Author Topic: Tweedeklas burgers: Rhyna - Deel 1  (Read 979 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Marinda Kemp

  • Regular Members
  • Suigeling
  • Posts: 129
  • Gender: Female
  • Passievol Afrikaans!
    • Orange Blue
Tweedeklas burgers: Rhyna - Deel 1
« on: August 16, 2016, 07:36:37 PM »
Die son het al lankal agter die kim verdwyn. Dave kan enige oomblik huis toe kom dan moet die kos klaar wees. Sy is nie weer lus vir ‘n baklei nie. Die sieklike blou-pers groen om haar oog en stukkende onderlip getuig nog van die vorige Maandag se onderonsie.

Rhyna probeer haar gesig uit die vuur se rook hou terwyl sy die aartappels in die pot met ‘n vurk steek om te voel of hulle al sag gekook is.

“Mamma ek’s honger,” kla Berion.

Sy arms is om haar bene geslaan. Geduldig maak sy sy arms los en tel hom op haar heup.

“Nog net bietjie wag, die kossies is amper klaar,” troos sy.

Rhyna haal ‘n stukkie toiletpapier uit haar dun geskifte sweetpakbaadjie se sak en vee die bel onderaan Berion se neus, af.

“Kom ons dek so lank die tafel. Pappa is nou hier dan kan ons eet.”

Sy stuur ‘n stil gebed op dat Dave vanaand in ‘n beter bui sal wees en nie laat sal kom nie.

Die kartonbokse wat die vloer van hulle sinkhuisie vorm knars onder haar sandale. Uit ‘n krat wat Dave op ‘n dag by Albany gesteel het, haal sy die borde en eetgerei. Dit dien ook haar kruidenierskas.

In die verste hoek van hul sink kaia staan hulle drie se bed wat Bekkie van langsaan se man vir hulle uit weggooi palette gemaak het. Hul matras het Ryna van gebruikte veevoersakke gemaak wat sy by die eienaar van die plot waarop die plakkerskamp is, gekry. Sy moes daarvoor betaal – ‘n gunsie vir ‘n gunsie het die man dit genoem.

Op een van die dwarslatte waaraan die sinkmure vasgeheg is, langs ‘n kerf van ‘n spieël, staan ‘n pienk plastiekglas waarin drie verweerde tandeborsels en ‘n buisie tandepaste is.

In die ander hoek langs die deur soos mens in die vertrek inkom is ‘n opvou plastiektafel en twee stoele. Hulle klerekas is ‘n ry opgestapelde bokse. Hulle bad cum wasbak/wasmasjien is ‘n oranje plastiekkom.

Lank na die tafel gedek is, sit sy en Berion by kerslig en wag op Dave.

“Mamma ek is honger.”

Rhyna skep vir hom ‘n aartappel in sy bakkie en druk dit fyn, strooi ‘n bietjie sout oor, met ‘n klontjie botter by. Sy druk hom liefdevol teen haar vas terwyl hy gulsig eet. Dave gaan weer gal af gaan omdat hulle eet voor hy by die huis is.

“Mamma is baie lief vir jou. En eendag gaan ek en jy weer by ouma bly.” belowe sy hom. Dalk woon haar ma nog in hul ou huis. Sy hoop dat dit die geval is. Hoe sy dit gaan regkry om met Berion weg te loop, weet sy nog nie.

Sy probeer altyd ‘n gedeelte van haar geld wegsteek wat sy verdien as bediende vir die eienaar van die plot. Dave kry dit egter elke keer in die hande.

“Hoer jy?” het hy geskree toe hy met die geld in sy hand staan.

“Nee,” sy het hom probeer stil maak want sy het geweet almal in die sinkdorp hoor hulle.

“Nou waar kry jy dit?” het hy aangedring.

“Ek gaan doen die wasgoed by die hoofhuis. Stof af en so aan.”

Dit was beter om hom die waarheid te vertel. Oor die gunsies wat die man van die plot soms eis het sy stil gebly. Dave het haar egter nie geglo nie en vir die soveelste keer afgeransel. Miskien is dit haar verdiende loon, wie weet. Kyk wat het sy onder Dave se aandrang aan haar ma gedoen.

Die geluid van die sinkdeur wat oopgaan ruk haar uit haar gedagtegang.

