Julle ken hierdie petite mensies wat hul ware sommer so in die gange van die malls verkoop. Die Israeliete wat ek nou van praat. Sulke dun mannetjies en klein vroutjies met gitswart hare en oorywerige verkoopsvernuf. Ek side step hulle met ‘n genies en gesoek in die handsak vir ‘n tissue. Hulle lady, lady, maar ek koes.
Nou, as ek gaan brekfis in Tygervallei dan moet ek nou verby hierdie een slap riem loop. En moenie dink jy kom verby nie, nee, hy bekoor jou van doer agter die toonbank tot jy jouself voor hom vind met oë wat hy gevange hou. En hou. Amper soos 'n magneet.
Aviv, is sy naam, se hy, soos in Tel Aviv. Mooie naam vir ‘n mooie man. (Myne kon hy nie gese kry nie. Nie baie mense onthou myne nie, Aviv. No harm done.) So ‘n donker man met sjarme wat soos ‘n nertsjas om hom hang. Vertel hy my hy kom van Israel. You know Israel? Nee, Aviv, ek kom van SA, ons gaan nie hier skool nie. You know the Dead Sea? Nee, Aviv, ek weet niks van die Dooie See nie. Have you heard….??? En net voor ek my strip, vat die mannetjie mos my hand terwyl hy nog steeds my oë vashou en hy soen my vingerpunte so liggies, ek dog dis ‘n skoenlappertjie wat wil land.
Aarde, ek syg amper neer. Vra uit oor die husband en die kinders en voorspel dat ek nie vir lank meer sonder ‘n husband gaan wees nie. (Dalk het hy 'n kristalbal.) Weer syg ek amper neer. Ek dog die mannetjie wil my vra om saam met hom te gaan mud bath in die Dooie See, maar nee, hy het ander planne. Beloer my naels en vertel hoe verskriklik droog my naels en vel is (asof ek dit nie weet nie) en bring daar samples van modder en naelgoete en begin vyl en puff en poets en siedaar, blink gepoleerde naels wat jou ‘n hele maand gaan hou. En ek dink jy praat tjol, mooie Aviv, ek het al van die goed gehad en dit is nie so potent nie. Six hundred Rand, sê Aviv. Not over my dead body (body...body..), sê ek. Ok, I give to you for (en hy kom nog nader na my gesig en loer kamtig rond) R400. No thank you, seg ek.
En so bring ek die prys af na R200 en nog ‘n stel vir my lovely daughter. Maar ek koop nog steeds nie.
Deesdae, as ek verby Aviv moet loop, glip ek by ‘n winkel regoor hom in en loer van agter die rails. As hy nie diekant toe kyk nie, glip ek uit. Soms gebeur dit dat hy my sien, dan waai ek net en sê, Hi, Aviv! Hy like dit vreeslik dat ek sy naam onthou. Maar jitte, wie kan dan nou nie die naam koppel aan daai vlinderlanding van ‘n vingertopsoen nie.
©Elsabe