Doen jouself (en die gemeenskap) ‘n guns. Bied aan om met die bazaar by die verouderingskool te help.
Doen iets makliks soos die “tweedehandseboeketafel”
Dis heerlik! Jy staan 4 uur die oggend op en gaan pak die boeke uit. Jy ervaar die “Boeke is my LEEWE!” van die oorbebrilde Bennie Boekwurm.
Dan, as die tafel reg is begin die pret.
My tafel staan agter in die hoek. Ek kan dus agteroor sit en die lewe en dood van die bazaar vredig ervaar.
Vroegoggend kyk ek hoe die lewe rondom my groei en ek besef dat stoot ‘n kardinale rol speel in die lewe. Die openbaring kom na my op wiele. Die nuwes van dae word rondgestoot in modern driewielige baba/peuterwaentjies en die oues van dae in stoele wat met fietse omgang gehad het.
Sonder om die stotery holrug te ry. Dit begin voor geboorte en gebeur sporadies soos ‘n goue draad deur jou lewe tot hul die dag die houtverpakking met jou binne-in op rollers stoot. Of oor ‘n oop graf, of in ‘n oond in. Jy word gestoot in ‘n stootwaentjie, op fietse en skoppelmaaie. As student stoot jy jou skedonk elke oggend aan die brand. Nog later is jy die stoter van die babawaentjie. Dan kom die oumensstreke en kwale en word jy op beddens en in rolstoele gestoot.
Tussen dit alles deur word jy rondgestoot deur jou ouers, onderwysers, baas, verpleegsters, vriende en vriendinne.
Jou hele lewe is vasgevang in ‘n stotery. Jy is die produk van 'n gestotery.
Op ‘n vraag oor hoekom Gammat die tou agter hom aan trek was die antwoord: “Want dis onmoontlik om die tou voor my uit te stoot.”
Na die bazaar verby is, stoot ek die boeke op ‘n trollie stoorkamer toe en ek weet, vanaand word ek 'n tou, want na 'n paar glase skippies kan ek nie meer gestoot word nie want dan sal ek getrek wees.