Author Topic: Die Hond genaamd Stomp..  (Read 3207 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Die Hond genaamd Stomp..
« on: October 08, 2011, 08:36:57 AM »
Die Hond genaamd Stomp

So beland ons in Hennenman nà jare in Plett.  Ons wroeg met verlange en aanpassings in die nuwe provinsie sonder ‘n oseaan.  Selfs Ketat wat moes agterbly by ‘n vriendin, verlang haar dood en die arme kat loop vlei in.  Is nou nog soek.
Ons betrek ‘n huis langs die Dominee en twee treë vanaf die kerk.  Die laerskool is net oorkant die straat.  Alles hierdie is aan die rantjie van die dorp en ons het ‘n stukkie veld aan ons oostekant vanwaar die muise ons huis inval… in hulle trosse.  Ek wil my tas pak en terug loop Plett toe.  Manlief moet net keer.
So besluit my man ‘n hond sal die gesin voltallig maak.  Ons sal kos gee, bietjie in die veldjie gaan stap na werk met die gedierte en sommer muise en kiewietjies jag.  Dit sal goeie oefening en afleiding wees vir die klompie van ons.  Maar ek het my bedenkinge.  Ook sidder ek by die idee dat EK die hond se bolle sal moet optel.  (Het ek dit nie al moes doen vir die huis se honne al die jare nie?)  Ek wil nie byt nie.  Maar die hond daag op vanaf  een van die plase in die omgewing.  Nou, mans het net nog nooit daaraan gedink dat bollemakende honde  lakens wat flap in die wind op die wasgoeddraad sal aansien as iets wat hom uitnooi om mee te speel nie.  Lakens en hemde word fladders-in-die-wind.  Ek kry ‘n gly in die hond… en my man.  Ek soebat en smeek dat die hond moet terug plaas toe.  Ek dreig met skei, maar die hond bly.  Ek ook.

Stomp is hierdie verskriklike vriendelike, swaaiende, draaiende  stuk hond wat op almal spring wat kom kennis maak.  (Stomp het sy stert verloor toe hy op ‘n slagyster gaan sit het, vandaar die naam Stomp).   Dominee kry ‘n aardige verwelkoming van tjankies en agterlyf-swaaie en ‘n bors-tot-bors-in-die-oë-kyk-hallo-buurman wat my laat gluur in my man se rigting.  Ek maak solank skelwoorde bymekaar vir later as die dominee weg is.
Stomp neem die dorp oor.  Bedags as almal weg is en Ouma ignoreer Stomp, blaf en tjank hy dat die honde aan die anderkant van die dorp antwoord gee.  Ons besluit om hekke oop te gooi dat Stomp maar kan loop veldtjie toe as hy wil.  Maar Stomp verkies die strate en die winkels van die dorp.  Alles is in rep-en-roer oor die vriendelike hond wat aan pille en poeiers snuif op die apteek se rakke, afval stukkies vleis bedel by die slagter, by Foschini sy been gelig het teen ‘n tabbert (WAT EK MOES BETAAL)...  Stomp word deur almal aanvaar as die nuwe intrekkers se verwaarloosde aandagsoekende hond.  Maar Stomp wil meer hê as wat ons tyd kry om te gee.  Dit wil my voorkom dat hoe meer ons gee, hoe meer wil Stomp hê.  Ek sidder.

JP is in die laerskool oorkant die pad.  Bedags is Ouma by die Strauss-tuiste besig met dingetjies waarmee ouma’s hulle besig hou.  So is sy ook beskikbaar vir JP as hy van die skool kom.  Engel uit die hemel , noem ek haar.  Die twee is soos die spreekwoordelike ‘two peas in a pod’.  Een oggend hoor Ouma hierdie geweldige geskree na haar vanuit die skoolgronde.  Sy storm die huis uit en sien Stomp wat homself en JP rondswaai in ‘n frenzy van opgewondenheid om JP naby hom te hê.  Dit kom uit dat Stomp skool toe is om sy kleinbasie te gaan soek en veroorsaak groot konsternasie in die klas toe die standard 2’s almal opspring om Stomp ‘n drukkie te gee.  JP word beveel om Stomp huistoe te neem en te sorg dat hy nie weer in die skoolgrond inkom nie.  Dis waar Ouma die prentjie sien van ‘n verwoede kind en ‘n  hond wat sy kleinbaas rondswaai.  JP kry ‘n glas koeldrank en Stomp word agter toegemaak, al protesterende, tot ons by die huis kom en die verhaal hoor. 

