Die Biblioteek > Vervloeë woordskatte

Vanmelewe se woorde

(1/6) > >>

Meraai vannie Baai:
Griffel en 'n lei
Prille jeug
Dag der dae
Skuinslê
Grêmmefone
Vandeesweek/vandeesmaand en vandeesjaar.
Sawens
Tiekie/penning/sjielings/halfkroon en 'n pond
Gatjieponners/hervormers en doppers
Hokaai!
O Koot!
Hiert jou slang!
Draadloos
Kooi of katel
Kleinhuisie
Dinky-toy
Hardegat-klapperdop
Streepsuiker
Sekelstert (duiwel)
Oulap se mooi
Mudsak
Kardoes
Kjenners
Prosedeer
Kêns oumens (Verwarde)
Flênnie hempie
Geborstrok (warm kledingstuk)
Gowerment

Meraai vannie Baai:
Goue-ou-gesegdes:

Over geset synde, kry jou gaai in rat en doet so voort!  :book1:

So lendelam met pote so krom soos ‘n Egiptiese donkie.

Net 'n tiekie en 'n baksteen hoog.

Baie myle lê tussen doen en sê.

Dis nou 'n bielie van 'n ding!

Dit is nou hoe dit lyk as krummeltjie brood geword het.

My magie ben vol en my pensie ben dik.

Die myn en die dyn – Myne en joune.

Iemand met ʼn groot wafel – Iemand met ʼn groot mond.

Dit was so nerf-nerf of ons was laat - Ons was amper laat.

Daar is skaars 'n haarbreedte verskil - amper geen verskil.

Hy is 'n bok vir sports - maak of hy mal is en doen alles.

As ek jou gryp bly daar niks van jou oor nie!

Krakende waens loop die langste – Sieklike mense is baie taai.

Hy is moerland toe.

Moenie my kom 'hanna-hanna' as jy self agter die deur wegkruip nie!

Dit sal die dag wees as jy dink ek gaan dit doen!

Poer des nerdes geval.

Dit hou darem siel en liggaam aanmekaar.

Van wyntjie en Tryntjie hou – Lief vir drank en vroue wees.

My kop draai soos 'n afkophoender vandag.

Ek seg dankie en jy poep oppe plankie (stank vir dank)

Jy kom hier aan soos ingelegde perskes na die maal (altyd laaste)

Hy het as op sy tone - Gapende gulpie.

Sy bek hang - Iemand wat kwaad of ongelukkig is.

Wie se brood mens eet, dié se woord spreek mens - afhanklik van 'n ander persoon te wees.

Nie `n naald hê om sy gat mee te krap nie - om brandarm te wees.

Jan Sparriewarrie - Om te lieg.

Orige jukskei - Om in die pad te wees/ nutteloos .

Soos `n ketter vloek - Persoon wat baie erg swets.

Kontant met die mond - Maklik kommunikeer/vrypostig wees.

Spaar vir jou mond, is goed vir die kat en die hond - die oorskiet gaan tog maar net na die diere.

Plas en plooi - fyn beplan en spaarsaam met jou geld werk.

Vir wind en weer rondloop - Kinders wat onversorgd/liefdeloos deur die lewe gaan.

Ek sal jou klap dat jy soos 'n boesmantekening teen die muur sit!

Hy sit met sy bek vol tande.

Hou die gatsak styf toe.

Klou aan die rokspante van sy ma vas.

Hy is nog nie gespeen nie.

Kom ek om dan kom ek om ...

Sit gaai - rus bene!

Hy dink die son skyn uit sy dinges uit.

Sy dink sy piepie laventel.

Kom soos 'n skoothondjie aangedraf.

Om stert tussen die bene die hasepad te kies.

Uitgerys soos 'n boerbrood van al die eet.

Jy is nou sommer vol strooi!

As ek nou moet bieg sal ek moet lieg.

Jy is nou meer lawaai as wol!

Hy lyk soos 'n vlieg wat in karringmelk geval het.

Jy vaar onder valse vlag my maat!

