Author Topic: Selfverwyt en vergifnis  (Read 34793 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Bestuur

  • Guest
Selfverwyt en vergifnis
« on: March 28, 2011, 07:45:10 AM »
Kom help vir PM met raad en advies om hierdie werk mooi af te rond.


Selfverwyt en vergifnis

Selfverwyt en vergifnis.  (Finaal?)

Vasgevang in 'n diep duister poel:
nagdonker wat jou siel gevange hou,
eensaamheid wat jou elke asemteug verstik,
selfverwyt wat oor jou gewete spoel.

Jy weet mos wát dit is wat jou daar laat beland het.
Jy ken elke verskuilde pad waarvan jy afgedwaal het,
elke klag wat jy aanhoudend teen jouself inbring
wat jou hande bewend in jou skoot laat wring.
     
Hoeveel mense sonder skuld en sonder rede
wil jy nog, skaamteloos en verwoed,
diep in dieselfde donker poel werp
om saam vir jou sondes te boet?

Gaan kyk in die spieël na jou gesig.
'n Mens wat deur sy Skepper hier geplaas is,
tog seker vir n rede, vir n ander doel
as om te drink uit ‘n selfbejammeringspoel.
   
Dit is nou tyd om jouself te vergewe,   
om jouself in die oë te kyk en weer te lewe.
Kyk na die mooi lig op die horison, 
dit is genade wat vir jou opkom.

Kyk links van jou is die stut wat ek  uitreik,
daar regs is nog meer hande om te gryp.
Sien hierin die liefdevolle hand van God.

Gryp dit vas en trek jouself weer op.
« Last Edit: July 19, 2011, 04:05:22 PM by PM »

quizagunter

  • Guest
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #1 on: March 31, 2011, 09:28:45 AM »
Hi, Ek is nie iemand, wie graag ander se gedigte/skrywes wil verander/verbeter nie.  Ek is van mening dat dit op daardie stadium, wanneer jy dit geskryf het, vir jou perfek was en dis hoekom jy dit toe plaas.  As daar wel 'n strofe/sin/woord is waaraan jy twyfel, kan jy dit asb uitlig en dan kyk almal daarna.  Anders wil almal alles op jou gedig/skrywe verander/verbeter en dan is dit nie meer joune nie.  Sê asb as jy verskil dat ek ook sodoende leer in die proses.  Vrede

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #2 on: March 31, 2011, 12:44:41 PM »
Dankie vir jou mening.  Ek sal dit waardeer as enige persoon vir my sy/haar eerlike opinie gee aangaande enige werk wat ek plaas.  Soms lees iets vir my reg, maar dit is hinderlik vir 'n ander persoon en daarom sal ek dit graag uit 'n ander hoek wil sien en dan die werkie verbeter.  Wie weet,  dalk word ek eendag 'n  "groot" skrywer.   :icon_biggrin:

Wanneer 'n skrywer aan 'n gedig "gewerk" het,  maak hy/sy daardie gedig sy eie en lees naderhand bo-oor sy eie foute.  Ek staan altyd bakhand vir raad en die mening van elke ander skrywer.  Dit kan my net leer en help om beter te skryf.  Ek weet ook dat die persoon wat vir my raad gee net na die gedig kyk en nie vir my as persoon afbreek nie, daarom slurp ek alle voorstelle op en oorweeg dit deeglik. 


Om te weet is om te verstaan.

Bestuur

  • Guest
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #3 on: March 31, 2011, 08:40:22 PM »
Bestuur het 'n briefie ontvang van  Steyn Steenekamp wat tans probleme ondervind met plasings.  Hy vra dat ek hierdie namens hom moet plaas en dus maak ek so.  Steyn,  ek hoop die probleme is gou uitgesorteer.  Baie dankie vir die deelname. 

“Selfverwyt en vergiffenis”

Ek het baie hoë waardering vir die tema en die vorm van PM se gedig; dit spreek van ervaring wat diep uit die hart kom, en van lang ure se dink en tob oor die tol wat selfverwyt eis, en hoe dit opgelos kan word. Voorwaar 'n meesterlike gedig!
Maar in hierdie gebroke skepping is niks ooit volmaak nie, maar mens kan, of moet, altyd strewe om dit te bereik. Aanvaar dus die opmerking in die gees waarin dit bedoel word: in nederige erkentlikheid teenoor PM se skepping.

