Vyf is die sintuig van passie
Sig
Ek tuur na die foto-gravure
Na die jy daarbinne verskuil
Ek sien die lag-kreukels neffens die oog
Ek sien ook die glinstervonkel van lewe
In die blink van jou oë
Gehoor
Ek spits my oor as ek die voordeur hoor
In afwagting luister ek vir jou diep manlik stem
As jy vir my sê ek is tuis my lief
En die klokkespel
As jy skalkies na my lag
Smaak
As jy my in jou sterk arms omvou
My lippe saggies oopdwing
Spoel die passie van jou kus
In kabbelende jeripigo-nektar stroompies
Oor smaaksensasies van my tong
Gevoel
En as ek my vingers so wulps-speels
Deur jou krullebos vroetel
Wyl ek jou lippe stywer op myn trek
Dan steek daardie vyf-uur stoppelbaard
In heerlik eina-seer teen my lippesag aan
Reuk
Die nagedagtenis van jou naskeer
Vermeng in subtiel sag warreling
Met jou man-man muskus feromoon
In die doolhofpoorte
Van my reuk-kasteel