Author Topic: paar idiome  (Read 7988 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Lox

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 757
  • Gender: Male
paar idiome
« on: September 26, 2011, 08:26:18 PM »
ek weet nie waar ek dit moet plaas nie toe kies ek maar die plek

Die kleurryke herkoms van ’n aantal van ons bekendste idiome
Van Samaritaan tot
 die kat en saffraan

Is jy ’n remskoen of dalk voor op die wa? Lieg jy soos tandetrekker of is jy straks geneig om soos ’n groot speld te verdwyn? Heel moontlik is jy nie een van die karakters wat in hierdie idiome beskryf word nie, dog ken jy wel ’n klompie mense wat aan een of meer van die genoemde eienskappe beantwoord. Maar weet jy werklik waarom ons in ons taal sekere mense so kleurryk beskrywe soos hierbo?

I

N ons idiome, lees ons in ’n ander artikel op die Mieliestronk-werf, “lê die hele wordingsgeskiedenis van ons geliefde Afrikaans ingebed... en die unieke landelike verlede van ons voorgeslagte wat deur swaarkry veredel is. Soos ons is, so doen ons. Soos ons doen, so praat ons."

En dit is baie waar.

Anders gestel: die ganse karakter van ons taal is deur invloede van die verlede gevorm—invloede waarvan ons baiemaal net vaagweg of miskien glad nie eens meer bewus is nie.

Dit is egter nie altyd maklik om die spesifieke bron van bepaalde idiome na te speur nie. Partykeer lewer sulke speurtogte boonop niks op nie, veral waar die oorspronge in die oorlewering deur raaiselagtige beelde versluier word. (Ons weet byvoorbeeld glad nie meer wie daardie enigmatiese Dawid was wat die wortels gegrawe het nie!)

Nietemin bly die geskiedenis van idiomatiese uitdrukkings een van die interessantste vertakkinge van die taalkunde—en waar die herkoms van sulke segswyses wel bekend is, kan dit tot interessante herontdekkings van die lewenswyse van ons voorouers lei.

Hieronder word vertel hoe en waar sekere van die bekendste uitdrukkings in Afrikaans in der waarheid ontstaan het. Dis ’n onthullende reis na vergange eeue toe die wêreld nog baie anders was.
Voor op die wa wees

• In die ou dae moes kinders en ondergeskiktes gesien maar nie gehoor word nie—hulle moes hul plek ken en hulle nie ongevraagd tussen die volwassenes of die gesiene mense inwurm nie. Voor op die wa was die sitplek wat op die trekpad gereserveer is vir die boer en sy vrou, of vir ander uitgelese mense in hul geselskap. Die minderes moes agter op die wa saamry.

 

Ondergeskiktes wat hulle voor tuis gemaak het, was dus letterlik "te voor op die wa", en hierdie uitdrukking word vandag nog oordragtelik gebruik vir vrypostige mense wat hulle regte toe-eien wat hulle nie toekom nie.

’n Regte remskoen wees

• Dit is nog een van ’n hele aantal idiome wat terug te voer is na die dae van die wa en osse van ons voorsate. ’n Remskoen was ’n boogvormige voorwerp wat onder ’n wiel vasgemaak is om ’n wa langs ’n steil afdraande te laat rem. Mettertyd is dit gebruik om na konserwatiewe mense te verwys wat alle vordering of vooruitgang vertraag.

’n Barmhartige Samaritaan

• Iemand wat baie mensliewend of hulpvaardig is, word vandag nog baiemaal só betitel. Dit is een van verskeie idiome wat Afrikaans aan die Bybel te danke het.

 

Die Samaritane was ’n gemengde ras wat gedeeltelik afgestam het van die Israeliete en gedeeltelik van heidene soos die Assiriërs. In die tyd toe Jesus op aarde was, is hulle nie hoog geag nie.

 

Tog het Jesus in ’n gelykenis vertel hoe een van hierdie verstotelinge hom juis deur sy barmhartigheid onderskei het. En as ons wil verwys na iemand wat hom oor sy medemens se nood ontferm, noem ons hom steeds ’n barmhartige Samaritaan.
Met die maan gepla

• As iemand vir ons nie reg wys lyk nie, sal ons maklik skerts dat hy met die maan gepla is. ’n Klompie geslagte gelede was dit egter niks om grappies oor te maak nie, want sekere mense het werklik gedink dat die maan ’n mens van jou verstand kon beroof.

 

As jy jou snags te veel aan maanlig blootgestel het—só het hulle geglo—was jy ’n goeie kandidaat vir die sielsiekegestig.

