Kouwit
Bemasker... Gesaniteer... Geisoleer...
Vryheid ontneem maak seer.
Doodsweet... Masjienasem... Longpyp...
Koue wit realiteit
Konkelteorie? My gat.
Kouewit sif soos sneeu,
eers een, toe twee, vier, tien...
Verspryding skep paniek.
Bemasker... Gesaniteer... Geisoleer...
Regeerders sluit die deure,
Jan en allerman gaan tekere.
Toiletpapier sonder drank...
Vryheid ontneem maak seer.
Ongekende siek wees
Slaan die mensdom plat...
Mediese sentrums oorvloei...
Doodsweet... Masjienasem... Longpyp...
Sosiale media gons,
Google PhD versprei gemors.
Dodetal styg stadig maar konstant...
Koue wit realiteit.
Die tweede vlaag waai in
Met nuwe stringe kouwit sneeu.
Siekte... Sterftes... Hartseer...
Konkelteorie? My gat.
Konkelteorie? My gat.
Koue wit realiteit.
Doodsweet... Masjienasem... Longpyp...
Bemasker... Gesaniteer... Geisoleer...
©Naas Breytenbach
5 Januarie 2021