Dit is vis nog vlees en gaan jou suur bekom.

Ek is nou oor die muur - gedaan gewerk.

Hy is 'n man van twaalf ambagte en dertien ongelukke.

Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang!

Gou by die bak, lui by die vak.

Hy laat hom nie met 'n blaas ertjies op loop jaag nie.

Die saak is blou-blou gelaat (nie by die punt uitkom nie)

Daardie hakskene is so skurf mens kan kool daarop rasper!

Ek het hom nou so sleg gesê met woorde jik sal hom nie eers kan skoon kry nie!

Moenie laat ons nou dooie koeie met ou plooie opgrawe nie.

 "As dit sop reënt, da' staa' ons mos met 'n vurk" ... oor ons so swaar kry.

Ek klap gou 'n toon winkel toe.

Storm in 'n koppie (Antjie se met haar verbeelding sien sy maklik die Titanic ook)

Die wêreld is ʼn pypkaneel, elk suig daaraan en kry sy deel – Elkeen speel sy rol op aarde.

Wêreldsgoed is soos ʼn handvol vlieë – Tydelike dinge is nie blywend nie.

Wêreldsgoed is eb en vloed – Daar is niks bestendig in aardse besittings nie.

ʼn Ydeltuit – ʼn Hoogmoedige meisie.

Skuins voor agtermiddag - So by drie uur se koers verby.

Die Fordjie opgewen - met die motor in dorp toe gaan.

Soos Bella se skaap met die klokkie om die nek - Maak geraas sodat die mense kennis neem van jou bestaan

Heigende hertes in die vertes (waar val jy uit?)

Sy's opgedollie! (Mooi aangetrek)

Môggen trôffen Stoffel (hoop dit werk ou maat!)

Nôtte tiekie! (Weier)

Ek skedêl nou ( Ek gaan ry/loop)

Sien jou alie sonder 'n spieël (Uitgevang)

Kaalgat anderkant uitgekom - (Bankkrotskap in die gesig staar)

Grote otterma-tôtter! (Swets)

Dit is nou 'n propperliese bôggerop (Deurmekaar spulletjie)

Hoe sê? (Herhaal asseblief)

Sy's 'n omge-êlliede Nellie (Moerige vrou)

Nou's ek moerig/hoogs bemoerd wees (baie kwaad)

Skoon bedons opgestaan (Met verkeerde voet uit die bed geklim)

Neuk maar Noord swaer! (Links van die regering)

Hier kom dinges! (Moeilikheid op die hals gehaal)

Die lewe is bietjie te suur om in ons kieste te hou (lag 'n slag!)

Toe soos klei os se gat (dom)

Hy weet die diksnaar kom bo (ken van, lank in die tand)

Soos ‘n luis op ‘n hond se rug

 

Meraai vannie Baai:
NOG OU GESEGDES EN DIE BETEKENISSE DAARVAN:

*Dit sit my in die bed.
- Dit begryp ek nie.

*Hy het die saak ter berde gebring
- Hy het die saak opgehaal


*Bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
- Jy doen vir jou familie die meeste.

*Die boog kan nie altyd gespan bly nie.
- 'n Mens kan nie net werk nie; hy moet rus ook.

*Die bordjies is verhang.
- Die toestand is verander.

*In die land van die blindes is eenoog koning
- onder 'n groep mense wat niks van iets weet nie, blink die een mens uit wat wel so 'n bietjie kennis daarvan het.