“Naand. Hoe was jou dag?” Rhyna skyn belangstelling te toon toe Dave se lyf in die oop deur verskyn. Sy staan op en gaan lê die byna aan die slaap Berion op die bed neer.

“Naand,” antwoord hy bombasties en gaan sit by die tafel.

Dave gooi die stuk karton waarop staan: “No money. No work. Sick baby. Need mediekal atendson,” eenkant op die vloer.

Voor hy egter soos ouder gewoonte met die agterkant van sy Okapi knipmes op die tafel kan kap, (sy manier om haar aan te por om vinniger die kos op die tafel te kry), sit sy die bak met die twee gekookte aartappels voor hom neer.

“Hoekom is hier net aartappels om te eet? Was jy weer te lui om kos te maak?”

“Nee. Dit is al wat oor is om te eet,” verduidelik sy sugtend.

Dave voel aan die aartappels met sy vuil hand.

“Dan is dit nog f@#&%$ koud ook!” sy stemtoon klim ‘n desibel of twee. “Waar is julle borde?”

“Ons het maar geëet toe jy nie kom nie. Berion was moeg en naby slaap,” en bly stil oor die rede waarom sy nie eet nie.

Indien sy ook ‘n aartappel eet, gaan hy nog honger wees want die aartappels is klein. En ‘n honger Dave is ‘n omgesukkelde Dave.

“Hoekom het jy nie gister gesê ek moet kos saambring nie?” Sy verwytende blik laat haar inmekaar krimp.

“Ek het vir jou die geld en nota gegee,” ‘maar jy het weer drank daarmee gekoop’ wou sy hom verwyt. Wyslik het sy maar haar tong vasgebyt.

“O.” Hy druk met sy elmboë weerskante van sy bord en vra die seën voor ete.

“Waar’s die tamatiesous en nog sout?” blaf hy na haar kant toe.

Rhyna staan op en krap in die krat opsoek na die sakkies sout en tamatiesous wat hulle by wegneemetes restaurante gaps.

“Hier is nie meer nie.”

Dave se frustrasie kry die oorhand. Hy gryp Rhyna aan haar hare en ruk haar agteroor.

“Wat de d@#&%$ doen jy die hele dag vroumens?! Hoekom sorg jy nie dat daar kos in die huis is nie? Jy is nie ‘n vrou se gat werd nie!” tier hy voort. “vir wat loop vra jy nie daai boyfriend van jou by die hoofhuis nie?”

Berion word wakker van die lawaai en begin huil.

“Hou jou verdomde bek jou mislike pissie!” gil Dave op hom.

Rhyn ruk haar uit sy ystergreep en voel hoe van haar hare in sy vuis agterbly. Berion is nou haar prioriteit haar skryende kopvel sekondêr. Koes-koes om uit Dave se hande te bly, sukkel sy om haar kind by die huis uit te kry. Sy blyk onbewus te wees van die houe wat Dave met sy lyfband haar oor haar rug en bene gee.

Eers toe Dave se woede uitgewoed is, laat sy Berion weer in die huis.

Dave het oudergewoonte vir hom ‘n glas papsak geskink, dit tydsaam sit en drink. Weer en weer vul hy die glas met drank so dra dit leeg is.

Nanag het hy eers met sy sweterige lyf in die bed geklim. Blink gedrink. Rhyna lê met haar rug na hom toe.

“Ou my daar enetjie,” het sy tong gesleep terwyl sy hande onder haar nagrok vroetel, opsoek na die sawwe lekkerte van haar lyf.

Rhyna wikkel haar uit sy greep.

“Nee. Los my,” en haar uit sy greep gewikkel.

Elke keer wat hy haar ‘n loesing gee, raak hy vryerig.

Haar protes val op dowe ore. Hy forseer homself op haar af. Rhyna gee oor want sy wil nie dat Berion wakker word nie. Soos gewoonlik is dit vinnig verby. Dave raak byna onmiddelik op haar aan die slaap. Stil lê is al genade tot hy wakker word.

Dave snork homself wakker, rol van Rhyna af, klap haar op die boud en sê: “Toe gaan maak jou skoon dat ons kan slaap. Ek moet môre voor sonop lift vang.”

