Vir jare reeds sukkel jy
om my te vervorm,
werk jy verbete daaraan
om my stukkie vir stukkie
te beitel sodat ek netjies
in jou boksie kan pas
my kindersiel moes aanpas
by norms van ordentlikheid
ek mog nie uitstaan bo dit
wat jy as fatsoenlik sien
pynlik stadig het jy stuk stuk
meedoënloos afgeskil,
‘n goeie vrou van my rebellie gemaak.
met leë belofte beitels
elke ideal wat wou uitbreek
netjies afgekap
tot ek pille moes drink
om myself te vind
jy het erkentenisse
uit my gederm,
my diepste geheim,
my grootste versugting
in stukkies uit my geryg,
dit soos ‘n bondel klei
in jou hand gehou,
soos ‘n kind daarmee gespeel,
dit vervorm, geknie, gekneus
toe omgedraai en agtergelaat
verveeld aanbeweeg na nuwe klei.
nou is ek netjies vierkantig,
reg om in my boksie terug te klim,
maar opstand vulkaan steeds binne my
roep om uitbarsting.
Hou aan met kap en beitel,
hou aan karring aan my hart,
tydelik sal ek ingee, tydelik verdra,
met trane my wonde heel,
maar eendag gaan my drome uitbars,
seer lawa oor jou spuit,
jou verswelg, opsuig,
tot jy soos water in sand wegraak,
want – Lewe,
Ek weier om in te gee!