Liefdesspel
Jy is die wind.
Ek is die blaar
wat jy ligtelik
argeloos, speels
en geswind
voor jou laat dartel
swiep
en sweef.
In jou asem se hygende krag
laat jy my soms styg
soms daal
totdat ek val en sidder
ontredderd
voor die windstilte beef
‘n plant aan sy stingel
geknak
maar tog voort bly leef.
Kyk hoe ritselend,
speels van die pret
maak jy ‘n warrelwind
van die los blarenet
en let nie op mý
wat jy bewustelik wreed
eenkant laat bly lê het nie,
want met my kan jy speel
en my ligweg vergeet
soos ‘n kind in sy spel
vêr weg van wéét.
Ek lê eenkant
en wag vir jou lag.
As jy dalk vlugtig,
tersluiks,
na my kyk,
dan glinster my oë
en ek ontluik
soos eenmaal
toe jy my laat dartel
en draai het,
lustig getol
en vreugdevol
geswaai het.
Jy wend jou na my
en ek weet
dat jy ons ou-oue spel
nooit nie sal vergeet.