Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Naas se plek => Topic started by: Naas on September 14, 2015, 02:50:48 PM

Title: Wense
Post by: Naas on September 14, 2015, 02:50:48 PM
n die geraamtetakke van die kaalgat appelbome
hang die ryp soos koue winterkerse
terwyl vroegoggend asem verdamp soos laatnag drome.

My wense vloei soos maalkolkstrome
en word vasgevang met woordeverse
In die geraamtetakke van die kaalgat appelbome.

Ek wil hulle graag toedraai in die warm some
en koester in geesteskomberse
terwyl vroegoggend asem verdamp soos laatnag drome.

Maar hoe verduidelik ek my wense aan die vrome?
Hoe hang ek dit oop saam met ysig kerse
in die geraamtetakke van die kaalgat appelbome?

Begeertes, wense weggesteek tussen die flenter some
in die vlegsels van verwoede verse
terwyl vroegoggend asem verdamp soos laatnag drome.

Weggespoel en afgevoer in die afloop van winterstrome
bly net die flenters van die verse
in die geraamtetakke van die kaalgat appelbome
terwyl vroegoggend asem verdamp soos laatnag drome.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Wense
Post by: Meraai vannie Baai on September 15, 2015, 04:25:37 AM
Ek lief lief lief!
Title: Re: Wense
Post by: PM on September 15, 2015, 11:41:55 AM
Ek onthou hierdie pragtige gedig van jou Naas.  As ek dit nie mis het nie is dit die een wat ek aan Trappies "toegedig" het. 

Dit bly 'n meesterstuk!