Author Topic: Tweedeklas burgers: Rhyna - Deel 2  (Read 822 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Tweedeklas burgers: Rhyna - Deel 2
« on: August 16, 2016, 07:38:02 PM »
Dit was ‘n lang veertien uur op die pad. Nie Rhyna of Sarie het veel vir mekaar te sê gehad nie. Rhyna het nie omgegee oor die stilte nie. Sy wou net by die huis kom. By haar ma en Berion wat afgelope twee weke op Swartkrantz woon.

“Ons het Berion in die skool gesit. Graad 0.” het tannie Sarie haar meegedeel toe sy na Berion se welstand uitvra.

“Dit was nie maklik met die dat dit al amper die helfte van die jaar is nie. Dominees moes toutjies trek.”

“Dankie. Dis goed so. Jammer oor die ongerief.” Sy het nie ‘n sent op haar naam nie. Hoe gaan sy die skoolfonds betaal?

“Ek en jou oom sal die skoolfonds en ander uitgawes betaal tot jy op jou voete is. Maar …” sy is in afwagting dat Sarie die uitgerekte stilte moet verbreek. “daar is voorwaardes waarop ons dit doen.”

“Voorwaardes? Soos wat?” sy het nie vergeet van die seksuele gunsies by die hoofhuis op die plot nie.

“Dat jy ‘n werk kry, jy jou skoolloopbaan voltooi en jy van die vent skei. Ons sal vir die egskeiding betaal. Jy kan ons met verloop van tyd die onkostes van die egskeiding terug betaal.” Haar tannie het ‘n neiging om die wêreld in een asem uit te sorteer.

Die uitdrukking op haar tannie se gesig het haar summier laat instem. Nie dat sy níe van Dave wou skei nie. Inteendeel sy verwens die dag wat sy hom ontmoet het.

“’n Werk is nie ‘n probleem nie. As mens wíl werk, sal jy altyd werk kry. En buitendien het jou oom ‘n paar hande nodig by die skrootwerf. Jy val Maandag se week in. Die salaris is nou nie te onaardig nie maar julle bly by ons, gratis natuurlik. Dis geriefliker so. Buitendien is Berion se skool net om die hoek van ons. Julle twee sal vir tyd en wyl ‘n kamer moet deel tot ons vir julle ‘n woonstel agter in die erf kan bou.”

“Ek aanvaar dit so. Ek sal elke sent terug betaal. Ek belowe. Sal Tannie my asseblief net eers na my ma toe neem?” sy moet eerste met haar ma gaan regmaak. Sarie bly haar ‘n antwoord skuldig.

Die son trek water toe hulle oor die kruin van die randjie ry waar Swartkrantz in die laaste strale van die son gedy. Sy is tuis. Dit is nou nie meer lank nie dan kan sy haar seun in haar arms hou. Hoe baie het sy nie na hom verlang hierdie afgelope twee weke nie. Hoe baie moes haar ma nie na hulle verlang het gedurende die twee jaar sedert hulle weggeloop het nie? Rhyna bloos toe sy aan haar ma en die seer wat sy oor haar ma gebring het dink.

Haar tannie verras haar deur links af te draai na die begraafplaas wat langs die hoofpad geleë is op pad Swartkrantz toe.

“En nou,” vra sy behoedsaam.

“Dekselse minsipaliteit is te sleg om die pad na die begraafplaas toe te skraap. Dis net gate en dongas,” Sarie konsentreer om die gate en slote te vermy Rhyna se vraag gaan ongehoord verby.

Rhyna se verbeelding hardloop met haar weg. Haar ma is dood. Tannie Sarie het dan nog nie een keer van haar ma gepraat nie. Sy het haar kanse verspeel om met haar ma reg te maak. Hoeveel keer het haar ma nie gebel na hulle weg is nie? Vir ‘n jaar lank was daar omtrent elke dag ‘n oproep en toe niks. Vergifnis vra is nou buite kwessie. O hoekom was sy tog so hardvogtig ?

