Die Biblioteek > My gunsteling gedigte van die groot meesters

Waar ruwe rotse C.M. van den Heever

(1/3) > >>

PM:
C.M. van den Heever

Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip 'n voet en drillend val 'n roer...
'n skerp geskuur – 'n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp 'n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward...sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

'n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs...die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by...die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...”

'n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans 'n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”...’n skoot gedemp en dof...
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil...die aasvoëls kras...’n vader staar.

Fransi:
Sjoe, dit is een van daardie gedigte wat maak nie saak hoeveel keer jy dit lees nie, jou hart elke keer in 'n vuis vasgryp.

PM:
Presies matertjie, jy beskryf dit perpek!

Meraai vannie Baai:
Elke keer as ek dit lees, staan die hare regop!!

Meraai vannie Baai:
Meraai vannie Baai and 5 Guests are viewing this topic. Ons lesers lief ons taal ewe veel  :notworthy: :icon_salut:

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version