en sal altyd, VERANTWOORDELIK vir sy optrede wees. Voetsek met jou REGTE!!
Kinders wat oorbeskerm word leer nooit om verantwoordelike grootmense te wees nie. As ‘n kind verkeerd opgetree het moet hy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Die onderwyser het meer as genoeg werk om te doen, dink jy hy is sommer net verveeld en roep jou in vir ‘n bietjie geselskap? Nee, hy is besorgd oor jou kind se opvoeding, want dit is wat hy is, ‘n OPVOEDER. Hy doen dit nie omdat hy MOET nie, hy doen dit omdat hy WIL !! Die minste wat jy as ouer kan doen is om die onderwyser by te staan in sy taak wat eintlik jou taak is.
Jy as ouer moet beheer hê oor jou kind. Hierdie beheer kry jy van sy geboortedag af. Dit is HIER waar dissipline en roetine begin. Jou verantwoordelikheid begin by konsepsie, maar jou beheer begin hier. Sodra jy beheer aan die kind afstaan sal hy of sy jou oorheers en jy sal nog lang trane huil.
Volgens my is enige onderwyser goed toegerus om probleme te hanteer. Daardie “hands on” ervaring wat hy elke dag opdoen gaan elke sielkunige verby. Teorie is een ding, maar hy pas daardie teorie elke dag toe en hy kan sien wat werk en wat nie. Die sielkundige moet kom handvat en nouer met die onderwyser saamwerk. Hy het baie om by die onderwyser te leer.
Een leemte wat daar wel bestaan , is dat onderwysers wat vir skoolbeginners skoolhou, nie goed genoeg toegerus is om leesprobleme te identifiseer nie. As ek my sin kon kry sou ek daar ‘n verandering wou sien plaasvind en ek werk hard daaraan.
Wat baie verblydend is, is dat daar ‘n tendens onder jong ouers is wat sug na inligting oor kinderopvoeding. Nie soseer net boekekennis nie, maar hulle klop aan vir hulp by dié met ervaring van kinders grootmaak. Daar is ‘n vlaag van belangstelling. Dit is hier waar die onderwyser, nie net in sy hoedanigheid as onderwyser nie, maar ook as ouer, bydraes van onskatbare waarde kan maak. Weereens, nie omdat hy MOET nie, omdat hy WIL.
Laastens, ons het kinders gekry om van hulle aanvaarbare volwassenes te maak wat hulle plek volwaardig in die samelewing kan volstaan. Hulle moet die aanslae en uitdagings van die lewe met moed, durf en daad kan aanpak. As ons daarin slaag, dan slaag ons in ons roeping as ouers.
Piet Mariet