hierdie gedig 2 uur die oggend geskryf nadat ek uit 'n malariakoma wakker geword het.
Ek kyk op na my Bolandse berge
Donkergrys, gekroon met wit slierte hare
Silwergrys langes die slape
Soos 'n oumens in sy jare,
Ek voel my oë swel saam met die dam
Wat tranerig oorloop in 'n silwer doolhoof
Vallend, skuimend oor ongestrykte voorhoof
En ek volg dit verder soos dit gaan
Tussen klipgepokte neus en rimpel wang
Tot waar lowergroen snor op bolip hang.
Deur die snor, oor grot wat oopmond gryns
Stort dit af tot op die slykgroen kinnebak
Terwyl gevlerkte muise dankbaar neerkyk uit die dak.
Kaalgespoelde klippe vertraag die skuimende gejaag
Tot waar die berg se voet staan in die dal
Om moeg en uitgeput in die wegvoervoor te val.
Dan word dit opgetel en meegesleur
Om bok-bok te speel oor klippe
En te borrel deur die bossies en die wippe.
Ek kyk af en sien die tranekolle op my voete
Hoor hoe dier en veld hul woordeloos verbly
Dit fluit en suis en juig oor lewenswater wat dit kry.
Ja, dit sneeu weer op my Bolandse Berge.