 *Hy is in die bol gepik / met die maan gepla / van lotjie getik / het 'n klap van die windmeul weg / het nie al sy varkies op hok nie - hy is nie by sy volle verstand nie

*Buig die boompie solank hy jonk is
- vorm die kind se karakter solank hy nog klein is

*Iemand om die bos lei
- iemand uitoorlê / bedrieg

*Hy het in die botter geval
- hy het dit baie gelukkig getref

*Hulle het dit nie breed nie
- hulle het nie baie geld nie

*Anderman se boeke (briewe) is duister om te lees
- 'n mens verstaan moeilik 'n ander se sake

*Moenie nou probeer mooi broodjies bak nie
- moenie nou op vleierige manier guns probeer win nie

*Op sy baadjie kry / streepsuiker kry / riemspring
- die onderspit delf / 'n pak slae kry

*'n Baan of bohaai opskop
- 'n lawaai maak

*Iemand van bakboord na stuurboord stuur / van Pontius na Pilatus stuur / van die kassie na die muur stuur
- iemand rond en bont stuur sonder dat hy werklik geholpe kom of iets kan uitrig.

*Jy slaan die bal ver mis
- jy vergis jou heeltemal

*Julle moet hom bandvat
- julle moet streng optree

*Beenaf wees (op 'n meisie)
- verlief op iemand

*Jy lyk baie bek-af / jou ore hang
- jy lyk baie moedeloos, min lus vir die lewe

*Dit spreek boekdele
- dis 'n sprekende bewys.

*Ek laat my nie met 'n blaas ertjies op loop ja nie / ek skrik nie vir 'n koue pampoen nie
- ek word nie so maklik bang nie

*Hy steek vir almal blad
- hy groet almal met die hand

*'n Saak blou-blou laat (laat links lê)
- 'n saak (wat eintlik moet aangeroer word) nie bespreek nie (of dit nie afhandel nie)

*Dit is botter by die vis
- kontant betaal
 
*Balsem in die wonde giet
- troos bring

*Sy boeke is deurmekaar
- Hy is in die moeilikheid

*Sy is 'n bloukous
- Sy is 'n geleerde vrou

*Dis botter aan die galg smeer
- Dis vergeefse moeite

*Hy het my 'n bril op die neus gesit
- Hy het my bedrieg

*Hy pak die bul by die horings
- Hy tree moedig op / Hy gebruik die geleentheid

*Hy merk nie die balk in sy eie oog nie
- Hy sien nie sy eie foute raak nie

*Belofte maak skuld
- As jy iets beloof, moet jy jou belofte hou

*Nuwe besems vee skoon
- As jy 'n nuwe betrekking aanvaar, werk jy baie fluks.

*Voor Baäl die knie buig
- afvallig word; die ware leer versaak.

*Baantjies vir boeties
- betrekkings vir vriende en bloedverwante.

*Eers baas, dan Klaas
- eers die meerdere, dan die mindere.

*Vir elke bagatel (aan die huil gaan)
- vir elke kleinigheid

*Bak en brou
- knoei.

*Gou by die bak, lui by die vak
- gou om te eet, maar stadig om te werk.

*Iemand 'n poets bak
- iets grappigs doen ten koste van iemand.

*Balke saag
- snork.

*Wie sal die kat die bel aanbind?
- wie sal hierdie gevaarlike werk durf doen?

*'n Goeie begrip het 'n halwe woord nodig
- as iemand gou verstaan wat jy wil sê, hoef jy nie so volledig te verduidelik nie.

*Die beste beentjie voorsit
- jou bes doen sodat jy 'n goeie indruk kan maak.

*Ou bene maak
- oud word.

*'n Berg van 'n molshoop maak / van 'n muggie 'n olifant maak
- iets groots maak van 'n nietigheid.

*Die berg het 'n muis gebaar
- dit waarna iemand so gretig uitgesien het, het toe op niks uitgeloop nie.

*Iemand goue berge beloof
- mooi beloftes maak.

*'n Saak bewimpel
- nie met die volle waarheid voor die dag kom nie, onaangenaamhede in verband met 'n saak probeer toesmeer.

*'n Nuwe blaadjie omslaan
- opnuut begin met die voorneme om beter te doen.

*Sonder om te blik of te bloos
- onbeskaamd.


*Dis laaste sien van die blikkantien
- jy sal hom nooit weer sien nie.

*Blind vir iemand se foute wees
- onwillig wees om iemand se tekortkominge raak te sien.

*Sy bloed kook
- hy is baie kwaad.