Sy bly sit toe Sarie tussen twee blokke grafte stil hou, haar oë vol trane.

“Kom. Kom help my dat ons die graf kan skoonmaak. Dis amper donker, dit raak nou gevaarlik om hier te wees met die plakkerskamp aan die oorkant van die pad. En wat klaar is, is klaar. Dis petrol so heen en weer. Is goed ek het daaraan gedink om die skoonmaakgoed saam te ry.” Sarie gesels land en sand sy let nie op dat Rhyna huil nie.

Inskiklik klim Rhyna uit die bakkie. Ongesiens vee sy die trane af. Rek haar stram ledemate en help Sarie dra aan die sakkies sout, emmer en lappe.

Verligting spoel oor haar toe hulle by haar grootouers se graf aan moederskant staan.

“Daar is ‘n kraan. Bring vir ons water dat ons die stof van die graf kan afspoel.” Sarie beduie so ‘n paar rye grafte aan, in die rigitng van die opsienershuisie.

Nadat hulle die graf gewas het, strooi Rhyna-hulle die sakkies sout al om die graf.

“So ja. Dit nou gedaan, nou kan ons maar huis toe gaan. Dit het my nou ‘n Sondag se ry hierheen gespaar. Nou kan ons die naweek rustig kuier en beplan. Dankie vir jou hulp. Jou ma het seker nou al my sitkamermat deurgeloop in afwagting op jou koms. En jy is seker ook al haastig om by haar en jou kind uit te kom.”

Dit is eers toe hulle van die begraafplaas af weg ry dat haar senuwees begin knaag. Sy het haar alles goed en wel voorgestel met die ontmoeting met haar ma, maar nou is die vooruitsig besig om in angs te verander. Sê nou net haar ma wil niks meer met haar te doen hê nie. Hoe gaan sy die rede vir hulle bedrog verduidelik? Om die skuld op Dave alleen te pak sal nie haar bas uit die tronk red nie. Sy het immers willens en wetens saam met hom en die bankamptenaar gekonkel.

By die huis aangekom klim Rhyna uit om die skuifhek oop te maak. Die hek kreun en knars toe sy dit oopstoot. Nog voor sy die hek heeltemal oop het gaan die voordeur oop. Berion pyl gillend  op haar af.

“Mamma!” blydskap op sy gesig te lees.

Rhyna vang hom in haar arms. Sy geniet sy omhelsing. Ddruk hom styf teen haar vas. Oor en oor soen sy hom. Dan sien sy haar ma op die bo punt van die stoep se trappies staan haar hande wringend in mekaar. Rhyna maak haar los uit Berion se omhelsing en stap na haar ma toe. Uitstel is daar nou nie meer nie. Dit is beter om die onaangename so vinnig as moontlik agter die rug te kry.

Sy gaan aan die onderpunt van die trappe staan.

“Naand Mamma. Ek het huis toe gekom. Ek is jammer. Jammer oor alles. Oor ek ma uit ma se erfporsie bedrieg het nadat pappa se boedel reeds afgehandel was. Ek weet ek gaan tronk toe gaan. Daaraan moes ek gedink het voor ek Dave goedsmoeds nagevolg het. Ek was lief vir hom. Gedink hy was lief vir my. Maar dis nou gedane sake. Ek kan nie die gevolge van my dade wegpraat of vryspring nie.” Sy sluk aan die knop in haar keel, kyk sy van haar voete op, lig haar ken en kyk haar ma vol in die oë. “Kan Mamma my vergewe? Asseblief?” ingehoue trane het haar stem al growwer laat klink. Haar blik is steeds hoopvol op haar ma gerig.

Lank het hulle so gestaan voor Ella stadig die trappe afgestap het tot by haar dogter. Sarie en Berion het intussen om die hoek van die huis komsbuis se kant toe verdwyn.

