Daardie sinkende, lam gevoel... My motor se sleutels is weg. Of liewer, dis nie in my sak waar ek dit altyd sit nie.
Terug op my spore deur die wandelgange van So-dom en Cremora op soek na my sleutels. Vra by elke winkel of daar nie ‘n stel sleutels met ‘n flitsie en ‘n deurmekaar Rubik Cube aan ingegee is nie. Altyd dieselfde antwoord en meerwaardige kyk. “Ongelukkig nie. Jammer Meneer.” Al die pad terug tot by die motor.
Partykeer val dit uit my sak of steek ek my sak mis as ek die sleutels daarin bêre. Daar’s my sleutels nog veilig in die aansitter binne in die motor toegesluit. Dank vader! Ek dag ek het dit verloor.
Ek is terug winkel in om my inkopies klaar te maak. Nog een item wat bykom, ‘n liniaal om die motor se deur mee oop te maak. Daar was ‘n tyd wat vroulief my gemiddeld so twee keer ‘n week gebel het om te sê sy het die sleutels in die motor toegesluit. Dan moet ek alles los, ‘n motor by ‘n vriend leen en met my liniaal gewapen, die deur gaan oopmaak. Dis of dit, of ek slaap weer in die bad daai aand, al was die penarie waarin sy verkeer nie my skuld nie. Ten einde raad trek ek vir Wouter nader. (Dis nou my seun van 7 jaar) Ek spandeer ‘n paar minute om hom liniaalopleiding te gee en sommer gou raak hy die kuns om die deur met die werktuig oop te sluit baas. Om die waarheid te sê, hy doen dit vinniger as wat ek dit doen met die sleutel. Ek redeneer so dat, aangesien straatkinders dit kan doen hy seker ook die voorreg kan geniet. Toe is dit lekker, want as mammie bel oor die sleutels in die motor sê ek net. “Vra vir Wouter.”
Een Saterdag oggend stop ek by die kitsbank. Langs my staan daar ‘n soortgelyke motor met ‘n baba op die agtersitplek. Die baba skreeu blou moord. Die ma staan buite histeries en gil en al wat ‘n ridder op ‘n wit perd, en nog ‘n paar op swart perde en een op ‘n skimmelhings, staan en sukkel om die bestuurder se deur oop te kry, want... die sleutels is saam met baba in die motor toegesluit vir veilige bewaring.
Ek sê vir Wouter hy moet gou langsaan by die winkel ‘n liniaal gaan haal en die deur vir die tannie oopmaak terwyl ek gaan geld trek, want ek is bietjie haastig.
Toe ek uitkom is daar eers chaos.
Die tannie staan met die baba op die arm en die ridders staan en skel op my kind. Maar Wouter staan sterk en gee niks toe nie.
Ek maak die spulletjie stil en vra vir Wouter wat gaan nou aan?
“Nee Pa,” sê hy “ek het die liniaal gaan haal, maar toe ek die deur wil oopmaak, jaag die ooms my weg en sê dat hier nie plek is vir snuiters se speletjies nie. Hulle is besig met ernstige sake. Toe vat ek maar die liniaal en maak die ander deur oop om die baba solank vir die tannie te gee.”
“Nou wat is dan nou die probleem?”
“Nee Pa sien, toe ek die baba klaar uitgehaal het, sluit ek weer die deur agter my sodat die ooms kan aangaan met hulle ernstige sake. Nou is hulle kwaad vir my.”
Ek vryf hom oor die kop.
“Dankie ou grote. Gee vir my daai liniaal en dan gaan jy solank motor toe”
“Ridders,” sê ek terwyl ek die deur oopmaak. “geen probleem is onmeetbaar vir ‘n kind met ‘n liniaal nie. Partykeer is dit makliker om ‘n muis per voet dood te maak as bo van ‘n perd af.” Ek draai om en los die fronsende wonders net daar om aan daai deurmekaar gesegde te suig.