Die Afrikaanse Forum
Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Gawelina se plek => Topic started by: Gawelina on June 08, 2011, 01:59:22 PM
-
Kom wees vir my die stut
waaraan ek vas kan klou,
sus my op brieswindwals
en sag blaarritseling
tot veilig sluimerend
in jou takarmbed
strek jou takke wolkehoog
waar drome waar kan word
en geen onheil by kan kom,
as lewensstorme woed
hou my stingel stewig vas
en draai my rukkend weg
kom drink in reënseisoen
dorstig druppels op my lyf
voed jouself met lafenis
en groei tot volle prag,
kreunend in gewig
van ons liefdesvrug
kom wees in lente
pienk en wit beloftes
van altydliefde feeverhaal,
in warm somerhitte
koelte skuilplek
waar ek rus kan vind
kom wees vir my, my lief
die anker in my lewe,
die rede waarom ek
groen en helder skyn
kom wees
my boom
vandag.
-
kom wees my stut....my boom vandag, dit is 'n grootse gedig.
:grommit:
-
Baie dankie, jong.
-
Ai, ai, ai! Dis die "antie" wat sê sy kan nie skryf nie! Dit is voorwaar 'n grootse gedig! Puik geskryf Gawie. :icon_salut:
-
Ai PM, dis mos maar net my maatjies wat dink dis goed, maar ek glo julle altooslik want julle lieg nooit vir my nie. baie baie dankie hoor.
-
Hê-hê, lag ek vir jou. :icon_biggrin:
Vandag was ons by 'n wynplaas waar die rooi-rooi wingerdblare die aarde oordek het. Dadelik het ek aan jou gedink en vir Hannes gesê, neem 'n foto, dit sal so mooi pas by Gawie se gedig, blaredroom. Toe ek nou weer die gediggie lees toe wonder ek hoekom dit my aan hierdie gedig laat dink het? Sodra ek die foto's aflaai kry jy 'n kopie gehoor!
-
Dankie PM. Ek kan nie wag om dit te sien nie.
-
Hierdie is werklk 'n uitsonderlike seermooie gedig. Jou woordkeuses is wondermooi."Brieswindwals"' "blaarritseling" ens. Hou van die metaforiese beeld van die kragtige boom wat beskerm en beskut. Lankal vir jou gese jy onderskat jouself.
-
Dankie Edelsteentjie. Ek waardeer dit soveel meer omdat die kommentaar van jou af kom. Die beeld wat ek gebruik is inspirasie van 'n vriend wat vir my gesê het ek laat hom altyd aan blare dink en dat ek 'n sterk boom nodig het wat my moet beskerm. Jy het dus die spyker op die kop geslaan met jou interpretasie. Baie van my skryfsels het hulle ontstaan uit gesprekke wat ek met mense het. Ek weet nie of ek myself onderskat nie. Of dalk soek ek net op verkeerde plekke, maar nêrens waar ek dit inskryf, bereik dit iets nie. Gelukkig skryf ek dit omdat ek 'n behoefte het om dit te skryf en omdat dit vir my terapeuties is. Dis altyd lekker as jou vriende dink dis gaaf genoeg om te lees.
-
Hê-hê, lag ek weer vir jou Gawie. :icon_biggrin: Dit is so lekker om te sê: "Ek het jou mos gesê." :icon_biggrin:
-
mmmmmmmm en ek het jou mos gesê daar sal niks van kom ook.
-
Sjoe, hierdie woorde tref diep. Die hoop om in elke seisoen daar te kan wees en saam te kan groei. Elke fase te kan deel. Uitsonderlike slot en 'n hunkering wat diep sny.