Enkele wysigings in die rym en ritme van die gedig kan dit dalk van iets groots na nog groter hoogtes voer. Niemand hoef dit ter harte te neem of daaraan te steur nie, maar, as dit my gedig was, sou ek probeer het om dit volgens die rigiede eise van die “klassieke” digkuns te klee, byvoorbeeld: 
   
1.   Deur hier en daar 'n woord weg te laat, by te voeg of te verander, meen ek die ritme kan meer vloeiend, toegegee: sangerig, word:

“Jy sit vasgevang in diepe duister poel
van donker nag wat nou jou siel gevange hou;
en vra jouself met selfverwyt: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie eensaamheid wat aan my gewete kou?’ “

2.  Mens kan eensaamheid en selfverwyt in die derde en vierde reëls omruil om 'n effens ander klem/betekenis te gee:
“… en vra jouself in eensaamheid: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie selfverwyt wat aan my gewete kou?’ ”

3.  Die eerste sin is korter as die ander - dit steur nie noodwendig nie, soms kan dit werklik nie anders nie -  maar mens sou die volgende kon probeer om die ritme in lyn met die res te bring:
“Jy sit verlore vasgevang in diepe duister poel … of:
“Jy sit ontredderd vasgevang in diepe duister poel … of
“Jy sit ontnugterd vasgevang in diepe duister poel …

4.   Om aan 'n gewete te “knaag” is beter as om aan 'n gewete te “kou” - maar dan sal mens iets anders moet kry met wat die siel kan gebeur as “gevange hou”

5.   Ek merk nou eers op: “gevange hou”  en “vasgevang” - variasies op dieselfde woord in opeenvolgende sinne. Dan moet mens dalk 'n drastiese plan maak. Wat van:   

“Jy sit ontnugterd vasgevang in diepe duister poel
van donker nag wat nou jou sielerus vervaag
en jy vra jouself in eensaamheid: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie selfverwyt wat wreed aan my gewete kou?’ “

Ek wil herhaal: aanvaar asseblief die kommentaar in die goeie gees wat dit bedoel word. Is die forum nie juis daar om gedagtes en skeppingsvermoë te stimuleer nie? 

Met hoë agting

Steyn Steenekamp

 
Ns.  Moet my nie vra wat op aarde PM nou met die res sou kon doen nie!
« Last Edit: March 31, 2011, 08:53:46 PM by Bestuur »

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #4 on: April 01, 2011, 09:19:59 AM »
Wow!  Baie dankie Steyn.  Ek waardeer hierdie inset geweldig baie.  Nou gaan ek sit en daardeur werk en dan terug kom met 'n verbetering. 

Jy is reg.  Vasgevang en gevange hou so in twee versreëls na mekaar is nie wenslik nie.  Dit is presies wat ek bedoel met 'n ander skrywer se inset.  'n  Mens is so emosioneel betrokke by jou eie werk dat sulke goed jou skoon ontglip. 

Nogmaals dankie.  Wanneer jy 'n tydjie kan afknyp sou ek graag wou sien dat jy die res ook aanpak.  Ek kan ook nie wag vir ander skrywers om ook hul inset te lewer nie.  Baie dankie.
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #5 on: July 19, 2011, 11:57:07 AM »
wat het nou van hierdie mooie werk geword? later wanneer rustigheid dit regkry om in my dagure in te glip, kom ek terug hierna, PM, dit is baie mooi. ek sal dit graag afgerond wil sien. hoop jy beplan om dit te gebruik.
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #6 on: July 19, 2011, 12:59:36 PM »
Ek het 'n rukkie gelede, ná 'n insident op 'n ander forum waar een van die skrywers wat my na aan die hart lê, deur 'n moeilike tyd gegaan het, hierdie gedig geskryf.  Dit was 'n uitroep van magteloosheid!  Ek wou die persoon aan die skouers ruk en vra:  Word wakker, 'n mens kan nie jouself bly verwyt oor dinge wat jy nie kan verander nie,  staan op en durf die lewe aan, niemand is meer kwaad vir jou nie,  net jy!  Vergewe jouself en staan op! 
Ek het al baie raad gekry oor hierdie gedig, sou graag nog wou hê om daardeur te werk tot dit soos 'n handskoen pas!  Ek sal jou inset baie waardeer Adéle.
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #7 on: July 19, 2011, 01:19:17 PM »
ek ken daai magtelose gevoel, party mense vervolmaak die kuns om hul in ewige selfverwyt te koester, dit tot afgod te verhef.
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #8 on: July 19, 2011, 02:30:37 PM »
Ek hoop die gedig sal nou meer sin maak.  Sien uit na jou inset!   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #9 on: July 19, 2011, 04:06:27 PM »
'n Briefie van Inalize:

Hi PM

Die terugvoer wat ek gee is uit my eie gebrekkige kennis en ervaring en is beslis nie die mening van ’n meester nie, slegs ’n mede-student van woorde. Hou dit asb in gedagte…

’n Baie diep gedig met groot waarheid deurvleg. Mens weet waar hy droogmaak en trek voorwaar baie keer mense saam met jou in die gemors in, maar die genade bly groot. Die gedig spreek tot my, daarom dat ek eers ’n dag of twee daarna geluister het voor ek reageer.

