Digkuns > Digformules of -strukture

Digter's Eggo

(1/3) > >>

Meraai vannie Baai:
*Digter's Eggo wat dui op die herhaling van reëls/woorde in die verse. Hier is my voorbeeld:

Gesoek: 'n Holte vir my swerwer's voet

Ek
het jou
gaan soek
tussen al die dae van my jaar
maar jy was nie daar
en ek het my tentpenne opgetrek.

Ek
het jou
gaan soek
tussen blaaie
van vergeelde onthou jy's
my oë was later moeg gekyk
maar jy was nie daar nie.

Ek
het jou
gaan soek
in die argiewe
van die lewensbiblioteek
tussen eeue oue inskrywings
ook daar het ek jou nie gevind.

Ek
het jou
gaan soek
en gaan grawe
tussen kleitablette met griffelskrifte
maar ook daar was jy nie te vinde
of het ek dalk net moeg geraak

om te soek na jou?

© Meraai vannie baai

Adele het 'n pragtige voorbeeld van die Digter's Eggo Ekphrasis op haar erf. Gaan loer gerus hier om die woord en beeld skepping te sien:
http://forum.afrikaanseforum.co.za/index.php?topic=1998.0

dit was daar
op die hoogste heuwel
waar die laaste son-aanraking
ons wyn met liefde gegeur het

dit was daar
met die vêr-wye veld ver onder ons
waar jy met jou liefbruin-oë
ons harte met goud ge-ring het

dit was daar
tussen rietbokke en olien
en die eerste skemervonkel
waar soen en antwoord een geword het

© adele

Die ene van Adele (onse Annie) lank gelede geoes en bewaar in die ou woordskuur:

Miskien

miskien mis ek jou
miskien verlang ek na jou
miskien gesels ek graag met jou
maar tog mis ek jou

miskien soek ek na jou
miskien in die more se dou
miskien in laatskemer se grou
maar tog mis ek jou

miskien sou ek wou
miskien jou hand vashou
miskien jou wange omvou
maar tog mis ek jou

dalk vind ek jou
dalk sommer nou
dalk nie eers gou
maar nog mis ek jou

© adele

En die enetjie was ook uitgestal met toestemming verleen deur Sussa (Elizabeth) baie jare gelede  :icon_biggrin:

Sussa: Twaalf jaar

Omdat ek jou liefhet
word my muisvaal Maandag mooi,
asem ek die goue geur van vars koffie
in ons outydse groen kombuis
diep in my longe in
en word die eerste oopmaak
van die swaar houtdeur
om die dag te groet
'n lieflikheid
'n loflied
'n pelgrimstog!

Omdat ek jou liefhet
word my dag 'n reënboog
en ruik die wit rose
langs die paadjie
soet soet soet

Omdat ek jou liefhet
pla die hadida
se skerp skeermeslemstem
bokant die berkeboom
nie baie vanoggend nie:
in my diepste binnekamers
klop 'n hart
warm warm warm
omdat jy my liefhet!

© Sussa

En juffrou Gawie het ook haar eie skepping gehad wat bewaar is:

Gawelina: Curriculum Vitae (2)

Hier is die CV, my broer.
Ek het hom klaar getik.
Dis jou besigheid, ek weet,
maar ek het my hart
hierin laat loer.

Hier is die CV, my broer.
Hierdie ou is “retrenched”
Dis jou besigheid, ek weet,
maar hierdie ou
se omstandighede
het my hartsnare aangeroer

Hier is die CV, my broer.
Ek het dit op my e-pos gevind.
Dis jou besigheid, ek weet,
maar my simpatie
is aan dié een verbind.

Het jy gekyk na die CV, my broer
dié ene, uit desperaatheid
aan my gestuur?
Dis jou besigheid, ek weet.
Is jy nie tog maar
tot ʼn bietjie deernis bereid?

Was daar al terugvoer, my broer,
die CV van my hartsnare se kind?
Dis jou besigheid, ek weet,
maar ek kry hom jammer.
Hy het ook maar ʼn vrou en kind.

Hier is nog ʼn CV, my broer!
Ag hemel, hulle stroom in -
e-pos loop oor!
Dis jou besigheid, ek weet.
Jy doen jou bes, dit weet ek ook.
Ag Vader, hoekom is werk so min!

Hier is die laaste CV vir die dag, my broer.
Ek het hom lank beskou -
met elke letter saam gesnik.
Doen jou werk, goed soos net jy doen.
Net my gebede het ek
tussen die woorde vasgetik.

© Gawelina

Meraai vannie Baai:
Hier is Bloubefoeterd se pronk voorbeeld:

Droom my kind, droom jou drome
hou die blinkheid in jou oog
want in 'n onbedagte oomblik
word jou onskuld weg geroof

Droom my kind, droom jou drome
van jou huisie en gesin
van die rykdom en genade
wat die dag van môre bring

Droom my kind, droom jou drome
van wit heininkie van hout
van skanse teen die wêreld
want dit is ons behoud


Onthou my kind, my in jou drome
en kom haal my, eks maar stil
as daar plek is in jou huisie
vir nog een, ek bid jy wil.

© Bloubefoeterd

Gawelina:
Met die sambreel netjies tussen my skouers gedruk en 'n dreigende toon in haar stem, plaas ek hierdie in opdrag van Raaitjie.

Soms
 
Soms hoor ek 'n melodie
gister in klank getoonset
'n oomblik teruggebring,
van dit wat was,
maar nooit kon wees
 
Soms sien ek 'n vuurrooi son
wat donker nag besweer
kleurespel herhaling
van dit wat was,
maar nooit sal wees
 
Soms ruik ek reënvars grond,
gister se roos in my hare
onthou in parfuum bewaar,
dit wat was,
maar nie meer is
 
Soms word ek in swart nag wakker
met 'n koester om my lyf,
komberse wat my knus omvou
soos arms uit die verlede
dit was destyds was
en nie weer sal wees
 
dan besef ek...
 
Soms, in 'n onbewaakte oomblik,
 het jy nog die mag
om my hart te raak,
dan kom ek agter
ek kan nie vergeet.

PM:
 :icon_biggrin: Gee vir Raaitjie 'n goue medalje en jy kan ook een kry, dit is pragtig. 

Ek kry 'n beklemming om my hart as ek net daaraan dink dat onse 007 vir 'n rukkie nie hier gaan wees nie. 

Fransi:
Pragtige, pragtige voorbeelde en 'n heerlike vorm om in te skryf.

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version