 

Maar sedertdien het mense selfs op die maan geland en nie een van hulle het selfs ’n bietjie “snaaks” geraak weens hul fisieke wandelinge op die aarde se natuurlike satelliet nie. Wys jou...

’n Klap van die windmeul weghê

• Dit beteken natuurlik dieselfde as om met die maan gepla te wees. Maar die uitdrukking het ’n heel ander oorsprong. Dit is terug te voer na ons voorsate in Europa wat veel meer met windmeulens te doen gehad het as ons. En die wieke van ’n windmeul kon ’n onverantwoordelike mens inderdaad met rampspoedige gevolge teen die kop tref!

Die idioom is egter bes moontlik lewend gehou deur die wêreldberoemde roman Don Quichot van die Spaanse skrywer Miguel de Cervantes Saavedras (1547-1616).

Quichot, ’n maer, middeljarige landheer van die platteland wat hom verbeel dat hy ’n ridder is, loop in die roman ’n windmeul storm onder die indruk dat dit ’n reus is. Maar soos daar in die verhaal staan: "Metdat hy die windmeul nader, begin ’n oggendwindjie waai, wat die wieke laat draai en Quichot ’n hou teen die kant van die kop gee wat hom op die grond laat neerslaan."

Toegegee, eintlik was ou don Quichot al hoeka  "in die bol gepik" nog voordat die windmeul hom so venynig "geklap" het!

Soveel van iets weet as ’n kat van saffraan

• Safraan is ’n spesery wat uit die stampers van die krokusplant berei word. Die Maleierslawe aan die Kaap was op hul beurt groot kenners van speserye, omdat hulle uit die spesery-ryke Ooste hierheen gebring is. Boonop was die Kaap op die seeroete tussen Europa en die Ooste, en saffraan was dus vir die Kapenaars niks vreemds nie.

Presies hoe die uitdrukking hierbo sy beslag in Afrikaans gekry het, is egter nie heeltemal duidelik nie, hoewel ene N. Mansvelt reeds daarvan melding maak in sy Proeve van een Kaaps-Hollandsch Iidioticon uit die Ou-Kaapse bestel. Mansvelt het dit opgeteken as: "Wat weet die kat van saffraan".

Vergelyk dit met die dialektiese Nederlands: "Hij weet er zooveel van as ’n katte van de Zeundag (Am. Joos: Schatten uit de Volkstaal).
Lieg soos ’n tandetrekker
 

BO: ’n Tandetrekker en sy “slagoffer” op ’n ou
gravure uit die jaar 1523. Ons het darem self
die woorde aan die bokant in die ou man
se mond gelê!

• Die tandartse van vanmelewe was nie almal opgeleide artse soos ons hulle vandag ken nie. Trouens, allerhande kwakke het hulle die vermoë aangematig om pynlike tande met brute geweld uit mense se monde te pluk, en die arme lydendes het hulle laat begaan omdat hulle met allerhande mooi woordjies gepaai is: "Toe maar, toe maar, dit gaan glad nie seer wees nie."

Eers wanneer die kwak met ’n wilde geworstel die tand stuk-stuk met sy primitiewe instrumente uitgegrawe het, het die slagoffer terdeë besef hoe só ’n tandetrekker kon lieg!
Soos ’n groot speld verdwyn

• Die oorsprong van hierdie uitdrukking word duidelik as ons dink aan die oorspronklike "Verdwyn soos ’n groot speld in ’n hooimied", ’n vergelyking wat ook in Duits en Frans bekend is. ’n Verwante Engelse idioom is die bekende "looking for a needle in a haystack".
Die kloutjie by die oor bring

• Hierdie op die oog af duistere idioom beteken om uiteindelik te verstaan hoe twee oënskynlik heeltemal uiteenlopende dinge tog bymekaar aansluit. Miskien—maar dit is ook net ’n raaiskoot—hou dit verband met vee wat deur veediewe in slagysters gevang is en waarvan slegs die kloutjies in die ysters oorgebly het.

Al wat die veediewe daarna by hul vleisbraaivure sou agterlaat, was die ingewande, beendere en natuurlik die ore van die geslagte diere. As die veeboer egter oplaas die kloutjie by so ’n agtergelate oor (met die boer se merk daaraan) kon uitbring, sou hy agterkom hoe dinge inmekaarsteek en genoeg bewyse hê om die skuldiges aan die pen te laat ry.
Daar sal dadels van kom

• Herman Toerien se vertelling op Praag.co.za oor die moontlike herkoms van hierdie idoom is baie interessant:

 

Hy skryf dat die Nederlander Herman Willem Daendels (met wisselvorm Daedels), eertydse goewerneur-generaal in Batavia in die Ooste, ’n man was wat min blywende prestasies opgelewer het. Laat jy iets aan Dae(n)dels oor om te doen, kom daar dadels van. Of só was die gevoel.