Net na sonop is daar ‘n klop aan die deur. Dave is nog besig om sy roes af te slaap.

Dit is Bekkie van langsaan met ‘n beker koffie vir Rhyna.

“Die pap is amper gaar. Jy en Berion moet kom eet.” Nooi sy terwyl sy om die kosyn loer na waar Dave slaap.

“Gmf!” snork sy.
“Nie hy nie.” beduie sy met haar kop. “Net julle twee.”

“Dankie Bekkie. Ons is nou-nou daar,” verseker Rhyna haar.

Na ontbyt droog sy vir Bekkie die skottelgoed af. Berion speel saam met Bekkie se kinders onder die ou Bloekomboom naby hulle.

“Ek het gehoor toe Dave het jou gisteraand weer goed afgestof het. Almal het gehoor.” Haar oë op die skottelgoed wat sy besig is om te was.

Bekkie is nie iemand wat draaie loop nie. Rhyna weet wat haar stelling gaan opvolg.

“Is tyd dat jy hom los. Hy sal jou nog doodslaan.” Bekkie se stem is driftig.

“Hoekom gaan jy nie terug na jou ouerhuis nie?”

“Is nie so maklik nie,” Rhyna weet sy soek nou verskoning. Sy kan nie vir Bekkie vertel wat destyds gebeur het nie.

Die polisie soek nog na hulle. Dit is net loutere genade dat hulle op nog op vrye voet is. Dave se suster het hulle gewaarsku toe hy haar een aand bel om te hoor of sy nie vir hulle blyplek het nie.

Die vriendinne se geselskap droog skielik op toe Dave strompelend uit hulle huis kom. Nerveus stap Rhyna terug na hulle huis.

“Hoekom het jy my nie wakker gemaak nie? Kyk waar sit die son al. Nou is dit te laat om te gaan werk!” sy gesig is ‘n donderwolk.

Rhyna probeer afstand tussen hulle hou. Die suur reuk van sweet, wyn en seks laat haar maag draai. En sy asem ruik of honderd hoenders tegelykertyd in sy mond ontlas het. Hoe walglik is hy nie.

“Ek vra hoekom het jy my nie wakker gemaak nie, Teef,” bulder hy weer toe sy hom nie dadelik antwoord nie.

“Jy was moeg toe laat ek jou maar ‘n bietjie inlê. Ek weet mos jy werk hard om ‘n dak oor ons kop te hou,” probeer sy hom paai.

“Jy f@#&%$ lieg! Waar was jy nou? Seker weer by jou boyfriend!”

Rhyna weet haar volgende drag slae het aangebreek. Haar oë fynkam die omgewing tussen die plakkershuise opsoek na Berion. Hy moet tog nie sien as sy pa haar weer slaan nie.

“Bekkie … Bekkie het ons genooi vir ontbyt,” keer sy met haar arms omhoog toe hy sy vuiste bal.

Dit wil voorkom of haar verduideliking hom vir ‘n oomblik laat afkoel.

“Maak vir my koffie.” brom hy. “Ek moet loop.”

“Hier is nie meer koffie nie. Dit is al eergister op.” Sy wens hy wil in sy malle verstand in loop en nooit weer terug kom nie.

Dave gaan sit op ‘n stuk afgesaagde boomstomp wat as sitplek dien. Haal sy knipmes uit en krap die swart onder sy naels uit. Rhyna gaan behoedsaam langs hom sit.

“Gaan maak nou verdomp vir my koffie vroumens!”
Hy stamp haar amper van die boomstop af.

Rhyna herwin haar balans.

“Ek sê mos hier is nie meer koffie nie. Ook nie tee nie. Ek het gisteroggend vir jou geld gegee dat jy moet saambring,” sy gesanik irriteer haar nou.

“Nou wanneer moes ek dit koop? Ek werk heel dag tot na sononder.”

Sy ingehoue woede dreig om oor te kook.

“Jy werk nie, jy bedel by die robot. Buitendien die winkels is tot agtuur saans oop,” in ‘n onbewaakte oomblik verwoord sy haar gedagtes hardop.

Spyt kom altyd te laat, nou is te laat. Rhyna se oë rek, sy snak na haar asem toe die Okapilem soos ‘n warm mes deur botter in haar bobeen verdwyn.