Hierdie is vir my ’n gespreksgedig – as mens dit so kan noem – wat iemand amper onder vier oë spreek. Uit my bietjie sielkunde agtergrond, weet ek mense is soms geneig om weg te skram en nie verder te luister as hulle direk aangevat word nie.
“Jy weet mos wát dit is wat jou daar laat beland het.”

Indien die gedig ’n bietjie meer afstand gee, sal meer persone geneig wees om dit te lees en op hulle te laat groei, i.p.v. om so vinnig moontlik skuld te ontken.

Ek sou ook dalk die “van” aan die begin van reel 2,3,4 weglaat. Dit kan die gedig se vloei versterk. Deur die ; na reel 1 te vervang met : is daar genoeg aanduiding dat die diep donker poel verder omskryf word.

"Jy sit vasgevang in 'n diep duister poel;
van nagdonker wat jou siel gevange hou,
van eensaamheid wat jou elke asemteug verstik,
van selfverwyt wat oor jou gewete spoel."

Sou ek dus voorstel om ’n klein bietjie aan te pas en net effens minder aanvallend te maak deur te sê:

Vasgevang in 'n diep duister poel;
nagdonker wat jou siel gevange hou,
eensaamheid wat jou elke asemteug verstik,
selfverwyt wat oor jou gewete spoel.

Nou is die “jou” steeds daar, maar tog sagter as “jy” en “jy weet”.

My eie styl is baie meer gekonsentreer. Dus sou ek baie van die ander sinne verkort het, maar elke skrywer moet sy pen in die inkpot doop soos sy hand dit vind.

Ek voel geëerd dat jy my mening vra, want ek hou van jou werk. Hoop ek het nie êrens op ’n liddoring getrap nie.

Liefdevolle groete
Inalize
« Last Edit: July 19, 2011, 04:08:41 PM by PM »
Om te weet is om te verstaan.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #10 on: July 19, 2011, 04:07:19 PM »
'n Briefie van Anton:

My liewe mens.

Wat `n aangrypende gedig! Ek kan so identifiseer daarmee.

Ek hoop ek is reg, as ek sê, jy skryf uit jou ervaring. Dit is maar die beste bron vir die beste formulering. Ek vind dit self. Die oomblik wanneer `n mens uit `n versinsel of `n ander persoon se ervaring/belewenis skryf, kom daar "gate" in die diskoers.

Jou gedig is in vele opsigte aangrypend.

Daar is `n stelselmatige progressie, wat `n mens bly boei. Self jou gebruik van `n deurlopende beeldspraak, verhoog die spanning.

Selfs jou strofe-indeling probeer die spaninng uitrek. Die struktuur wil amper vals hoop van reëlmatigheid bring. Dit werk egter sterk in teen die erns van die tema en verhoog die spanning al hoe meer. As't ware `n uitgerekte lyding.

Hoewel die gedig tot iemand baie spesiaal gerig is, lê `n mens se empatie by die skrywer. Dit klink asof die proses weer en weer plaasvind en hoewel daar `n innige uitreik na die einde toe voorkom, is dit `n hartseer einde. Die einde dui daarop dat die skrywer dit antisipeer dat die persoon aan wie dit gerig is, nooit regtig tot inkeer sal kom nie.

Die gedig wil-wil soms deurbreek tot `n vrye vers, maar kort-kort word dit teruggedwing tot rym. Dit dui ook op die gevangenisskap van die skrywer se situasie binne die gegewe.

Ek is persoonlik nie `n groot voorstaander van rym in die moderne gedig nie, maar wanneer dit funksioneel aangewend word (soos hier), verhoog dit die binêre spanning en word die protoganis se amperse weerloosheid teenoor die antagonis, metafories verhoog. `n Heerlike spaninng waarsonder geen gedig kan lewe nie.

Jou beelde, veral dié uit die onderbewussyn, soos "poel", tref soveel meer, omdat die poel ook "donker" is. Die onvoorspelbare en amper diabolies magiese daarvan. Dit dra by toe die verhoogte spanning, en die leser ervaar `n amperse benoudheid wanneer hy ten einde laaste besef daar sal geen inkeer of oplossing aan die kant van die antagonis kom nie.