“Daar is niks te vergewe nie. my kind. Ek het jou klaar vergewe, dieselfde dag nog. Jy was ‘n kind, gedink en gedoen soos ‘n kind sou. Hoe kon jy jouself teen iemand so slinks en soveel ouer as jy verweer? Kom hier,” haar arms gaan wyd oop vir haar dogter.

“Ek het net ongelooflik baie na julle verlang. Daar is ook nie sprake van tronk toe gaan nie. Die ondersoekbeampte het gesê dat die bewyse dat jy bedrog gepleeg het, onvoldoende is. Nêrens is my handtekening vervals nie. Alles dui daarop dat ek willens en wetens al die dokumente onderteken het. Ek het die saak terug getrek. Elke dag gebid dat jy eendag huis toe sal kom, jy en Berion. Dit is al wat ek begeer het.”

Rhyna het haar werk as kassiere by die skrootwerf geniet. Om geld te verdien sonder om gedwonge gunsies uit te deel, is baie bevredigend. Nog meer het die wete dat sy nou ‘n alleen ouer is vir haar kind haar aangevuur om haar skoolloopbaan deur afstandsonderrig te voltooi. Sy het haar oom en tannie se voorwaarde nagekom en is na een van die plaaslike prokureurs om haar skeisaak aanhangig te maak.

Van Dave het sy nie weer gehoor nie, die inwoners van die plakkerskamp ook nie. Sy en Bekkie kommunikeer nog gereeld met mekaar.Rhyna is dankbaar Berion het goed aangepas in sy nuwe omstandighede. Hy en sy ouma is onafskeidbaar.

Twee jaar het verby gegaan voor haar selfoon een oggend by die werk lui. Dit was haar prokureur se persoonlike assistent. Rhyna moet ‘n afspraak maak en hom kom sien, want daar is verwikkelinge aangaande haar skeisaak, het die dametjie haar meegedeel. Die volgende middag het sy die afspraak nagekom.

“Mevrou die goeie nuus is – ons opspoorder het u man in Bloemfontein opgespoor. Die slegte nuus of goeie nuus, hang af hoe u dit sal beskou – u man is daar in ‘n staatshospitaal opgeneem. Terminale kanker is by hom gediagnoseer. Die dokters meen dit is net ‘n kwessie van tyd voor die einde aanbreek.” het hy haar saaklik meegedeel.

“Wat u nou te doen staan, is …” het hy voortgegaan, “ u kan of voortgaan met die egskeiding of wag tot u man dood is. Laasgenoemde sal u baie geld spaar. Die feit is egter, skei u hom nóú gaan sy familie, veral sy kinders, u verwyt dat u hom in die steek gelaat het toe hy u op sy nodigste gehad het. Menslikergewys is laasgenoemde die beste opsie wat ek sal aanbeveel.”

“Hoe lank reken die dokters?” Rhyna is verslae.

“Nie meer as maand, twee dalk korter. Ek stel voor ter wille van u kind dat u met u man kontak maak. Hom gaan besoek. Dit sal vir u ook afsluiting gee.”

Willoos het sy ingestem om die egskeiding te laat vaar.

Die aand aan tafel het sy met ‘n swaar hart die nuus aan haar familie oorgedra. Soos sy verwag het was daar baie teenstand oor ‘n voornemende besoek asook oor haar besluit om nie met die egskeiding voort te gaan nie. Heelwat later die aand het almal ingestem dat haar prokureur tog reg is.

“Tannie Sarie, is dit vir Tannie moontlik om ons Bloemfontein toe te neem. Ek sal brandstof ingooi soontoe en terug,” saggies het sy gebid dat haar tannie sal weier, dat sy dit as verskoning kan gebruik.

“Dit is reg so met my. Wanneer wil jy gaan?”

Rhyna is teleurgesteld.

“Die Saterdag as dit moontlik is.” Weereens was sy hoopvol dat dit ongeleë sal wees, maar nog eens het hoop haar beskaam.