 

Vanweë die druk skeepsverkeer van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie tussen Nederland en die Ooste om die Kaap, was die ou Kapenaars natuurlik heel vertroud met die gebeurde in Batavia en het daar skynbaar ook hier ’n persepsie bestaan dat Dae(n)dels nie besonder bekwaam was nie.

 

Naas Java was die kleiner eiland Madura (Madoera) ’n baie belangrike deel van die Nederlandse Oos-Indiese besittings, en Madura staan ook bekend as die eiland van “Komen en Gaan”. Hoewel min bronne na die uitdrukking “Daendels van Komen en Gaan” verwys, kom dit tog voor, skryf Herman Toerien.

 

Dit kon daartoe gelei het dat die idoom “daar sal dadels van kom” in Afrikaans bestendig is, en Toerien reken dit is tog moontlik dat die einste Daendels só ’n blywende indruk op ons taal gelaat het. Dit kan weliswaar nie bewys word nie, maar—só skryf hy—“dit is so ’n mooi storie, ’n mens kan dit gerus maar glo”.

 

Inderdaad.

* * * *

TEN SLOTTE kan ons sê dat die landelike verlede van ons Afrikaanssprekendes miskien nêrens so duidelik vasgelê is as in die haas oneindige voorraad idiomatiese vergelykings met ’n plattelandse agtergrond wat in die spreektaal bestaan of tot betreklik onlangs nog bestaan het nie.

        Dink maar aan:

        ’n Plooigesig soos ’n mofskaap
        Knypknieë soos ’n grooteier-koei
        Wye neusgate soos ’n flou perd
        Groot ore soos ’n bakoond
        Wegstaan-voortande soos ’n stalvurk
        Hol toonnaels soos ’n soplepel
        Hol wange soos ’n toegeslane brood
        Skurwe pote soos ’n vleipatat
        Kort en dik soos ’n petrolblik

        ... en duisende ander.

Ons hoef nie eens te wonder hoe sulke uitdrukkings ontstaan het nie. En die betekenisse lê voor die hand. Uit die milieu van die boereplase het ’n idiomeskat uniek aan Afrika in ’n Germaanse stamtaal ontwikkel, waarvan sekere reste bes moontlik behoue kan bly lank nadat die rekenaar ons wêreld in ’n digitale doolhof verander het.

Viva die boertige sêgoed!
wees vriendelik met die boere, hulle sit kos op die tafel.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: paar idiome
« Reply #1 on: September 28, 2011, 06:56:02 AM »
Dankie vir die deel ou Stoffeltjie. Dalkies kan jy net erkenning gee aan jou inligtingsbron deur die skakel waar jy al die wonderlike inligting gekry het, onderaan jou plasing te los. Dan kan die ouens wat meer wil weet gaan loer  :toothy4: Ek weet ek wil altyd soos 'n vraat meer en meer lees  :icon_bigsmurf:

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1655
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: paar idiome
« Reply #2 on: September 29, 2011, 03:24:35 PM »

Wyn in die man, wysheid in die kan – As iemand dronk is, kan ‘n mens nie wysheid by hom verwag nie

Iemand het ʼn blikbord voor die kop
Iemand is onbeskaamd. Iemand is dikvellig.
Die idioom word gebruik omdat niks wat ʼn mens sê tot die persoon kan deurdring nie, asof hy ʼn blikbord voor die kop het.

[[http://maroelamedia.co.za/blog/boeretroos/taaltoffie/25-september-2011-2/]]
adéle  :grommit:

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: paar idiome
« Reply #3 on: September 30, 2011, 02:58:00 AM »
Adele dit is PRAGTIG!! Duisend en tien dankies vir die aandra en deel van jou leesgenot. Ek het die ouens gekontak en toestemming gevra of ons van die gesegdes/idiome ook hier mag uitstal en deel met die skrywermaters. Kom ons hou styf duime vas. :read:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9414
  • Gender: Female
Re: paar idiome
« Reply #4 on: September 30, 2011, 02:41:26 PM »
Baie dankie aan almal van julle.  Ek voel soos 'n uitskot brakkie, maar ek moet die boek klaar kry.  Ek kom loer net gou as my oge nie meer met mekaar wil assosieer nie.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: paar idiome
« Reply #5 on: October 01, 2011, 02:02:09 PM »
Ek dog net so voor ons in die kooi spring laat ek net weer loer.... en jou wrintiewaar hier kon ek inkom!! Nou kan ek met geruste hart gaan doeks. Maandag DV gaan ons groooot woordpret begin PM. Hou jou oog op die skermpie hoor hiehiehie. Sal nie die 'geheim' nou verklap nie  :icon_bigsmurf:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9414
  • Gender: Female
Re: paar idiome
« Reply #6 on: October 02, 2011, 07:56:37 AM »
Ai Raaitjie, jy is dierbaar.  Ons moet nog die gedigkompetisie ook afskop. 
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: paar idiome
« Reply #7 on: October 03, 2011, 09:33:57 AM »
En ons soek nuwe woorde ook :read: Dink hoeka nou ek moet een of ander tyd die mandjie gryp en ons eie aangetekende woorde gaan her-oes en bewaar voor die mot en roet dit tot niete laat gaan  :love7: Ek dink nou spesifiek aan jou intensiewe vorme wat sy soveel vreugde verskaf het en Naas se humoristiese bydraes wat ons menige maal kranklik gehad het van die lag!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9414
  • Gender: Female
Re: paar idiome
« Reply #8 on: October 03, 2011, 11:02:09 AM »
As iemand iets op die ander forum het wat hulle wil bewaar moet hulle dit gaan haal.  Daar is iets in die pyplyn maar die besluite is nog nie geneem nie.
Om te weet is om te verstaan.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: paar idiome
« Reply #9 on: October 04, 2011, 01:47:24 AM »
Mater stuur my lyntjie met die inligting wat jy beskik groooot asseblief. Daar is duisende ure se werk in daardie boekie van woorde en ekke wil nie een oggend wakker word en dit is geskrap nie snik-snik!!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9414
  • Gender: Female
Re: paar idiome
« Reply #10 on: September 12, 2018, 02:07:24 PM »
Lees ek toe vandag:  Wat weet 'n mol van kaas?  Die ander een is AB se aanhaling oor wat weet 'n kat van safraan. 


Die berg het 'n muis gebaar. 
« Last Edit: September 12, 2018, 02:22:13 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline Anastasia

  • Regular Members
  • Snuiter
  • Posts: 419
  • Gender: Female
  • My taal is Liefde
Re: paar idiome
« Reply #11 on: September 12, 2018, 05:41:18 PM »
Watter ander forum is dit?
Ek huppel en dans deur die lewe met drie bene!

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9414
  • Gender: Female
Re: paar idiome
« Reply #12 on: September 13, 2018, 08:20:24 AM »
Dit was daardie woeste woes plek matertjie. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Bouspan
  • Hardebaard
  • Posts: 1655
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: paar idiome
« Reply #13 on: September 14, 2018, 04:54:08 PM »
Vroeër toe Willem van Woes ontslae wou raak, kon hy dit nie verkoop kry nie, het ek (dalk verkeerd, sal nie weet nie) afgelei, toe stop hy dit net. Wat se verwikkelinge is nou aan die gang?
Ek wonder maar net want geen forum of webwerf sal ooit weer die hoogtes bereik wat ons daar geklim het nie.
En ek het nie geweet daar is iets af te laai nie, ek gedog ons forumgange is lankal met dinamiet opgeblaas?
adéle  :grommit:

Offline Meraai vannie Baai

  • Global Moderator
  • Wysgeer
  • Posts: 2552
  • Elke dag aan ons Geskenk, is 'n kosbare voorreg.
Re: paar idiome
« Reply #14 on: September 17, 2018, 12:19:07 PM »
Ek het hier en daar van die letterlike der duisende woordskatte wat ek met toestemming van julle oor die jare bewaar het, kon herplaas hier op ons forum. Meeste van dit wat herwonne kon word, het PM vir my van ei3 ou woordskuur wat ek geskep het op die woesforum weer aangestuur en ek kon dit ook hier kom uitstal vir ons.

Willem het my op 'n stadium gekontak en gevra of ek bereid is om teen betaling weer die woesforum 'lewe' te probeer gee maar ek was so teleurgesteld in sy optrede in die verlede dat ek nie eers geantwoord het nie. Die liefde en hartseer wat ons daar gedeel het sal verseker nie maklik weer herroep kan word nie. Dit was 'n unieke woordvriendskap en kosbaar verby. Ons is 'n handjievol wat weer hier ook probeer maar dit voel soms tevergeefs sniksnik.
« Last Edit: September 17, 2018, 12:23:13 PM by Meraai vannie Baai »