Verdwaas staar sy na haar been. Dit is asof sy van ‘n afstand na die toneel kyk. Die bloed begin in ‘n dun straaltjie teen haar binnebeen af loop wanneer Dave die mes uit haar been pluk. Sy wil die vrou wat soos sy lyk waarsku dat sy moet vlug, maar is met stomheid geslaan.

Bekkie se gille ruk haar terug tot die werklikheid. Rhyna gryp na haar been, probeer die bloeding keer. Die volgende oomblik pluk Bekkie haar hand weg en gooi die halwe glas wyn wat Dave die vorige aand oorgelos het oor die wond uit.

“Hier is alkhol in. Dis al wat hier is om wonde mee te ontsmet,” verduidelik sy haar aksie.

Dave sien rooi toe hy hoor Bekkie het sy drank op Rhyna se been uitgegooi.

“Jou @#&%$ imbesiel! Dis kosbare vog wat jy nou staan en mors het! Weet jy hoeveel kos papsak?” gil hy op sy buurvrou en klap haar dat sy steier.

Tenk, (Bekkie se man het jare gelede vir die dorpspan voor in die skrum gedruk, vandaar sy bynaam), stop Dave in sy spore met ‘n oophand toe díe weer op Bekkie afstorm. Dave sloeg deur die as van die vorige aand se kookvuur.

“Lig weer jou hand vir my vrou of enige ander vrou. Ek d@#&%$ jou dood. Dit belowe ek jou.” Waarsku hy Dave waar hy hom voor die bors aan sy hemp opgetel het, sy wysvinger praat dreigend onder Dave se neus.

Dave skud die as van hom af toe sy voete weer met moederaarde in aanraking kom. Kop onderste, brom-brom loop hy grootpad toe. By die motorhek tussen die plakkerskamp en hoofhuis draai hy om.

“Ek is moeg vir hierdie plek, moeg vir Rhyna, moeg vir die pisgat wat sy my seun noem. ‘n Regte mamma se seuntjie,” koggel hy sy seun.

Hy is vol bravade met die hek tussen hom die kring nuuskieriges voor sy huis.

“Julle @#&%$ sal my nog smeek om terug te kom! Julle sal op julle knieë voor Dave du Plooy kruip en hy sal julle ignoreer. Want julle het hom soos ‘n sleg hond weggejaag toe hy honger en dors was! As julle Dave du Plooy weer sien, sal hy met ‘n lanie kar hier stop en hierdie gevrekte plot koop. Uit sy gatsak sal hy die plot betaal! Julle sal dan smeek vir ‘n sinkkaia of woonwa oor julle koppe. Julle sal stof vreet as ek weer hier kom!”

Tenk storm hek toe. Vinnig drafstap Dave grootpad toe.

‘n Week later

Daar is ‘n sagte kloppie aan die deur van Rhyna se huis.

“Binne,” prewel sy. Sweet pêrel op haar voorkop.

Bekkie loer by die die vertrek in.

“Môre Buurvrou, kom net hoor hoe dit gaan? Het jy nog pyn?”

Sy gaan by Rhyna op die bed sit, staan weer vinnig op toe Rhyna gil van pyn.

“Moet jy nie maar kliniek toe nie? Daar is kwaad in daai been van jou. Dis hoekom jy so baie pyn het en jy so styf is dat jy nie kan loop nie.” Sy druk ‘n waslap in die skottel met water wat langs die bed staan, droog dit uit en vee die sweet van Rhyna se gesig en nek.

Rhyna kreun toe Bekkie die lapverband van haar been verwyder om na die wond te kyk.

“Rhyna dis al ‘n week na die messteek. Die wond heg nie. Dit trek nou oop en die rand is smetterig en geel. Is ook erg rooi en opgehewe, kliphard. Die groen-geel goed wat uitloop lyk nie vir my reg nie. Jou been is ook vuurwarm Laat Tenk jou hospitaal of kliniek toe vat. Asseblief.” smeek Bekkie.

“Nee. Wat van Berion? Ek kan hom nie alleen los nie,” skerm Rhyna.

