Ek onthou die geskarrel by Ouma en Oupa se huis as ‘n storm oorgekom het. Die spieëls is met handdoeke, lakens en kleedjies toegegooi. Selfs die weermannetjie, nou donkerblou, is met ‘n doilie toegegooi. Seker het die blinkertjies daaraan ook die vermoë gehad om die bliksemstrale te weerkaats. Ons almal is in ‘n kamer ingeboender en daar moes ons in die donker sit. Tjoepstil. Geeneen sprak g’n woord. Ek weet nie of Ouma in die stilte gebid het nie, dit het altyd so gelyk. Terwyl die blitse deur die huis geskeur het en die rammeling van die storm die ruite in die vensters laat ratel het, het ons grootoog gesit en kyk na die grootmense wat soveel ontsag vir ‘n storm gehad het. Oupa het besluit wanneer dit veilig sou wees om die kamer te verlaat en die spieëls weer van die drapeersels te verlos. Dan het Ouma die ketel water nader getrek tot hy sing. Koffie en ‘n sny tuisgebakte brood met appelkoos jam, het alles sommer weer normaal gemaak.
Miskien hieroor dat ek vandag midde-in ‘n storm wil staan en èèn wil word daarmee.
Ek is al self eenkeer byna omgeklits deur ‘n weerligstraal wat hier vlak by my voete kom lek het. Dit was baie jare gelede toe ons nog op die plaas was. Naby Plett. Dit was die ergste storm wat ek in daardie deel beleef het. Ons het almal op die stoep gesit en kyk na die blitse en die vreeslikste slae en gerammel soos dit verder weg beweeg see toe. Dit het toe nog nie gereën nie en alles was geweldig stil en amper gewyd. Self Pappa wat altyd in beheer was, was stil. Die diere het bondels gemaak en die honde het kom skuiling soek onder ons stoele. Nà ‘n geweldige slag en ‘n blits wat direk afgekom het, het Pappa skielik opgestaan uit sy stoel en gewys na waar ‘n rokie optrek uit die jong denneplantasie. Baie gou het die slingerfone gesing en die aangrensende boere het met trekkers en sleepwaens vol waterdromme gekom om te help blus aan daardie vuur. Gelukkig het die reën kort daarna begin val en was die skade in die jong plantasie nie so groot nie. (Ek wonder nou waar Mamma was op daardie dag, dalk onder ‘n bed). ‘n Paar skape is ook raakgeslaan en later kon jy die geskroeide wol op hul rue sien en ook dit ruik.
Ek het weer sulke erge storms beleef in die Vrystaat.
Nou, Ouma, oftewel my ma, is vrekbang vir storms. Jy sal haar in die donkerste hoekie in die verste deel van die huis of sommer bloot onder die bed kry tydens so ‘n storm. Al wat sy uitkry as die weer die dak tref, soos sy sê, is ‘n oeeee met ‘n ineengetrekte lyfie en die arms bo-oor die kop. So asof die slag spesiaal na haar soek om te tref.
Dit was al naby middernag toe ‘n helse storm die dorp tref. Die water het soos ‘n volvloed rivier van bo-af gekom en amper alles weggespoel daardie nag.
Die huis was groot met ‘n lang gang vanaf die hoof slaapkamer tot bo by die punt van die gang waar Ouma en JP, my seun, se kamers was. Ek het bietjie baie naby my man se rug gelê daardie nag en gewonder of ma en kind ok was. So met die opstaan om te gaan kyk, sien ek ‘n bondel bewegende lywe in die slangposisie stil gang-af kom. Omdat die elektirisiteit toe al uitgeslaan was, moes ek maar wag dat die bondel nader kom om te sien wat dit dan nou is. By ons kamerdeur het die bondel ook klank bygekry en ek kon die ding identifiseer: Ouma, kind en hond het saam-saam gang-af gekruip tot by ons in die kamer. Daar het Ouma snelvinnig in die bed gespring en haar skoonseun omhels. JP en hond het tot bo-op die bed gespring en ‘n kombers oor hulle getrek. So het ons tjoepstil gelê en luister na die storm, Daddy op die randjie van die bed, dan Ouma asof sy vasge-glue is aan haar skoonseun, dan ek op die ander randjie van die bed en kind en hond somewhere inbetween. Kort-kort het giggels van my kant gekom oor die ironie van die situasie.
Hoekom so snaaks? Dit was seker al keer dat Ouma haar skoonseun omhels het, want die twee het nie baie kere vatterig geraak nie.
Deesdae is Ouma nie meer so bang nie. Miskien besef sy nou dat sy nie die uitverkorene is as die weer ontstig is nie. Maar ek wil nog steeds èèn word met ‘n storm.