Tsitsikamma se oceanettes is werklik net “nests”. Agt tree lank en tien tree breed. Kombuis, (enkel wasbakkie, yskas en stoof) sitkamer, (bank teen die dubbelbed se voetenent) eetkamer, (‘n bedieningstoonbankie met ‘n mikrogolf op en drie kroegstoeltjies) alles in een. (Dit is nou oopplan in al sy glorie.) Wanneer jy van gedagte wil verander moet jy dit op die stoep gaan doen. Daar is net nie genoeg plek in die “huis” nie.
Ons het die plekkie in 1986 ontdek en sedertdien, elke geleetheid aangegryp om hier te kom kuier vir ‘n paar dae. Hier waar die see op sy diepste is en sy mag met groot respek afdwing. Hier waar jy net een kan wees met die natuur, waar niks ooit opwindends gebeur nie. Net die rustige geklots van die golwe en die branders wat gedurigdeur dieselfde deuntjie oor en oor sing, of met tye tot agt meter hoog kan stoot en soos kanonskote klink as dit omval. Waar die wind die skuim kom opraap en dit soos wit albatrosse deur die lug jaag.
Dit was negeuur in die oggend. Ek sien die stoeplig brand nog, stap in die kombuisie in om dit teen die muur by die deur af te skakel. ‘n Geluid agter my laat my niksvermoedend omkyk. In plaas van om my man wat nog enkele sekondes gelede gelê en slaap het daar te sien, sit daar ‘n groot bobbejaanmannetjie op ‘n kroegstoeltjie voor die toonbank, vier tree van my af.
Ek hoor ‘n vrou onaards op die indringer gil en besef met eens, dit is my eie stem wat vanself sulke geluide maak en my eie bene wat sommer op die gedierte afstorm.
Kees se kind is seker gewoond aan sulke optrede. Blitsvinnig gryp hy die naaste plastiekbak met kos in, woerts uit by die deur, om agt meter verder, koggellend op die stoepmuurtjie te land. Hy kyk my mooi in die oë en ek kry die boodskap: “Jy is te stadig vir my!” en woerts glip hy met bak en al oor die muur om twee verdiepings laer, op die gras, die inhoud van die bak, rustig, gewetenloos, te sit en verorber.
My brein probeer nog om die gebeure te verwerk, van bobbejaangesig in die plek van manlief s’n, hoe vinnig dit gebeur het, hoe onverhoeds ek betrap is, en onbeheersd begin my lag in my keel opstoot. Wat is dit tog met my lyf wat vanoggend so vanself funksioneer, dit is niks om oor te lag nie. Langs my staan manlief, vervaard geskrik, fel uit sy oggendslapie geruk. Dit was ‘n meneer van ‘n bobbejaanmannetjie vertel ek. Hy het hom gesien, sê hy en hy vat my bewende hand in syne en sê: “Hê-hê, ek was geskok om te sien hoe jy deur die nag verander het!”
(463 woorde)