Hulle moes eers ‘n rukkie in die parkeer terrein vertoef sodat Rhyna moed bymekaar kan skraap. Rhyna het nie uitgesien na die besoek aan Dave nie. Haar hand het gepyn so styf het Berion daaraan vasgehou.

Voor sy aan die deur wat na die Onkologie Afdeling lei, vat het sy die bulderende stem wat van die gangmure bons en dawerend op haar oordromme slaan, herken.

“My God, my God, hê genade?! Neem weg hierdie helse pyn! Waarom straf U my so?”

Berion het bang aan haar vasgeklou. Sy pa se bulderende stem het beelde uit die verlede opgeroep.

Haar maag draai toe sy die gangdeur na die Onkologie saal oopstoot.

“God waar is U?! Verlos my van hierdie hel.” Sy kon hoor hoe hy hortend na sy asem snak.

“Ek wil nie dood gaan nie! Genade! Genade! Ek smeek U.” Dave bulk soos ‘n bees.

Berion kon nie sy pa so sien nie. Dit was duidelik dat die situasie haar kind baie ontstel. Die beste sal wees as hy in die wagkamer by haar tannie gaan wag, besluit Rhyna.

“Kom. Mamma dink jy moet eers by tannie Sarie gaan wag tot Mamma jou kom haal om vir pappa te sien. Reg so?”

“Ek wil hom nie sien nie.” Berion het heftig sy kop geskud.

“My kind hoef nie,” het sy hom verseker en alleen na Dave se kamer geloop.

“Hallo Dave,” goedaardig het sy haar hand op sy arm gesit.

“Hoer!” kryt hy dit uit toe hy sy arm onder haar hand uitpluk.

“Hoer!” skel hy weer.

Rhyna ignoreer die skeltaal.

“Wat maak jy hier? Ek soek jou nie hier nie. Nou dat jy opgen@#&%$ is, is ek weer goed genoeg!”

Trane brand agter haar oë. Saggies bid sy dat die Here haar innerlik sal sterk maak en nie sal toe gee aan die vrees wat hy by haar inboesem nie.

“Rhyn help my, die pyn. Ek kan nie meer die pyn vat nie,” smeek hy meteens.

Sy skrik toe hy haar hand gryp en nader pluk. Instinktief pluk sy weg.

“Hoer! F@#&$! Ek het jou nie nodig nie. Eers gooi jy my weg, noudat ek dood gaan nou wil jy kom wys jy gee om. Waar was jy toe ek jou nodig gehad het? Hê?” snou hy haar toe.
“Ek is jammer. Dit was onvergeeflik van my,” sy probeer om hom in ‘n bevredigende stemming kry.

“Ek haat jou!” die draak van onverbloemde haat blaas vuur in sy oë.

“Ek weet,” antwoord sy ingetoë. “Ek is lief vir jou.” Dit is nie ‘n leuen nie. Niemand kan so ‘n patetiese bondeltjie pyn haat nie. Sy kry hom ontsettend jammer. Geen mens op aarde verdien dit om soveel te ly nie.

Intussen het die Suster het ingekom om na Dave om te sien.

“Dit is morfien.” Verduidelik sy toe sy die medisyne toedien. “Dit sal hom bietjie kalmeer. Sy pyn effens verlig. Hy kry klaar volsterkte. Ons kan nie die dosis nog vermeerder nie.” het sy Rhyna se vraende blik beantwoord. “Jy mag maar by hom bly. Niemand kom hom ooit besoek nie. Sy suster het hom ingebring. Dit was die laaste wat sy hier was.”

“Sy seuns,” vra Rhyna

“Nie met ‘n oog gesien terwyl ek aan diens was nie.” Simpatiek het sy haar hand op Dave se arm gelê en na hom oorgebuk. “Oom, oom moet nou bietjie rus. Ek het vir Oom ietsie vir die pyn gegee.”

Die suster beduie aan Rhyna om saam met haar uit die kamer te gaan.

