Oupa horlosie se laaste klanke
tril saggies by middernag verby.
Wie gaan daar…
so onrustig…?
Vra ek vir my…?
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
Oë rek witwyd oop,
koue angsweet pêrel my voorkop nat.
Die houtvloer, nou al sement,
maar die houtklanke dra nog die
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
Om die kampvuur vertel Oupa
van oom Houtbeen Daan
en daai weghol perd…
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
In die gang af slof… tok… oom Daan.
Die foto van ouma Gesie
kyk grootoog deur sy sukkeltog
soos hy langsaam
gang af gaan.
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
Vanaand is die aand…
Vanaand staan ek vas…
Weghol… ek…
Nooit!
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
Oom Daan skuif nader.
Verbeel ek my…
of knipoog ouma Gesie.
Hoekom bewe die bene
van pajamabroeke so maklik?
Slof… tok… Slof… tok… Slof… tok…
Dan is hy voor my…
teen my…
koue hardloop ribbokspoortjies
teen my ruggraat af
as oom Houtbeen Daan
Slof… tok… Slof… tok…
dwarsdeur my gaan.