Die dood... Ek het 'n rukkie gelede besluit dat dit tyd geword het om 'n nuwe verjaarsdagalmanak saam te stel. Meer as die helfte van die name op my oer-oue almanak is nie meer met ons nie. Die dood het 'n angel wat seer steek, soos 'n giftige skerpioen, die verskil is net dit maak jou nie fisies dood nie.
Die selfverwyt kan jou van jou sinne beroof as jy jouself nie vergewe nie. Dit is al wat nodig is. So eenvoudig. Vergewe jouself. Dit is tog nog net jy wat iets teen jouself hou. Die persoon wat nie meer daar is nie hou niks teen jou nie.
Die aand voor my mammie dood is het ek vir haar gevra of daar iets is wat sy teen my hou en sy het nee geantwoord. Tog het ek myself gek gemaak oor klein dingetjies wat ek gedoen het en groot dinge wat ek nie gedoen het nie. Dit was so erg dat ek slapelose nagte gehad het. Een nag, terwyl ek sluimerend myself so verwyt, voel ek dit is asof sy by my op die bed kom sit, haar arms om my vou en vir my sê dat sy baie lief is vir my en dat ek net myself moet vergewe, want sy hou niks teen my nie. Ek het omgedraai en aan die slaap geraak en die volgende dag natuurlik nie geglo wat gebeur het nie. Net 'n slaapbeneuwelde droom, maar dit het gewerk.
Die rouproses is iets wat elke persoon op sy eie moet hanteer. Ons is almal anders en hanteer dinge anders. Selfs elke ander persoon wat jy in jou lewe aan die dood afstaan ervaar of hanteer jy anders. Daar kom egter 'n tyd in die rouproses waar 'n mens moet gaan stilstaan en jou verstand inspan. Dit is nadat jy kwaad geword het, klippe geskop en vuiste stukkend geslaan het, gehuil en inmekaar gekrimp het, gedagtes fyngemaal en gesif het. Dit was en is jou reg, maar as jy 'n gesin het moet daardie rouproses binne 'n redelike tyd afgehandel. word. Die dag as jou kind voor jou kom staan, nadat jy 'n kind verloor het en vir jou sê, "maar jy het darem nog vir my!" dan ruk dit jou terug na die werklikheid en jy besef, die lewe gaan aan. Dit is onnodig om ander om jou te "straf".
Dit is nie 'n maklike pad nie, maar ons moet dit nie vir onsself onnodig hel maak nie. Ons kan kies om ons gedagtes in 'n ander rigting te stuur. Regtig ons kan. In die begin is dit baie moeilik, maar mettertyd raak dit makliker. Die gemis raak ook minder. Met tyd leer ons om daarmee saam te leef. Met tyd leer ons om te lag oor al die pret wat ons saam gehad het, onthou ons al die mooi, kosbare dinge wat ons gedeel het en dan raak dit makliker. Alhoewel elke wond 'n lidteken oorhou, sal Vader Tyd alle wonde genees. Met tyd!