“Rhyn, ek het nie mediese kennis nie maar daai mes was nie skoon nie. Hier is kwaad in die wond. Jy kan nie eens jou mond behoorlik oopmaak om sop te eet nie. As jy jou kos kou kreun jy van die pyn. Mens kan Klem-in-die-kaak kry.” probeer sy haar weer ompraat.

Rhyna skrik by die gedagte dat sy Klem-in-die-kaak kan hê, maar wys dit nie.

“Bel my ma seblief. Haar nommer is op my foon.” Pynlik beduie sy vir Bekkie met haar hand waar die foon gebêre is.

“Die spookstem sê net: ‘This number you have dialed does not exist.’ Hoe maak ons nou?”

“My tannie, sy is Sarie Lingenveldt. Haar nommer is ook daarop.”

Bekkie soek na Sarie se nomme skakel dit toe sy dit kry.

“Goeie dag. Sarie wat praat.”

“Dag. Mevrou dis Bekkie Snyman van die Bedford Plakkerskamp wat praat. Jou niggie Rhyna het gevra ek moet jou bel. Sy is baie siek.”

Bekkie loop buite toe en gaan ‘n ent weg van die huis staan sodat Rhyna nie kan hoor wat sy sê nie.

“Dinge lyk nie goed nie, Mevrou. Rhyna is in pyn en stokstyf. Kan kwalik haar mond oopmaak om te eet en sy piepie bitter min. Dit stink ook vreeslik. Die piepie ek meen.”

“Wat het haar so siek gemaak?”

“Is daai skobbejak van ‘n man van haar. Hy’t haar met sy mes in die bobeen gepeck. Dit lyk nou of daar kwaad in die wond gekom het. Sy short hospitaal toe gaan.”

“Nou hoekom vat haar man haar nie?” Sarie is nie regtig lus om haar bedorwe brokkie van ‘n niggie te help nie. Kyk wat het sy aan haar ma gedoen! Die klein merrie moet kry wat sy uitgedeel het.

“Die lel het soos ‘n sleg hond die pad gevat na my Tenk hom een teen die oor en teen die teer gegee het.” Bekkie kan nie die trots in haar stem verbloem nie.

“Nou maar goed,” gee Sarie die stryd gewonne. Dit is nie net Rhyna nie, daar is Berion ook. Jimmel dis ‘n onsmaaklike naam vir ‘n kind. Sy kan net nie aan die naam gewoond raak nie.

“Waar sê jy is die plakkerskamp?”

“Dis so sestig kilometer van Sypherfontein af Kooimanskraal se kant toe.”

“Soetland, dis ‘n goeie veertienure se ry van ons af. Is daar ‘n manier hoe julle Rhyna by die hospitaal kan kry?”

“Ja Mevrou, die ou op wie se grond ons plak het ‘n bakkie. Hy sal haar vat maar dan soek hy betaling. Ons het nie een daai klas van geld nie en Mevrou weet hoe die staat se ambulanse is.”

“Ek sal ‘n ambulans reël. SMS net vir my die aanwysings na die plot, asseblief.”

“Reg so Mevrou, ek sal Rhyna tune julle sal vir haar by die hospitaal kry. Hoe maak ons met die kind?”

“Ek moet net eers dinge reël aan hierdie kant dan kan ons in die pad val en hulle gaan haal. Is daar ‘n moontlikheid dat ek met Rhyna kan praat? Kan Berion by jou bly tot ons daar kom?”

Bekkie se hart wil by haar keel uitspring van opgewondenheid. Sy is die heldin in hierdie verhaal.

“Ja Mevrou hy kan. Hang net so ‘n oomblik aan ek vat die foon vir haar.”

“Hallo tannie Sarie,” groet Rhyna fluisterend.

“Hallo Rhyna. Ek hoor jy is baie siek en moet hospitaal toe. Ek sal reël vir ‘n ambulans om jou hospitaal toe neem. Sodra ek met jou oom gepraat het, val ons in die pad. Ons kom jou en Berion haal,” die versekering in Sarie se stem stel Rhyna gerus.

“Dankie Tannie,” dankbare trane vloei vrylik oor Rhyna se wange. (vervolg)

©Orange Blue

 

©ALLE REGTE VOORBEHOU Geen gedeelte van hierdie boek mag op enige manier gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die kopiehouer (skrywer) en uitgewer nie
Upington is nie vir sissies nie.