*Bloed uit 'n klip tap
- iets onmoontliks probeer doen.

*'n Bloutjie loop
- teleurgestel word in jou verwagtings.

*My blus is uit
- ek is baie moeg, uitgeput.

*Dis 'n geslote boek
- dis 'n geheim.

*Moenie die boer die kuns afvra nie
- moenie te veel uitvra omtrent iets as iemand nie die geheim wil verklap nie.

*'n Ou bok hou van jong blare
- ou mans hou van jong meisies.

*Bokveld toe gaan / lepel in die dak steek
- Sterf

*Dit gaan so tussen die boom en die bas
- dit gaan so-so.

*Hoë bome vang die meeste wind
- mense in belangrike posisies word die meeste gekritiseer.

*Boontjie kry sy loontjie
- 'n skelm spring sy straf nie vry nie.

*Iemand 'n brander stuur
- iemand 'n kwaai brief stuur.

*'n Broertjie dood aan iets hê
- iets haat.

*Dit gaan maar broekskeur
- dit gaan maar swaar.

*Jy sal dit nie kan bybring nie.
- jy sal dit nie kan bekostig nie.

*Bitter in die mond maak die hart gesond
- onaangename dinge is dikwels goed vir die ontwikkeling van die karakter

*Die elmboog gelig / deur die wingerd geloop / tiermelk gedrink / soen die mannetjie met die kurkhoed / kromhoutsap
- te veel gedrink

*Sy turf sit
- sy plan het misluk; hy kry dit nie reg nie.

*Jou twak is nat
- jy sal dit nie regkry nie, dit sal misluk

*Jy speel met die lepel wat Jan in die dak gesteek het
- jy speel met die dood.

Verlief wees
Hy loer daar ...

Hy gooi skaapogies ...

Hy soek perde of osse ...

Hy trap 'n voetpad ...

Hy wil pa sê ...

Hy hou hom wolhaar ...

Gaan ystervark slaan – Gaan vry.
 
Joe se gesegdes:(met toestemming lankal verleen dat 007 sy woorde mag 'leen' en uitstal)  :book1:

*Is daar nog so plekkie in die pot? - Ek wil ook iets passeer!

*Loop rank suintoe en dra jou bitter tjamas op jou eige ranke - bedoelende wyk van my af en loop braak jou gal daar eenkant!
 
*Hulle staan op die dak toe ek daar kom - In Namakwaland waar die wêreld plat is, was die dak die hoogste uitkyk plek vir baie. As jy dan lank gedraai het, het mense op die dak gaat staan om te kyk of jy nie al aankom nie. Kom jy dan was dit 'n geskel or jy so lank gedraai het. Vandaar as iemand kwaad is vir jou staan hy op die dak vir jou!)

*Klim van my tong af en praat jou eie prate! - Moenie op my tong kom staat en praat nie, bedoelende praat vir jouself! Moet nie my by jou skinnerstories betrek nie!

  :book1:  :notworthy:

 

PM:
Baie dankie vir die aandra Raaitjie.  Dit kan net 'n uitdaging wees om 'n storie of 'n gedig te skryf waarin ons al hierdie gesegdes gebruik.  Dit is mos groot pret.  :icon_biggrin:

Meraai vannie Baai:
Sjoe mater wat 'n gesukkel om by die forum vandag in te kom! Ek het nou net vir jou 'n paar lyntjies aangestuur met die poskoetsie :) Na ek jou kommentaar gelees het, het ek besluit om 'n gediggie te skryf met van die ou spreektaal maar wou dit graag in 'n nuwe struktuur doen wat ons nog nie hier na geloer het nie. Omdat die struktuur baie sterk staatmaak op wit spasie (ruimte) in 'n vers wys dit nie op al die programme nie. Ek gaan probeer om die gedig en riglyne te plaas. Of dit die spasies gaan aanwys weet ek nog nie, anders sal ek die gedig (aangepas met leestekens waar wit spasie sou voorkom) hier kom plaas  :icon_biggrin:

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version