Digkuns > Kom ons help mekaar

Selfverwyt en vergifnis

(1/6) > >>

Bestuur:
Kom help vir PM met raad en advies om hierdie werk mooi af te rond.


Selfverwyt en vergifnis

Selfverwyt en vergifnis.  (Finaal?)

Vasgevang in 'n diep duister poel:
nagdonker wat jou siel gevange hou,
eensaamheid wat jou elke asemteug verstik,
selfverwyt wat oor jou gewete spoel.

Jy weet mos wát dit is wat jou daar laat beland het.
Jy ken elke verskuilde pad waarvan jy afgedwaal het,
elke klag wat jy aanhoudend teen jouself inbring
wat jou hande bewend in jou skoot laat wring.
     
Hoeveel mense sonder skuld en sonder rede
wil jy nog, skaamteloos en verwoed,
diep in dieselfde donker poel werp
om saam vir jou sondes te boet?

Gaan kyk in die spieël na jou gesig.
'n Mens wat deur sy Skepper hier geplaas is,
tog seker vir n rede, vir n ander doel
as om te drink uit ‘n selfbejammeringspoel.
   
Dit is nou tyd om jouself te vergewe,   
om jouself in die oë te kyk en weer te lewe.
Kyk na die mooi lig op die horison, 
dit is genade wat vir jou opkom.

Kyk links van jou is die stut wat ek  uitreik,
daar regs is nog meer hande om te gryp.
Sien hierin die liefdevolle hand van God.

Gryp dit vas en trek jouself weer op.

quizagunter:
Hi, Ek is nie iemand, wie graag ander se gedigte/skrywes wil verander/verbeter nie.  Ek is van mening dat dit op daardie stadium, wanneer jy dit geskryf het, vir jou perfek was en dis hoekom jy dit toe plaas.  As daar wel 'n strofe/sin/woord is waaraan jy twyfel, kan jy dit asb uitlig en dan kyk almal daarna.  Anders wil almal alles op jou gedig/skrywe verander/verbeter en dan is dit nie meer joune nie.  Sê asb as jy verskil dat ek ook sodoende leer in die proses.  Vrede

PM:
Dankie vir jou mening.  Ek sal dit waardeer as enige persoon vir my sy/haar eerlike opinie gee aangaande enige werk wat ek plaas.  Soms lees iets vir my reg, maar dit is hinderlik vir 'n ander persoon en daarom sal ek dit graag uit 'n ander hoek wil sien en dan die werkie verbeter.  Wie weet,  dalk word ek eendag 'n  "groot" skrywer.   :icon_biggrin:

Wanneer 'n skrywer aan 'n gedig "gewerk" het,  maak hy/sy daardie gedig sy eie en lees naderhand bo-oor sy eie foute.  Ek staan altyd bakhand vir raad en die mening van elke ander skrywer.  Dit kan my net leer en help om beter te skryf.  Ek weet ook dat die persoon wat vir my raad gee net na die gedig kyk en nie vir my as persoon afbreek nie, daarom slurp ek alle voorstelle op en oorweeg dit deeglik. 


Bestuur:
Bestuur het 'n briefie ontvang van  Steyn Steenekamp wat tans probleme ondervind met plasings.  Hy vra dat ek hierdie namens hom moet plaas en dus maak ek so.  Steyn,  ek hoop die probleme is gou uitgesorteer.  Baie dankie vir die deelname. 

“Selfverwyt en vergiffenis”

Ek het baie hoë waardering vir die tema en die vorm van PM se gedig; dit spreek van ervaring wat diep uit die hart kom, en van lang ure se dink en tob oor die tol wat selfverwyt eis, en hoe dit opgelos kan word. Voorwaar 'n meesterlike gedig!
Maar in hierdie gebroke skepping is niks ooit volmaak nie, maar mens kan, of moet, altyd strewe om dit te bereik. Aanvaar dus die opmerking in die gees waarin dit bedoel word: in nederige erkentlikheid teenoor PM se skepping.

Enkele wysigings in die rym en ritme van die gedig kan dit dalk van iets groots na nog groter hoogtes voer. Niemand hoef dit ter harte te neem of daaraan te steur nie, maar, as dit my gedig was, sou ek probeer het om dit volgens die rigiede eise van die “klassieke” digkuns te klee, byvoorbeeld: 
   
1.   Deur hier en daar 'n woord weg te laat, by te voeg of te verander, meen ek die ritme kan meer vloeiend, toegegee: sangerig, word:

“Jy sit vasgevang in diepe duister poel
van donker nag wat nou jou siel gevange hou;
en vra jouself met selfverwyt: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie eensaamheid wat aan my gewete kou?’ “

2.  Mens kan eensaamheid en selfverwyt in die derde en vierde reëls omruil om 'n effens ander klem/betekenis te gee:
“… en vra jouself in eensaamheid: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie selfverwyt wat aan my gewete kou?’ ”

3.  Die eerste sin is korter as die ander - dit steur nie noodwendig nie, soms kan dit werklik nie anders nie -  maar mens sou die volgende kon probeer om die ritme in lyn met die res te bring:
“Jy sit verlore vasgevang in diepe duister poel … of:
“Jy sit ontredderd vasgevang in diepe duister poel … of
“Jy sit ontnugterd vasgevang in diepe duister poel …

4.   Om aan 'n gewete te “knaag” is beter as om aan 'n gewete te “kou” - maar dan sal mens iets anders moet kry met wat die siel kan gebeur as “gevange hou”

5.   Ek merk nou eers op: “gevange hou”  en “vasgevang” - variasies op dieselfde woord in opeenvolgende sinne. Dan moet mens dalk 'n drastiese plan maak. Wat van:   

“Jy sit ontnugterd vasgevang in diepe duister poel
van donker nag wat nou jou sielerus vervaag
en jy vra jouself in eensaamheid: ‘Wat’s die sin, die doel
van hierdie selfverwyt wat wreed aan my gewete kou?’ “

Ek wil herhaal: aanvaar asseblief die kommentaar in die goeie gees wat dit bedoel word. Is die forum nie juis daar om gedagtes en skeppingsvermoë te stimuleer nie? 

Met hoë agting

Steyn Steenekamp

 
Ns.  Moet my nie vra wat op aarde PM nou met die res sou kon doen nie!

PM:
Wow!  Baie dankie Steyn.  Ek waardeer hierdie inset geweldig baie.  Nou gaan ek sit en daardeur werk en dan terug kom met 'n verbetering. 

Jy is reg.  Vasgevang en gevange hou so in twee versreëls na mekaar is nie wenslik nie.  Dit is presies wat ek bedoel met 'n ander skrywer se inset.  'n  Mens is so emosioneel betrokke by jou eie werk dat sulke goed jou skoon ontglip. 

Nogmaals dankie.  Wanneer jy 'n tydjie kan afknyp sou ek graag wou sien dat jy die res ook aanpak.  Ek kan ook nie wag vir ander skrywers om ook hul inset te lewer nie.  Baie dankie.

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version