Ek praat en skryf gewoonlik nie tussen die lyne (of boude) nie, maar hierdie een kan jy maar lees soos jy wil.
“Witgoud,” vir die wat nog nie weet nie, is daai goed wat Carlton op ‘n rol draai en baie geld mee maak terwyl ons ander dit weer deur daai diep donker plekke sleep en dan wegspoel. (geld in die drein af, letterlik.)
Van Carlton gepraat. Hulle het blykbaar ‘n groot kontrak met Zimbabwe gesluit. Hulle gaan, volgens my informant, die Zim-doller in dubbellaag formaat aan die Zimregering verskaf.
Dr Phil het nou die dag ‘n program voorgedis waar hy konflik tussen mense oplos deur kant te kies en niks verder daaraan te doen nie. Hy maak darem lekker geld deur mense sleg te sê. As ek dit doen sit ek more sonder werk. In elk geval, so as ‘n nagedagte kom hy toe met die storie van “Moet toiletpapier onderdeur of bo-oor afrol?” Mense het al in die skeihof beland oor die vraag. Sy oplossing, vir die wat nie die program gesien het nie, ‘n toilethouer wat twee rolle hou. ‘n Syne en hare.
Nou wat laat my nou oor so ‘n k... sorry, tos onderwerp skryf.
Gewoonte.
Eerstens. Die gewoonte om dit te gebruik. Wat het ons gedoen voor toiletpapier? Toilet papiris? Dooie see rolle? Ek onthou koerantpapier. My aambeie kon voor my lees. In Langkloof op my oom se appelplaas het daai papier waarmee hulle die appels toegedraai vir pers strepe op jou onderbroekie gesorg.
Tweedens. Ek verkies dit as die rolletjie bo-oor afrol omdat dit ‘n gewoonte by my geraak het en vir geen ander rede nie. Ek sal nooit ‘n vloermoer daaroor gooi as die rolletjie “verkeerdom” opgesit is nie. As ek by ander mense in die huis is gebruik ek dit so en in my eie huis haal ek dit uit en draai dit om. Pure gewoonte.
Dis juis oor die gewoonte wat ek nou ‘n paar opmerkings wil maak.
Erens langs die pad het ek gehoor dat as ‘n mens dit kan regkry om iets twaalf keer te doen, jy ‘n gewoonte gevorm het wat jy dan soort van outomaties sal doen. Toe begin ek nou met die navorsing vir my meestersgraad in “toiletrolrigtings.” Eerstens vlieg ek daar in die motorhuis in en op my draaibank maak ek ‘n toiletrolhouer waarmee ek maklik die rol kan omdraai. Ek vervang die bestaande houer daarmee en my vroutjie is baie trots op haar man se handewerk en innovering. Salig onbewus van my duistere bybedoelings.
Elke slag as ek gaan sit draai ek die rol in die “regte” rigting en hoop dat die rigting by die res van die gesin ‘n gewoonte gaan word.
Ek kom later agter dat vroulief nie omgee hoe die papier vir haar opgedis word nie want sy kla nie oor die rigting wat die papier inslaan nie en sy draai dit ook nie weer terug nie.
Later is die kinders daar en dieselfde gebeur met hulle.
Nou is my volgende vraag. “Gaan hulle my gewoonte aanleer en die verkies dat die papier ‘n sekere rigting draai?” Blykbaar nie. Ook hulle gee nie om nie en vat dit soos hulle dit kry. Tot nou toe gee niemand in my huis om waarheen die rol rol nie.
Gevolgtrekking. Gewoontes word nie sommer na twaalf kere gevestig nie en blykbaar is ek die enigste p#%ph&l in die huis wat omgee watter kant toe die papier draai.
Wys jou net.
Laat my dink aan die student wat die sprinkaan bestudeer het vir sy meestersgraad. Dit het soos volg verloop.
1) Neem een sprinkaan en sit hom versigtig op die grond neer. Sê vir sprinkaan: “Spring!” Die sprinkaan spring.
2) Vang dieselfde springkaan. Breek sy twee voorpote af. Sit sprinkaan versigtig op die grond neer. Sê vir sprinkaan: “Spring!” Die sprinkaan spring.
3) Vang dieselfde springkaan. Breek sy twee middelpote af. Sit sprinkaan versigtig op die grond neer. Sê vir sprinkaan: “Spring!” Die sprinkaan spring.
4) Vang dieselfde springkaan. Breek sy twee agterpote af. Sit sprinkaan versigtig op die grond neer. Sê vir sprinkaan: “Spring!” Die sprinkaan wil nie spring.
5) Gevolgtrekking. Die sprinkaan se ore sit in sy agterpote.
Nou dat my ma by ons bly kla sy oor die bo-oor rollery want blykbaar is die een kant van die papier sagter as die anderkant. Wat maak dit nou van my? 'n Ongevoelige poephol? Ek wonder.