`n Mooi stukkie werk, Piet Magriet. Ek dink daar is nog skaafwerk aan. Soms wil dit voel asof daar dalk te veel woorde is. Loer gerus weer daarna en kyk of jy nie sommige van die herhalende beelde in een sin/frase, kan kondenseer tot een woord wat al die eienskappe van daardie klompie woorde/frase kan saamvat nie. `n Tesourus is hier nogal baie handig. So leer ons ook nuwe woorde met die wonderlikste veelbetekenis ken.

Dit is nie kritiek nie. Ek herskryf soms my verse baie sodat ek dit kan "inploeg" totdat net die essensie oorbly. `n Gedig wil met die minste woorde, soveel as moontlik sê. Dit is waarom dit `n gedig is: Dit is "dig" gemaak. M.a.w. nie onmiddellik toeganklik nie. `n Mens moet as't `n bietjie werk om dit te ontknoop. Wanneer dit dan voor jou oopval, is dit die heerlikste hervaring, want die leser kan op meer as een vlak (om die waarheid te multi-dimensioneel) die ervaring beleef en dikwels op hom/haar toepas.

Skryf nog! Ek lees graag.

Baie dankie dat jy dit met my deel. Dit laat my baie spesiaal voel.
Mooi aand.

Anton
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #11 on: July 19, 2011, 05:26:20 PM »
`n Gedig wil met die minste woorde, soveel as moontlik sê. Dit is waarom dit `n gedig is: Dit is "dig" gemaak

ek is mal oor hierdie beskrywing van 'gedig'

Anton en Inalize se "kommentaar" is dieselfde wat ek ook al geleer het uit die aanbevelings wat ek by my werk gekry het by "dignet". dit is so interessant om te hoor wat ander mense dink, dankie vir die deel hiervan.

 :grommit:
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #12 on: July 19, 2011, 05:43:28 PM »
Adéle, sulke kommentaar laat my tone krul!  Dit verg soveel tyd om na 'n ander se werk te kyk en sulke kommentaar daarop te lewer.  Ek waardeer elke woord en is sooo dankbaar daarvoor.  'n Mens kan net die skalpel en die tesaurus nader sleep en probeer om te verbeter.  Tans is ek so toegegooi onder werk,  maar ek sal elke kansie gebruik om daaraan te werk.  Ek wag nog vir jou inset.

Ek het jou boodskappe ontvang en sal werk maak van jou probleem met die plasings van nuwe onderwerpe.   :love7:
Om te weet is om te verstaan.

Offline adele

  • Hardebaard
  • Posts: 1932
  • Gender: Female
  • gryp na môre in klein-klein stukkies
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #13 on: July 19, 2011, 07:17:46 PM »
hier is net so paar idees om saam te val met wat Anton voorstel

Selfverwyt en vergifnis.

Vasgevang in 'n diep, duister poel...  
nagdonker wat jou siel gekerker hou,
eensaamheid wat jou elk asemteug verstik,
selfverwyt wat oor jou gewete spoel...    
 
Jy weet mos wat het jou daar laat beland
elk verskuilde pad waarvan jy afgedwaal het;
klagtes wat jy aanhoudend teen jouself inbring
wat jou hande bewend in jou skoot laat wring.
      
Hoeveel mense, sonder skuld en rede
wil jy nog, skaamteloos en verwoed,
diep in dieselfde donker poel werp
om saam vir jou sondes te boet?

Gaan kyk in die spieël na jou gesig-
Jy! Deur jou Skepper hier geplaas
tog seker vir ’n rede, vir ’n ander doel
as om te drink uit ’n selfbejammeringspoel.
  
Dis nou tyd om jouself te vergewe,  
om jouself in die oë te kyk en weer te lewe.
Kyk na die mooi lig op die horison,  
dit is genade wat vir jou opkom.

Kyk, ek reik na jou ’n stut,
ander gee hul hande om vas te gryp.
Sien hierin die liefdevolle hand van God-
gryp dit vas en trek jouself weer op!

 :grommit:
« Last Edit: August 17, 2011, 08:26:54 AM by PM »
adéle  :grommit:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Selfverwyt en vergifnis
« Reply #14 on: July 19, 2011, 08:58:19 PM »
Dit is pragtig Adéle!  Hierdie gedig wat begin het as  "prosa" is nou besig om vorm aan te neem en ek is sommer mal daaroor.  Baie harlik dankie vir jou inset. 
Dit wys jou nou net wat kan met 'n gedig gebeur as elke ander skrywer sy inset lewer. 
Die lesse wat ek geleer het deur elke skrywer se inset, sal my bybly by elke nuwe gedig wat ek skryf.  Ek saluut julle!   :notworthy:   :notworthy: 
Om te weet is om te verstaan.