“Hy roep al ‘n week lank so,” het die suster opgemerk. “As hulle so roep is dit nie meer lank nie. Almal maak nie so nie, net die wat sukkel om dood te gaan. En hý sukkel om te gaan.”

Rhyna het Sarie gevra om Berion terug te neem Swartkrantz toe. Haar tannie het vir haar blyplek gereël by die gastehuis wat oorkant die hospitaal geleë is.

Die verpleegsters het haar geleer hoe om Dave te versorg. Sy het vir hom uit die Bybel gelees, vir hom gebid as die pyn hom laat uitroep het, hom die verlede oor en oor vergewe as hy in wanhoop en angs dit opgehaal het.

Een oggend, ‘n week na sy Berion en Sarie huis toe gestuur het, het die irisse van Dave se oë dof en jellie-agtig vertoon.

“Hoekom lyk sy oë so,” het sy die suster gevra toe díe weer haar rondtes doen.

Die suster het Rhyna aan haar arm gang toe geneemen verduidelik .

“Sy oë het gebreek. Dit gebeur gewoonlik net voor die einde. Jy moet jouself staal vir die einde. Die laaste paar dae is hy baie rustiger met jou by hom. Miskien moet jy julle predikant of pastoor kry om jou man die laaste bult uit te help. En vir jouself ook, met die neem van afskeid wanneer die tyd aanbreek. Of ek kan een van ons plaaslike predikante vra om te kom. Hier was van hulle by jou man.”

“Dankie. Jy kan maar een van die plaaslike predikante kry. Ons is in ‘n Susters-kerkDit sal gaaf wees.” Rhyna weet nie juis hoe om in so ‘n situasie op te tree nie.

Die predikant het gekom en met kortliks met Dave oor vergifnis gesels. Die voorbeeld van die moordenaar aan die kruis opgehaal. Daarna het hy vir Dave Psalm 23 voorgelees.

Met Rhyna het hy vertroostend gesels oor die verlies van ‘n geliefde. Hoe om aan te gaan met die lewe na die afsterwe van ‘n lewensmaat.

Rhyna kon aan die dominee en die hospitaal personeel sien dat die einde nader is as wat sy gedink het. Sy was verlig, maar ook hartseer.

Die daarop volgende oggend, tussen middernag en dagbreek het Dave se asemhaling al hoe vlakker geword. Die suster het die dominee laat kom.

Rhyna en die domineee staan weerskante van Dave se bed. Elkeen met Dave se hand in hul eie. Dave se liggaam het breekbaar vertoon tussen die lakens.

“Ek dink dis tyd,” het die dominee opgemerk.

“Oom, kan oom my hoor?” hy het afgebuig en naby Dave se oor gepraat.

Dave se kopknik was byna onopmerklik.

“As Oom reg is, kan ons maar met die sterwensbegeleiding begin.” Die dominee se stem was sag,vertroostend.

Die dominee het weer Psalm 23 gelees. Medelydend gebid en gevra dat die Here Dave aan die anderkant sal ontvang. Dave het ‘n laaste keer gesug. Sy het sy hand nog ‘n rukkie vasgehou. Sy wolmus reg getrek. Eers toe die verpleegsters inkom om die lyk te was het sy, sy hand gelos.

Na Dave se afsterwe is sy terug na die gastehuis oorkant die hospitaal.

In haar kamer in die gastehuis het sy op haar bed gaan lê. Lank het sy net die beelde van die verlede deur haar gedagtes laat hardloop. En toe kom die trane. Sy het gehuil oor wat kon wees, oor wat was, oor haar nuutgevonde vryheid en skaam gekry omdat sy nie daaroor skuldig gevoel het nie. Eers toe sy uitgehuil was, het sy haar tannie gebel.

“Middag Sarie wat praat.”

“Middag Tannie. Dave is vroeg vanoggend dood. Tannie kan my maar kom haal.” Einde

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie
Upington is nie vir sissies nie.