Insig.
Met my kierie in die hand
loop ek tot by die strand
en maak my tuis op ‘n rots
nie te ver van die kant.
Ek sien hoe mis uit die see opslaan
en oor die berge vou,
hoe die wind ruk en pluk aan my rou
as ek onthou van wolke
met Josef se droomkleed aan.
Ek proe die reuk op my tong
wat uit die wasem oor die water kom,
sien wit seeperdjies wat speels
oor die branders wip
en weer sagkens verdwyn.
As die laatmiddag se snoekgeur
die kamers van my onthou binnesluip
en met alle mag boontoe beur,
dan sien ek die vissersbootjie wieg in die water
en die houthuisie se weerkaatsing in die rimpels.
As ek per ongeluk op die kerriebos trap
en die bitter reuk van onthou klap my teen die hart,
dan probeer ek deur die golwe van duisternis gly,
by al die vrae verby,
terug na die dae,
toe ek nog kon sien.