Ek werk by ‘n bank op die dorp.  Ek hoor iets soos ‘n sak vel en been wat op die toonbank neerval en kyk op, vas in Stomp se liefdevolle, vriendelike gesig.  Hy het besluit om te kom hallo sê vir sy ma.  Twee groot voorpote en ‘n druppende tong wat halfpad uithang en ‘n paar donkerbruin glinsterende oë, wag vir my by die toonbank.  Ek word warm.  Ek word bewus van die gestoei op my tong deur letters wat hul plek wil inneem tussen die ‘f’ en die ‘k’.  Gelukkig kry die ‘r’ en die ‘e’ die oorhand oor die ‘o’.  Ek storm na voor en moet stoei met die hiper energieke hond om hom by die bank se deur uit te kry.  Ek sukkel om hom op die kar se agtersitplek te kry.  Stomp weier.  Ek raas.  Ek smeek.  Ek kry ‘n kragwoord of vyf onderdruk, want by die tyd vorm ‘n klein gehoortjie van mense wat na die daaglikse straatopvoering deur Stomp kom kyk.  Ek besluit net daar ek skei.  Van my man wat hierdie gedierte oor ons gebring het.  Van hierdie stuk hond wat Stomp heet.  Van hierdie dorp wat so vêr van die see is.  Maar eers moet ek my man skakel om die hond te kom wegvat.  Diè lag net vir my verleentheid. 

Woensdagaande word koor geoefen.  In die kerk.  Bo-op die gallery.  Tant Polly, die koorafrigter en ook orreliste, is ‘n stigtelike dame wat geen nonsense verdra nie.  Die hoof ouderling is ’n  gesiene boer uit die omgewing.  Baraton stem.  Verdra ook geen nonsense nie.  Ek sit met my sangstuk heel ordentlik tussen die ander soprane verste van die trap af toe Oom Baratonstem vra wie se hond is dit hierdie.  Stomp kom plof plof trappe op, bo-oor oom Baratonstem, bo-oor die basse, bo-oor die deskante, bo-oor die alte tot by my.  By hierdie tyd het ek tot ‘n krieseltjie gekrimp tussen bank en sangstuk.  Dit help niks.  Ek moet maar weer tot my rooiwarm glorie terugkeer en om verskoning vra vir die konsternasie en die spoegdruppels op die stigtelike tannies se uitrustings.  Stomp word aan sy nekvel vasgevat, bo-oor ‘n hele pare bene gesleep-dra, trapaf en paadjie-af, al tjankende, tot by die huis.  Ek is woedend vir Stomp.  Ek is woedend vir my man.  Ek is woedend vir honde wat nie opgevoed en geleer kan word nie.  Ek is woedend vir die boer wat gesien het hier is ‘n geleentheid om van die stomp hond ontslae te raak.  Ek besluit tot hiertoe en nie verder nie.  Stomp moet terug plaas toe.  Die hond sal nie deug in die dorp nie. 

Net soos ek nooit my voete in die Vrystaat kon vind nie, kon Stomp nie aanpas in die dorp nie.  Stomp was, wel, stomp.  Daar was net nie salf te smeer aan hom nie.  Hy kon nie leer nie.  Het ‘n woeste neiging gehad om almal met ‘n gatswaai en paar spoegdruppels welkom te heet.  Dit was byna onnatuurlik stil en rustig op die klein Vrystaatse dorpie nà Stomp se weggaan.

En dan het ek nog nie eens vertel van die dag toe Ouma hom kry waar hy in die kombuis die melktertvulsel uit die kors lek nie.  Droewige dag gewees vir Stomp.  Baie besige dag gewees vir Ouma, want sy moes weer van vooraf melktert bak vir die basaar.


elle

Offline Naas

  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #1 on: October 08, 2011, 11:08:38 AM »
Stomp en prettige humor met finesse vertel. Dankie. Ek het dit nou geniet.






 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #2 on: October 09, 2011, 07:51:11 AM »
Jmmer dat Stomp moes terug plaas toe, het skoon lief geword vir die stomp hond.   :icon_biggrin:
Dalk kan daar 'n vervolg wees, kan hy nie maar terugloop dorp toe nie?

Dankie Ellé, dit was heerlik om te lees, en soos ek sê, net effens te kort. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #3 on: October 09, 2011, 06:12:49 PM »
Giggles... Bly jy het dit geniet.
Miskien word ek weer in die middel van die nag wakker en onthou watter griewelikhede daai hond alles aangevang het.
Die goed kom le mos in die nag op my tong en dan moet ek opspring om die woorde te tik.
elle

Offline Louis

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 163
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #4 on: October 10, 2011, 07:51:53 AM »
n lekkerlees storie. ek hou van Stomp, hy klink soos n erg woelige outjie. onbeheerst maar ougat

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #5 on: October 10, 2011, 09:15:42 AM »
Ek hoop Stomp kom kuier nog baie by jou in die nag, dan kan ons nog meer van hom hoor.  Dankie Angelica.
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #6 on: July 07, 2013, 03:05:19 PM »
Jitte julle, die hond was verwoed woes!!
Maar ok, ek sal verder vertel van Stomp en sy kaskenades.
(Dat 'n bleddie stout hond jou tot in jou aftree-jare so moet bespook.)
elle

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #7 on: July 07, 2013, 04:36:21 PM »
Ek wag net hier!  My plek voor in die ry bespreek!   :hello2:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Die Hond genaamd Stomp..
« Reply #8 on: July 08, 2013, 11:07:30 AM »
Maak plek suster, ek sit saam  :hello2: